Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Moedertaalonderrig is ʼn toppresteerder in die 2024-matriekuitslae
Deur Heléne Mocke
Solidariteit beskou die 2024-matriekuitslae as ʼn beduidende oorwinning vir moedertaalonderrig.
Die uitsonderlike prestasie van die drie toppresteerderskole in Gauteng (Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Garsfontein en Die Hoërskool Menlopark) wat almal Afrikaans-mediumskole is, dien as nog ‘n bewys van die waarde wat moedertaalonderrig tot leerders se akademiese sukses toevoeg. Navorsing bevestig dat leerders dikwels beter presteer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word.
Hierdie prestasies is ook toe te skryf aan die toewyding en gehalte van Afrikaanse opvoeders – ʼn aspek waaroor Solidariteit sterk voel.
Solidariteit verteenwoordig immers ook bykans 5 000 onderwysers landswyd, insluitend ongeveer 2 500 Afrikaanse onderwysers in Gauteng.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê moedertaalonderrig is ʼn kernkomponent van die sukses van Afrikaanse skole. “Ons onderwysers is die hartklop van ons skole. Hul harde werk en toewyding, selfs in uitdagende omstandighede, maak ʼn wesenlike verskil,” sê Hermann.
Volgens hom bied Afrikaanse skole nie net uitmuntende akademiese opleiding nie, maar dra hulle ook by tot ʼn aansienlik hoër indiensnemingsyfer onder hul leerders in vergelyking met die nasionale gemiddeld. Hy skryf hierdie sukses toe aan die gesamentlike rol van moedertaalonderrig, toegewyde onderwysers, ywerige leerders en ouers wat aktief by hul kinders se opvoeding betrokke is.
Ondanks hierdie merkwaardige prestasies is daar kommer oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (die Bela-wet) wat ʼn bedreiging vir die voortbestaan van moedertaalonderrig in Afrikaans-medium skole inhou. Hierdie wetgewing kan daartoe lei dat onderwysers gedwing word om in tale waarvoor hulle nie opgelei is nie, klas te gee. Dit is ʼn aspek wat ʼn beduidende impak op die gehalte van onderwys kan hê.
“Ons moet hierdie kosbare stelsel en sy waardes met alle mag beskerm,” waarsku Hermann en hy benadruk dat die implementering van die Bela-wet hierdie kernwaardes en suksesse van moedertaalonderrig ernstig kan benadeel.
Solidariteit bly toegewyd aan die beskerming van die belange van Afrikaanse skole, moedertaalonderrig, leerders en onderwysers. Die organisasie gaan voort met die stryd teen enige beleid of wetgewing wat die gehalte van moedertaalonderrig en onderwys in Suid-Afrika bedreig. Klik hier om enige boeliegedrag aan te meld.