Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit gaan intree vir lede by Media24 met afleggings wat dreig
Redaksies en werknemers van groot Media24-handelsmerke soos Huisgenoot, Sarie, Netwerk24 en News24 kom almal onder skoot te midde van beplande herstrukturering wat die mediamaatskappy aangekondig het.
Solidariteit bevestig dat Media24 formele artikel 189A-kennisgewings uitgereik het oor ’n voorgestelde herstrukturering by hierdie titels.
Gevolglik het Solidariteit ʼn konsultasieproses begin om sy lede wat hier werksaam is se belange te beskerm.
Dit sal insluit eise aan die werkgewer om sy besigheidsrasionaal en voorgestelde strukture behoorlik te ondersoek om hierdie drastiese stappe te voorkom.
Dié proses raak ’n beduidende aantal rolle binne veral die sport- en leefstylredaksies van News24 en Netwerk24, en ook personeel by bekende publikasies soos Huisgenoot, Sarie, Kuier, Tuis/Home, Weg!/GO!, Wegry & Sleep/go! Drive & Camp, DRUM, True Love en YOU.
In totaal kan tot 126 poste, oftewel sowat 10% van die maatskappy se totale aantal poste, geraak word.
In sy kennisgewing stel Media24 ’n kleiner, gekonsolideerde bedryfsmodel vir die betrokke afdelings voor wat tot die vermindering van poste en moontlike afleggings kan lei. Die voorgestelde strukture is egter nog nie finaal nie en bly onderhewig aan die konsultasieproses.
“Die moontlike verlies aan redaksionele kundigheid by gevestigde publikasies soos byvoorbeeld Huisgenoot en Sarie, en dié binne veral die sport- en leefstylredaksies van bekende titels, is diep kommerwekkend.
“Solidariteit sal alle redelike alternatiewe ondersoek om afleggings te voorkom of sover moontlik te beperk,” sê Johan Roos, arbeidsverhoudinge-organiseerder van Solidariteit.
As deel van die proses sal Media24 as werkgewer moet bewys dat alle moontlike alternatiewe om in sy werknemers se beste belang op te tree, ondersoek is.
Solidariteit is die grootste vakbond by Media24.