loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
vrae-in-mediabedryf-oor-said-se-fokus-op-digitale-inhoudskeppers

Foto Krediet: Okay Deer

Vrae in mediabedryf oor SAID se fokus op digitale inhoudskeppers

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se onlangse uitsprake oor die strenger belasting van digitale inhoudskeppers en sosialemediabeïnvloeders het weer ʼn gesprek oopgemaak wat reeds lank in die mediabedryf broei.

Hoewel die fokus op belasting berus, strek dié debat veel wyer. SAID se planne om digitale inhoudskeppers strenger te belas, bring fundamentele vrae na vore oor die waarde van professionele inhoud, die rol van digitale inhoudskeppers en tradisionele media, asook die volhoubaarheid van ʼn bedryf wat vinnig verander.

Volgens Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, funksioneer rolspelers daagliks binne werklikhede, uitdagings en geleenthede van ʼn vinnig veranderende bedryf. Sy meen die huidige belastingdebat is ʼn simptoom van groter strukturele verskuiwings wat die medialandskap herskryf.

“Hierdie ontwikkeling is ʼn duidelike aanduiding van ʼn bedryf wat vinniger verander as wat beleid, regulasies en selfs gevestigde werkmodelle soms kan byhou,” sê Ferreira. Sy verduidelik dat die digitale ekonomie nuwe loopbane, inkomstegeleenthede en entrepreneurskap ontsluit het, veral vir jong mense en onafhanklike skeppers.

Terselfdertyd waarsku sy dat hierdie verskuiwing toenemende druk plaas op tradisionele media, joernalistiek en professionele inhoudskepping, wat reeds onder finansiële en strukturele spanning verkeer.

Wat professionele inhoudskeppers en sosialemediabeïnvloeders betref, sien Ferreira uitdagings sowel as geleenthede. Volgens haar beteken hierdie ontwikkeling dat inhoudskeppers toenemend as volwaardige ekonomiese rolspelers erken word, maar dat dit ook groter professionele en finansiële verantwoordelikhede meebring.

“Deursigtigheid, professionele praktyke en finansiële aanspreeklikheid raak al hoe belangriker in hierdie bedryf. Dit kan vir sommige intimiderend wees, maar dit skep ook die geleentheid vir ʼn meer volhoubare en gerespekteerde bedryf,” sê sy.

Hoewel tradisionele media tans onder druk verkeer, glo Ferreira dat hul rol steeds noodsaaklik is.

“Tradisionele media beskik oor redaksionele integriteit, geloofwaardigheid en kundigheid. Die vraag is nie of hierdie vaardighede nog relevant is nie, maar hoe dit in ʼn gefragmenteerde, digitale omgewing nuut ingespan kan word.”

Sy glo daar is ruimte vir groter samewerking tussen digitale inhoudskeppers en tradisionele media, en dat selfregulering duideliker riglyne en oop gesprekke oor vergoeding en standaarde kan help om die bedryf meer volhoubaar te maak.

“Die werklikheid is dat die bedryf nie gaan terugkeer na hoe dit was nie, maar dit beteken nie dat gehalte, professionaliteit en volhoubaarheid verlore hoef te gaan nie. Juis deur verskillende perspektiewe bymekaar te bring, kan ons help om aan ʼn bedryf te bou wat volhoubaar, geloofwaardig en toekomsgerig is,” sê sy.

Ferreira sê die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk se rol is nie om finale antwoorde vir hierdie kwessie te bied nie, maar eerder om ruimte vir ingeligte gesprekke te skep.

Dié beroepsnetwerk nooi dus alle praktisyns in die bedryf om deel van die gesprek te wees. Sluit vandag nog by dié beroepsnetwerk aan en gesels saam – klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel