Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Mettler-saak afgehandel in hof; Solidariteit wag op uitspraak
Solidariteit het tydens vandag se hofverrigtinge in die Hooggeregshof in Pretoria aangevoer dat die besluit om Johann Mettler, stadsbestuurder van die Stad Tshwane, te skors, op verskeie gronde onwettig is.
Uitspraak sal Vrydag gelewer word.
Volgens Solidariteit is die stadsraad se besluit eerstens gebrekkig omdat sekere raadslede se stemme oor Mettler se skorsing onregmatig buite rekening gelaat is. Dit is gedoen ondanks die feit dat daar geen wet of munisipale bepaling bestaan wat die Speaker, rdl. Mncedi Ndzwanana, die bevoegdheid gee om hulle van hul stemreg te ontneem nie.
Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsafdeling, het Solidariteit se regspan in die hof beklemtoon dat stemreg in ʼn munisipale raad slegs beperk kan word indien die wet dit uitdruklik toelaat.
“Solidariteit het verder aangevoer dat die stadsraad nie aan die wetlike vereistes vir ʼn voorsorgskorsing voldoen het nie.
“Volgens die toepaslike regulasies moet ʼn raad oor konkrete redes beskik waarom ʼn senior bestuurder se voortgesette teenwoordigheid ʼn ondersoek, die munisipaliteit, persone of eiendom in gevaar kan stel.
“In Mettler se geval is geen feitelike gronde verstrek nie en is bloot die bewoording van die regulasies herhaal,” sê Van der Bijl.
Solidariteit voer aan dat só ʼn benadering ʼn werknemer van die geleentheid ontneem om sinvolle vertoë te rig voordat ʼn skorsing opgelê word.
Solidariteit se regspan het in sy betoog ook aangevoer dat die besluit in stryd is met die beginsel van wettigheid en nie aan die vereistes vir die uitoefening van openbare mag voldoen nie.
Volgens Van der Bijl is Solidariteit se standpunt dat die besluit nie rasioneel of regmatig geneem is nie en daarom behoort dit tersyde gestel te word.
“Solidariteit het die hof daarom versoek om Mettler hangende die finale hersiening in sy pos te herstel.
“Enige latere uitspraak sal min waarde hê indien die dissiplinêre proses reeds afgehandel is, terwyl die onherstelbare skade aan sy reputasie en die munisipaliteit se bestuur intussen reeds veroorsaak is.
“Ons is eerstens tevrede dat sy saak volledig voor die hof voorgelê is. Ons wag nou op die uitspraak en glo die hof sal geregtigheid laat geskied en die beginsels van behoorlike openbare bestuur bevestig,” sê Van der Bijl.