
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Mentorskapopleiding: Maak ʼn verskil in iemand se lewe
Bill Gates is ʼn naam wat geen bekendstelling nodig het nie, maar sy sukses is deels te danke aan sy mentor. Gates het in 2015 in ʼn blog die volgende erkenning aan sy mentor gegee: “Warren isn’t just a great friend. He is also an amazing mentor. I have been learning from him since the day we met in 1991.”
Mentors verskaf leiding, advies, terugvoer en ondersteuning aan ʼn mentee. Hulle dien op verskillende maniere as rolmodel, onderwyser, berader, raadgewer, borg, advokaat en bondgenoot, afhangende van die spesifieke doelwitte wat met die mentee onderhandel is.
Solidariteit se hart is werk en dat jong mense goed moet kan werk. Dit is dus belangrik vir ons om ʼn geleentheid te bied waar mentors mentees onder hul vlerk kan neem en hulle gereed kan maak vir die werkplek.
Solidariteit-lede kan gratis toegang tot Solidariteit se Mentorskapopleiding-kursus verkry deur hier te klik. Hierdie opleiding sal jou as mentor bemagtig om uitnemend te wees. Mentors het ʼn passie om hul kennis en vaardighede met ʼn mentee te deel en om sodoende by te dra tot die ontwikkeling van die mentee sodat hy of sy sukses in hulle beroep kan behaal. Om ʼn goeie mentor te wees moet jy verstaan wat ʼn mentor is en wat die oorsprong van mentorskap is. Die kursus bemagtig jou ook met die voordele van mentorskap vir jou as mentor en vir die mentee. Die vestiging van gesonde vetrouensverhoudinge en verantwoordelikhede van die mentor word ook in die kursus vasgevang saam met die verskil tussen mentorskap en afrigting. As mentor kan jy jou afrigtingsvaardighede slyp om die beste mentor vir jou mentee te wees.
Cilleste van Dyk is een van die mentors wat deel van Solidariteit se mentorskaprogram vorm. Sy is ʼn joernalis en redakteur wat ʼn mentee met ʼn passie vir skryf onder haar vlerk geneem het. Volgens Cilleste was haar tyd saam met haar mentee vir haar ongelooflik lekker gewees. Sy is van mening dat die mentorskapprogram ʼn geleentheid bied vir mentors om hulle kennis te deel en ʼn pad saam met jong mense te stap.
Die waarde wat jy as mentor in ʼn mentee se lewe bydra kan ʼn jong mens se lewe verander en hul inspireer om nie net te werk nie, maar goed te werk. Indien jy nog nie jou profiel geskep het nie, klik hier of volg hierdie skakel om meer te leer oor hoe jy vir ʼn voortgesette leer-kursus kan inskryf.
Maak saam met Solidariteit ʼn verskil en skryf sommer vandag nog in vir hierdie kursus.