Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-doen-beroep-op-amerikaanse-kongres-oor-langtermyn-agoa-wet

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit doen beroep op Amerikaanse kongres oor langtermyn-Agoa-wet

Solidariteit doen ʼn dringende beroep op die Amerikaanse kongres om die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) oor die langer termyn te verleng om ekonomiese sekerheid vir werkers en ondernemings in Suid-Afrika te verseker.

Agoa het op 30 September 2025 verval nadat die Amerikaanse kongres dit nie betyds verleng het nie. Die wet is oorspronklik in Mei 2000 aanvaar en het dit vir kwalifiserende lande in Afrika suid van die Sahara moontlik gemaak om sowat 1 800 produkte tariefvry na die VSA uit te voer.

Die wet was aanvanklik vir 15 jaar geldig en is in 2015 met nóg 10 jaar verleng.

Vroeër vanjaar het die Huis van Verteenwoordigers ʼn wetsontwerp goedgekeur wat die Agoa-ooreenkoms met drie jaar sou verleng. Dié wetsontwerp moet egter nog deur die senaat bespreek word.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, het die senaat hierdie week, as deel van ʼn enorme omnibus-begrotingswet, besluit om Agoa tot 31 Desember 2026 te verleng, en dit terugwerkend vanaf 30 September 2025 van krag te maak.

Hierdie stap word deur Solidariteit verwelkom, maar dit bied uiters beperkte sekerheid.

“ʼn Verlenging tot einde 2026 is beter as niks, maar dit is veels te kort om die soort beleggings en langtermynproduksiebesluite te regverdig wat werkskepping in Suid-Afrika moontlik sal maak,” sê Kleynhans.

Soos sake staan, moet die kwessie van ʼn langer verlenging – hetsy die voorgestelde drie jaar of enige ander tydperk – steeds deur die senaat bespreek word. Daarna moet dit in ʼn nuwe versoende wetsontwerp deur albei huise van die kongres hanteer word.

Volgens Kleynhans sal Solidariteit reeds vandag met ʼn proses begin om steun binne die Amerikaanse kongres te werf vir ʼn beduidende langtermynverlenging van Agoa en die dringende hantering van so ʼn verlengingswetsontwerp.

“Die huidige Agoa-wet bepaal steeds dat die Amerikaanse president jaarliks kan besluit watter lande vir die program kwalifiseer. Die Withuis het dus die volle reg om ʼn nuwe lys van begunstigde lande saam te stel.

“Vir nou is die mees waarskynlike scenario egter dat die 2025-lys van lande behou sal word, en dat – indien die wet weer verleng word – ʼn nuwe lys eers vanaf 1 Januarie 2027 in werking sal tree,” sê Kleynhans.

Hy beklemtoon egter die omvang van die onsekerheid wat steeds oor tariewe heers. Dit geld ook vir tariewe op uitvoere uit Afrika, terwyl die wêreld nog wag op die Amerikaanse hooggeregshof se uitspraak oor die grondwetlikheid van hierdie tariewe.

Solidariteit se toetrede is egter ten bate van die werkers van Suid-Afrika.

“Werkers mag nie die prys betaal vir geopolitieke spanning of wetgewende vertraging nie. Agoa is nie ʼn guns aan regerings nie – dit is ʼn belegging in mense, werk en stabiliteit. Sonder langtermynsekerheid word duisende werksgeleenthede onnodig in gevaar gestel,” sê Kleynhans.

Solidariteit doen daarom ʼn beroep op die Amerikaanse kongres om spoedig en verantwoordelik op te tree deur Agoa te verleng en sodoende werkskepping, handel en ekonomiese stabiliteit in Suider-Afrika te beskerm.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel