Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Minister moet antwoord oor verbode liefde op belastingbetaler se rekening
Deur Kyla-Ann du Toit
Terwyl Suid-Afrika se maatskaplike werkers snags wakker lê oor hoë werkslading, lae vergoeding en ʼn gebrek aan hulpbronne, blyk dit dat die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) ander prioriteite het.
Volgens onlangse berigte is Sisisi Tolashe (65), minister van maatskaplike ontwikkeling, na bewering in ʼn romantiese verhouding met haar “spesiale raadgewer”, Ngwako Kgatla (32). En soos elke goeie liefdesverhaal gaan hierdie een hand aan hand met salarisstrokies en ʼn dissiplinêre verhoor wat nooit plaasgevind het nie.
Kgatla het glo vir maande lank twee staatsalarisse per maand ontvang: een van die departement van vroue, jeug en persone met gestremdhede (waarvan Tolashe as adjunkminister gedien het), en nog een van Northwest Transport Investments (NTI). Dít ten spyte van duidelike wetlike bepalings wat ʼn staatsamptenaar verbied om twee betaalde poste tegelyk te beklee.
ʼn Kennisgewing van ʼn dissiplinêre verhoor is glo ook uitgereik, maar dit het tot niks gelei nie. Geen optrede. Geen aanspreeklikheid. Slegs ʼn ekstra maandelikse salaris van R47 000. Inteendeel, toe Tolashe bevorder is tot minister van maatskaplike ontwikkeling, het sy hom sommer as haar spesiale raadgewer saamgebring, teen ʼn jaarlikse salaris van R1,4 miljoen.
Die minister se oordeel oor aanstellings is al voorheen bevraagteken. Tolashe is onlangs op die vingers getik oor die aanstelling van Lesedi Mabiletja, ʼn 22-jarige wat glo geen toepaslike kwalifikasies vir die pos gehad het nie, as stafhoof. Mabiletja is in September 2024 teen ʼn jaarlikse salaris van meer as R1,4 miljoen aangestel. Voorheen was Mabiletja bloot ʼn persoonlike assistent in die minister se kantoor en volgens berigte is sy ook Kgatla se susterskind.
Terwyl maatskaplike werkers in die veld sukkel om genoeg basiese hulpbronne bymekaar te skraap en ondersteuning te kry, sit ʼn raadgewer glo knus in die minister se binnekring (en arms) met ʼn dubbele inkomste en geen gevolge nie.
Die bewerings oor Tolashe en Kgatla se verhouding word ondersteun deur uitgelekte WhatsApp-boodskappe wat blykbaar tussen hulle uitgeruil is. Vir die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is hierdie politieke liefdesdrama maar net nóg ʼn verhaal van verlore integriteit in ʼn sektor wat juis etiek en diensbaarheid behoort te beliggaam.
“Die DMO is die afgelope paar jaar gereeld onder die vergrootglas en hierdie is maar net nóg ʼn geval,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.
“Hierdie departement is veronderstel om na die mees weerlose mense in ons land om te sien, en die maatskaplike sektor in Suid-Afrika trek werklik swaar.
“Op hierdie stadium sukkel ons selfs om iets so eenvoudig soos antwoorde te kry wanneer ons vrae vra – vrae waarop ons geregtig is om antwoorde te ontvang. Tog kies hulle om hulself eerder met sake te bemoei soos geheime verhoudings en onverdiende salarisse.”
Smit sê die departement kan eenvoudig nie nog negatiewe publisiteit bekostig nie.
“Hulle is besig om die algemene publiek sowel as diegene wat aan hulle rapporteer se vertroue te skend,” sê sy. “Wanneer jou persoonlike doen en late jou etiese kode en verantwoordelikhede begin beïnvloed, moet ʼn mens begin vrae vra.”
Kritici sal kan uitwys hoe politieke lojaliteit ook in hierdie geval belangriker as dienslewering aan gewone mense blyk te wees. Wanneer ministers die beskerming van vriende en geliefdes prioritiseer bo die nakoming van hul pligte (waarvoor hulle betaal word), word ook die kernwaardes waarop spesifiek maatskaplike ontwikkeling rus, ondermyn.
Stories soos hierdie ruk aan die kern van die beroep. Terwyl maatskaplike werkers elke dag probeer om hoop vir gemeenskappe te skep, word die stelsel ondermyn deur individue wat hul mag misbruik.
As verweer mag ʼn minister natuurlik noem dat sy of hy op ʼn private en persoonlike lewe geregtig is. Dit word egter die groter publiek se saak wanneer daardie lewenswyse met belastingbetalers se geld, professionele standaarde en die geloofwaardigheid van die maatskaplike sektor begin inmeng.