loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
van-oorleef-tot-floreer-die-anatomie-van-uitbranding-by-maatskaplike-werkers

Foto Krediet: OkayDeer

Van oorleef tot floreer: Die anatomie van uitbranding by maatskaplike werkers

Deur Kyla-Ann du Toit

Uitbranding onder maatskaplike werkers is lankal nie meer ʼn uitsondering nie – dit is ʼn epidemie. Tog word dit dikwels verkeerd verstaan as bloot “deernismoegheid” of ʼn persoonlike tekortkoming – asof die probleem by mense lê wat “te veel omgee”.

Volgens Renata Haley, bedryfsmaatskaplikewerker in die Suid-Afrikaanse Weermag, is uitbranding egter veel dieper: dit is die gevolg van ʼn chroniese wanbalans tussen die eise van die werk en die hulpbronne wat beskikbaar is om daardie eise te hanteer.

ʼn Stelsel wat jou “oorverhit”

“Om uitbranding as ʼn persoonlike tekortkoming te sien, is nie net onakkuraat nie, maar dit laat die probleem voortduur,” verduidelik Haley. “Dink aan ʼn maatskaplike werker as ʼn voertuig. Die eise en verantwoordelikhede is die brandstof wat verbruik word, en die hulpbronne – soos tyd, ondersteuning en opleiding – is die olie en water wat die enjin glad laat loop en oorverhitting voorkom. Wanneer jy die eise van ʼn V8-enjin het, maar die hulpbronne van ʼn motorfiets, is oorverhitting onvermydelik.”

Uitbranding is dus nie ʼn enkele “moeilike maand” nie; dit is ʼn toestand van voortdurende ongelykheid tussen wat van maatskaplike werkers verwag word en wat hulle tot hul beskikking het. Volgens Haley lei hierdie wanbalans tot drie kernsimptome: uitputting, sinisme en ʼn gevoel van onbevoegdheid.

Die ses wanbalanse van uitbranding

Volgens die navorser Christina Maslach vind hierdie wanbalanse in ses kernareas plaas, waarvan almal vir Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers goed bekend is:

1. Werksoorlading: Onhanteerbare gevalle en konstante tydsdruk.

2. Gebrek aan beheer: Min inspraak oor werksure, prosesse of prioriteite.

3. Onvoldoende beloning: Nie net finansieel nie, maar ook ʼn tekort aan erkenning.

4. Gebrek aan gemeenskap: Toksiese dinamika, nie-ondersteunende kollegas of ʼn gevoel van isolasie.

5. Afwesigheid van billikheid: Ongelyke behandeling, vooroordele of onduidelike verwagtinge.

6. Waarde-konflik: Werk in stryd met jou persoonlike of professionele waardes soos wanneer jy weet wat ʼn gesin regtig nodig het, maar die stelsel laat dit eenvoudig nie toe nie.

“Hierdie laaste een – waarde-konflik – is vernietigend,” sê Haley. “As jy gedwing word om in stryd met jou eie professionele waardes op te tree, veroorsaak dit ʼn moraalbesering – die sielkundige pyn wat ontstaan wanneer jy nie in ooreenstemming met jou etiese kode kan optree nie. Dit eet aan jou siel.”

Stel grense sonder skuld

Vir baie maatskaplike werkers voel dit byna onmoontlik om gesonde grense te stel sonder om skuldig te voel. Haley verduidelik: dat grense jou nie ʼn slegte maatskaplike werker maak nie, maar ʼn volhoubare een. “ʼn Uitgebrande maatskaplike werker kan niemand help nie. ʼn Maatskaplike werker wat rus, daag met empatie en fokus op.”

Sy stel voor dat grense weer beraam word as ʼn daad van professionele integriteit: “Wanneer jy sê ‘Ek sal môreoggend met hierdie saak begin sodat ek dit deeglik kan hanteer’, wys jy nie onwilligheid nie – jy wys professionele standaarde.” Klein beginsels, soos om nie e-posse na werk te lees nie of jou middagete regtig te neem, bou die moed om groter grense te stel.

Die Suid-Afrikaanse werklikheid

Haley beskryf die plaaslike konteks as “ʼn perfekte storm” vir uitbranding. Volgens haar plaas dit die klem op individuele veerkragtigheid terwyl die sistemiese druk onveranderd bly.  “Die stelsel verwag dat individue sterker moet swem terwyl hulle aan sakke sement vasgebind is. Moraalbesering is genormaliseer en sekondêre trauma – die konstante blootstelling aan geweld, armoede en misbruik – is endemies.”

Sy sê die probleem kan nie opgelos word deur net selfsorgboodskappe te herhaal nie. “Jy kan nie jou pad tot welstand met ‘self versorging’ regstel as die stelsel jou uitput nie. ʼn Persoon kan nie ʼn land alleen dra nie. Hierdie onvermoë lei tot ʼn gevoel van hopeloosheid wat ʼn direkte pad na uitbranding is.”

ʼn Boodskap van hoop

Vir maatskaplike werkers wat op die rand van uitbranding staan, is Haley se boodskap duidelik: “Wat jy voel, is nie ʼn mislukking nie; dit is ʼn gevolg. Jy is nie alleen nie! Herbesoek die ‘waarom’ agter jou werk – daardie een kind wat veilig is; daardie gesin wat jy kon help. Fokus op die mikro-prestasies. En onthou: om te rus is nie rebellie nie; dit is herstel.”

Aan bestuurders rig sy ʼn ander boodskap: “Julle rol is nie net om werk toe te wys nie; dit is om omgewingsewenaars te wees. Julle is die brug tussen die stelsel en die werker. Erken die werkslas, beskerm julle span en maak deur toesig ʼn veilige hawe vir veerkragtigheid. Moenie net sê mense mág pouses vat nie – wys dit deur dit sélf te doen.”

Herdefinieer die heldhaftigheid

Haley waarsku teen die “heldhaftigheidsnarratief” wat dikwels in die beroep leef. “Ons moet ophou dink die beste maatskaplike werker is dié wat die meeste opoffer. Dit is ʼn giftige mite. Die welstand van maatskaplike werkers is nie ʼn sagte luukse nie, maar ʼn strategiese noodsaaklikheid. As ons nie die mense wat die maatskaplike vangnet onderhou self versorg nie, sal die hele net skeur.”

Haley beveel aan dat daar eerder in die welstand van maatskaplike werkers belê moet, want dan sal daar in die welstand van ons hele samelewing belê word. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk beaam hierdie boodskap en glo dat maatskaplike werkers die stil pilare van gemeenskapsherstel is – en dat om húlle te ondersteun, beteken om die hele samelewing te versterk.

Deur opleiding, ondersteuning en beskerming skep Solidariteit ʼn ruimte waar maatskaplike werkers nie net hul werk oorleef nie, maar weer met hoop en betekenis kan floreer. Word vandag nog deel van jou beroepstuiste en word beskerm!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel