Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Uitbranding onder skoliere: Bou jou kind se veerkragtigheid
Deur Karen Waldeck
Die laaste jare van skool is allesbehalwe kinderspeletjies. Dit is ʼn intense, hoëdruk-omgewing waar prestasie, toekomskeuses en sosiale verwagtinge voortdurend swaar op kinders se skouers rus. As ouer sien jy dalk hoe jou kind, wat eens vol lewenslus was, nou uitgeput, moedeloos en sonder dryfkrag is.
Ons dink dikwels uitbranding kom net in die korporatiewe wêreld voor, maar dit is nie waar nie – dit is ʼn groeiende werklikheid onder skoliere ook. Die verskil is net: jy leef saam met jou kind onder dieselfde dak, en jy het die geleentheid om ʼn verskil te maak.
Is dit net stres, of is dit uitbranding? Ken die verskil.
Almal ervaar stres van tyd tot tyd. Uitbranding ontstaan egter wanneer spanning oor ʼn lang tydperk voortduur sonder genoegsame herstel. Dit is wanneer jou kind se emosionele en fisiese “batterye” heeltemal leegloop, en selfs eenvoudige take, soos ʼn wiskundevraag of om ʼn skoolsak te pak, voel soos ʼn berg wat voor hulle lê.
Let op na hierdie simptome:
- • Emosionele uitputting: Aanhoudende moegheid, prikkelbaarheid, irritasie en ʼn gevoel van leegheid.
- • Verandering in prestasie: ʼn Merkbare afname in akademiese punte, konsentrasieprobleme en ʼn verlies aan sorgvuldigheid.
- • Sosiale onttrekking: Om byeenkomste te vermy, meer tyd alleen te wil deurbring en van die gesin te onttrek.
- • Ander klagtes: Gereelde hoof- of maagpyn, spierpyn, asook veranderinge in slaappatrone of eetgewoontes.
As jy hierdie tekens raaksien, beteken dit nie jou kind is lui nie. Dit beteken hulle is oorlaai en het ondersteuning nodig.
Hoe jy as ouer prakties kan help (sonder om die druk te verhoog)
Ons eerste instink is soms om te sê: “Jy sal jou sokkies moet begin optrek.” Maar wat ʼn uitgeputte skolier werklik nodig het, is ʼn veilige hawe en ondersteuning van ʼn ouer.
- • Wees die anker, nie die storm nie. Skep ʼn ruimte waar jou kind eerlik kan praat sonder vrees vir oordeel. Begin met: “Ek sien jy sukkel; kom ons praat daaroor”, in plaas van: “Jy moet harder probeer.” Soms is om stil te luister die kragtigste vorm van ondersteuning.
- • Help om realistiese verwagtinge te stel. Is ʼn 90%-gemiddeld regtig haalbaar, of skep dit onnodige druk? Gesels oor wat “goed genoeg” beteken, en vier inspanning – nie net resultate nie.
- • Plaas gesondheid bo prestasie. Moedig rus, buitelug, beweging en ʼn gebalanseerde eetpatroon aan. Genoeg slaap is nie ʼn luukse nie – dit is noodsaaklik vir ʼn brein wat daagliks nuwe inligting moet verwerk.
- • Praat oor die waarde van ʼn plan. Verdeel groot projekte en studeersessies in kleiner, hanteerbare take. Só verminder jy die gevoel van oorweldiging en bou jy selfvertroue met elke voltooide stap.
Jy hoef nie alleen hierdie stryd te stry nie: soek professionele hulp
Soms is ouerlike ondersteuning nie genoeg nie. Dit is baie belangrik om te onthou dat jy as ouer nie misluk het nie. In ʼn besige wêreld raak uitbranding al hoe meer algemeen. Indien jou kind steeds sukkel ondanks julle pogings, is dit wys om professionele hulp in te roep. Praat met ʼn berader of sielkundige wat in kinder- en jeugterapie spesialiseer. Hulle bied ʼn neutrale, veilige ruimte waarin kinders hul emosies kan verken en verwerk. Moenie bang wees om hierdie stap te neem nie; dit is ʼn teken van krag, nie swakheid nie.
Uitbranding herinner ons daaraan dat kinders ʼn ondersteuningsnetwerk nodig het wat verder strek as net die huis. Solidariteit bied ʼn omvattende, gratis aanbod vir skoliere: My Hoërskoolpad. Dié platform ondersteun leerders deur elke graad met raad, rigting en praktiese hulpmiddels. Het jy reeds ʼn gratis profiel geskep en hierdie hulpbron ontgin? Indien nie – doen dit hier.
Onthou: Om jou kind vandag te help om druk te hanteer, is om hulle voor te berei vir môre se sukses. Moenie wag om ondersteuning te soek nie – eerder te vroeg as te laat.