loading
avatar
Artikels
2 weke gelede
waarom-voel-dit-of-ek-altyd-beskikbaar-moet-wees

Foto Krediet: Okay Deer

Waarom voel dit of ek altyd beskikbaar moet wees?

Deur Reon Janse van Rensburg

In die moderne werkplek is dit al hoe meer algemeen dat werknemers voel hulle moet altyd beskikbaar wees. Dit is dikwels ʼn gevoel wat ons laat terugverlang na die dae vóór internet en selfone, toe ons nie altyd binne bereik was nie. Om voortdurend beskikbaar te wees, kan egter ʼn sielkundige tol op individue hê, wat tot verhoogde spanning, angs en selfs uitbranding lei. Dit is belangrik om die oorsake van hierdie gevoel te verstaan en praktiese strategieë te implementeer om gesonde grense te stel.

Die kort antwoord is dat jy nie altyd beskikbaar hóéf te wees nie, en daar is deesdae selfs lande wat wetgewing geïmplementeer het om die probleem die hoof te bied. Verskeie lande regoor die wêreld het wetgewing ingestel om die reg om ná werksure van werk af te skakel, uitdruklik te erken en beskerm. In lande waar hierdie reg is geïmplementeer, word dit egter op verskillende maniere toegepas en afgedwing. Sommige lande kies om dit binne bestaande wetlike raamwerke, wat werksure en verpligte rusperiodes reguleer, te hanteer, terwyl ander unieke wetlike strategieë volg om werknemers se regte beter te beskerm.

Die sielkundige effek van voortdurend beskikbaar te wees

Die opkoms van tegnologie het die werkomgewing verander. E-posse, apps en ander kommunikasieplatforms het dit maklik gemaak om altyd met mense in verbinding te wees. Hierdie vinnige toegang tot werk skep die illusie dat jy altyd moet reageer, ongeag die tyd of plek. Wanneer werknemers glo dat hulle altyd beskikbaar moet wees, kan dit lei tot ʼn permanente toestand van waaksaamheid. Hierdie situasie kan ʼn gevoel van druk en eise skep wat werk en jou privaatheid ondermyn.

Die sielkundige gevolge sluit die volgende in:

1. Verhoogde spanning

Om voortdurend aan werkverwagtinge te voldoen, kan jou spanning verhoog. Wanneer jy nie die ruimte het om te ontspan nie, kan dit jou produktiwiteit en algehele welstand benadeel.

2. Slaapprobleme

Die gedagte dat jy altyd bereikbaar moet wees, kan jou slaappatrone ontwrig. Dit is moeilik om te ontspan as jy voortdurend aan werk dink.

3. Verlaagde produktiwiteit

Wanneer jy nie grense stel nie, kan jy meer tyd aan werk bestee. Dit lei egter nie noodwendig tot hoër produktiwiteit nie. Mense is geneig om minder doeltreffend in hul werk te wees wanneer hulle oorweldig voel.

4. Uitbranding

Langdurige blootstelling aan konstante beskikbaarheid kan tot uitbranding lei, wat ʼn ernstige toestand is wat werkvermoë en emosionele welstand nadelig beïnvloed.

Hoe om grense te stel

Dit is noodsaaklik om gesonde grense te stel om die negatiewe gevolge van konstante beskikbaarheid te vermy. Hier is praktiese wenke om jou te help om jou tyd en energie beter te bestuur:

1. Stel ʼn werktyd in

Bepaal spesifieke tye wanneer jy aan werk sal spandeer en wanneer jy ontspanning of persoonlike aktiwiteite sal hê. Dit help om ʼn duidelike onderskeid tussen werk en ontspanning te skep.

2. Skakel kennisgewings af

Verminder die aantal kennisgewings van apps op jou foon. Deur jou kennisgewings af te skakel, verminder jy die kans dat jy oorweldig voel deur die konstante herinneringe aan werk. Sit jou selfoon neer en leef in die oomblik saam met jou gesin.

3. Leer om nee te sê

Dit is belangrik om te weet wanneer om nee te sê vir ekstra take of eise wat jou werkslading kan verhoog. Dit kan help om jou tyd en energie te bespaar.

4. Neem behoorlike pouses

Maak tyd vir pouses gedurende jou werkdag. Dit kan help om jou gedagtes te hergroepeer en jou produktiwiteit te verhoog. Dit beteken dus dat jy nie deur jou etenstyd moet werk nie, maar eerder iets anders moet doen wat jou aandag aftrek.

5. Kommunikeer jou grense

Stel jou kollegas en bestuurders in kennis wanneer jy beskikbaar is en wanneer jy nie is nie. Deur jou grense te kommunikeer, help jy ander om jou tyd te respekteer. Wees streng, maar kommunikeer dit op ʼn professionele wyse.

Deur doelbewus grense te stel, kan jy die druk van konstante beskikbaarheid verlig en jou geestelike welstand verbeter. Dit is tyd om te besef dat jy nie altyd beskikbaar hoef te wees nie en dat dit heeltemal aanvaarbaar is om jouself voorop te stel.

Welstand speel ʼn belangrike rol in beide jou loopbaan en persoonlike lewe – dit gaan oor ʼn balans tussen fisieke gesondheid, emosionele veerkragtigheid en loopbaantevredenheid. Solidariteit  bied waardevolle ondersteuning om hierdie balans te bereik deur jou toegang te gee tot professionele raad en praktiese hulpmiddels wat spesifiek op jou beroep gerig is. Of dit nou gaan oor regsadvies, mentorskapgeleenthede of hulp met die verbetering van werk-lewe-balans, Solidariteit help jou om uitdagings op ʼn gesonde manier te hanteer en selfvertroue in jou werkplek te bou. Só stel Solidariteit jou in staat om jou doelwitte met fokus en balans na te streef, terwyl jy ʼn vervullende en gesonde persoonlike lewe lei.

Skep vandag jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van ְʼn werksgemeenskap wat die waarde van rus verstaan! Klik hier om te registreer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel