
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Minister Macpherson se besoek aan vervalle SAPD-hoofkantoor gee hoop – Solidariteit
Solidariteit verwelkom die voorneme van die nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson, om agter die kap van die byl te kom watdie verlate toestand van die hoofkantoorgebou van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Pretoria betref.
Macpherson en die burgemeester van Pretoria, Cilliers Brink, het die Telkom Towers-gebou wat sowat agt jaar gelede vir nagenoeg R900 miljoen deur die Departement van Openbare Werke gekoop en opgeknap is, vandag besoek waarna die media toegespreek is.
Verteenwoordigers van Solidariteit was ook daar.
Hierdie groot gebou moes ses maande gelede inderhaas ontruim word ná Solidariteit op klagtes van polisielede gereageer het, en gevolglik ’n inspeksie deurdie Departement van Indiensneming en Arbeid geëis het.
Die gebou is toe as ongeskik vir menslike gebruik verklaar.
Volgens Johan Böning, afdelingshoof vir beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit, staan die gebou sedertdien grootliks in ongebruik en word polisielede nou verspreid in ander geboue gehuisves,met sommiges wat glo geen kantoorruimte het nie en dus moet tuisbly.
Minister Macpherson het aan die media gesê hy gaan vir ’n ondersoek vra, en hy glo daar moet gevra word of dit destyds hoegenaamd nodig was om die perseel vir so ’n groot bedrag aan te koop.

Böning sê hy is beïndruk dat minister Macpherson so kort ná sy aanstelling in dié belangrike portefeulje tyd kon vind om die SAPD-gebou te besoek.
“Hopelik is die nuwe minister hier om verandering te bring. Soos hy, wil ons ook weet watter omgerymdhedealles hier plaasgevind het en wie vir dit alles verantwoordelik gehou kan word.
“Hier by Telkom Towers is op die oog af bitter min, indien enige, opknapping gedoen sedert die gebou in Februarie ontruim is. Ons as die publiek sal mos net beter diens van polisielede kan verwag indien hulle ook voel hulle eie werkplek is veilig en netjies,” sê Böning.
Solidariteit dra verder kennis van nóg SAPD-persele wat erg verwaarloos is, en ons het die minister gevra om ook daaraan aandag te skenk.
