Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
22 uur gelede
solidariteit-wen-hofsaak-oor-tshwane-stadsbestuurder-se-onwettige-skorsing

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit wen hofsaak oor Tshwane-stadsbestuurder se onwettige skorsing

Johann Mettler, die geskorste stadsbestuurder van die Stad Tshwane, se skorsing was onwettig en hy moet sy pligte dadelik hervat.

Dit vorm deel van die uitspraak wat vandag deur die Hooggeregshof in Pretoria gelewer is. Die hof het nie net Mettler se skorsing nie, maar ook die aanstelling van ʼn waarnemende stadsbestuurder in sy plek tersyde gestel. Sien uitspraak hier.

Solidariteit het sy lid, Mettler, in die saak verteenwoordig en beskryf die uitspraak as een wat veel verder strek as die lot van ʼn enkele staatsamptenaar. Solidariteit het die hof genader omdat hy van mening was dat die stadsraad se besluit op verskeie gronde onwettig was.

Die regspan het onder meer aangevoer dat die stemme van raadslede onregmatig buite rekening gelaat is toe daar oor Mettler se skorsing gestem is, en dat daar nie behoorlik aan die vereistes vir ʼn skorsing voldoen is nie.

Die hofaansoek het verder beklemtoon dat die Speaker, rdl. Mncedi Ndzwanana, nie oor ʼn regsgrondslag beskik het om stemme ongeldig te verklaar nie en dat geen konkrete feite aangevoer is om Mettler se onmiddellike verwydering uit sy amp te regverdig nie.

“Ons is uiters verheug oor die uitspraak. Dit herstel nie net mnr. Mettler se reputasie nie, maar stuur ook ʼn duidelike boodskap aan politieke partye in magsposisies dat Solidariteit nie bloot as ʼn toeskouer op die kantlyn sal sit terwyl bekwame en bevoegde amptenare vir goedkoop politieke punte opgeoffer word nie.

“Wanneer ons senior amptenaarlede aan dissiplinêre optrede onderwerp word, moet dit binne die raamwerk van die wet en demokratiese prosesse geskied. Indien dit nie gebeur nie, sal die oortreders tot verantwoording geroep word,” sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel