loading
avatar
Artikels
4 uur gelede
minister-se-waninligting-uitsprake-beledig-suid-afrika

Foto Krediet: Gemini

Minister se ‘waninligting’-uitsprake beledig Suid-Afrika

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit se lastersaak teen die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, is meer as net ʼn gewone hofsaak.

Hierdie regsaksie is van kardinale belang – nie net vir Solidariteit nie, maar vir elke Suid-Afrikaner wat aanspraak maak op vryheid van spraak, wat regmatige kritiek teen die regering insluit.

’n Hofdatum vir die saak kan moontlik in die laaste kwartaal van 2026 toegestaan word, waarop die saak in die Hooggeregshof aangehoor sal word.

Die saak spruit voort uit minister Ntshavheni se uitlatings wat sy in Maart 2025 gemaak het, waarin sy beweer het dat Solidariteit waninligting oor plaasmoorde en volksmoord in die VSA versprei het. Solidariteit ontken ten sterkste dat hy hierdie beweringe in die VSA gemaak het.

Die narratief wat Ntshavheni dryf het ten doel om die ANC vry te spreek van sy leeueaandeel in die verbrokkelende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA, en nou word Solidariteit as sondebok voorgehou. Solidariteit hou vol dat sy skakeling met die VSA ten alle tye in belang van Suid-Afrika en sy mense is.

Daarom móét Solidariteit in belang van die waarheid intree.

Met dié lastersaak eis Solidariteit ’n onvoorwaardelike verskoning van die minister, ’n skulderkenning en R500 000 skadevergoeding, wat, indien toegeken, aan Solidariteit Helpende Hand geskenk sal word.

’n Gevaarlike narratief wat verder strek as Solidariteit

Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die impak van die minister se uitsprake veel wyer as net die organisasie self.

“Die minister belaster nie net Solidariteit nie. Deur hierdie bewerings word ons, ons lede, en Afrikaners kollektief verdag gemaak, asof hulle doelbewus waninligting versprei en die land se belange skaad,” sê Van der Bijl.

Hy benadruk dat die saak oor meer as reputasieskade handel.

“Dit raak kernbeginsels aan soos vryheid van spraak, en die reg van burgers en organisasies om die regering te kritiseer sonder vrees vir sensuur of intimidasie. Niks en niemand gee die regering die reg om te besluit wie wát mag sê nie, en ons sal nie voorgeskryf word in ons strewe na ’n meer regverdige en beter samelewing vir ons lede nie. As die staat ons minder rede gegee het om hom te kritiseer, het ons dit dan ook minder gedoen. Maar ʼn uiters onverantwoordelike, onbevoegde en korrupte staat, maak dit dag na dag makliker om hom te kritiseer.”

Geen bewyse van sogenaamde waninligting

Ten spyte van die erns van die beskuldigings, kon Ntshavheni of die regering tot dusver geen enkele konkrete voorbeeld verskaf van sogenaamde waninligting wat deur Solidariteit versprei is nie.

Vir Solidariteit is die hofsaak teen Ntshavheni dus nie bloot ’n reaksie op onregverdige uitsprake nie, maar ’n noodsaaklike stap om te verseker dat kritiek nie as misdaad bestempel word nie, en dat geen regering die reg het om waarheid, debat en openbare gesprek te polisieer nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel