
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Moerbei, Afrikaans is lekker!
Deur René van der Vyver
Dit is weer moerbeityd waar kinders gewoonlik versigtig moet wees vir swartgevlekte voete en ons aan hierdie smaaklike vruggies kan smul. Met moerbeibome wat geil langs die Mooirivier staan, het ʼn gesprek ontstaan oor hoe moerbeie bestuif raak, want (volgens my kennis) dra dit nie blomme nie.
Dit is bladwisselende bome, so die een oomblik was dit vaal langs die Mooirivier en skielik, met die aanbreek van Lente, is daar welige groen blare en kort daarna moerbeie. Die rede hiervoor is dat die moerbeibome wel blomme dra, maar ʼn mens let dit net nie op nie. Dít het my laat dink aan ons pragtige taal, Afrikaans.
Afrikaans is een van die jongste tale ter wêreld. Dit word dikwels beskryf as ʼn linguistieke wonderwerk, omdat dit merkwaardig vinnig ontwikkel het. Van niks tot ʼn kombuistaal tot ’n volwaardige akademiese taal. Sjoe! Of moet ek eerder sê “Moerbei, Afrikaans is lekker”?
ʼn Moerbeiboom se blom is nie spoggerig nie en die meeste mense sal onoplettend verby die boom met die groot, groen blare stap. Hoewel Afrikaans, wat in ʼn kort tydperk ongekende hoë hoogtes bereik het, alle reg het om spoggerig te wees, is daar steeds mense wat onoplettend daarmee omgaan. Die gevaarlikste hiervan is dat die taal se sprekers self nie meer oplet, begryp en koester hoe uniek, indrukwekkend en kosbaar dit is nie.
Moerbeie kan donker vlekke veroorsaak. Net so glo ek dat Afrikaans in Afrikaanssprekendes se harte ingeëts is. Dié taal is só ryk aan idiome en spreekwoorde dat ons met trots kan sê: “My hart dans in Afrikaans.” Jou moedertaal is boonop die taal van die toekoms. Dis reg ja, die bevordering van streektale, eerder as globale tale, lei tot beter taalvaardigheid, ekonomiese groei en sosiale stabiliteit.
Moerbeie is lipleklekker en so ook is Afrikaans! ʼn Moerbeiboom is vir baie Afrikaners iets wat hulle nostalgies maak. Ongeag of mense dit gebruik om sy blare te pluk (kos vir jou sywurms) of om die vet, rooipers moerbeie te pluk, Afrikaanssprekendes behoort ook die vrugte van die taal te pluk. Ons kan dit maklik doen saam met die Solidariteit Beweging, wat die behoud en bevordering van Afrikaans ernstig opneem. Dink net byvoorbeeld aan hoe instellings soos die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, Akademia, Sol-Tech en Solidariteit se platform, die grootste Afrikaanse aanlyn werkplatform, Afrikaans as onderrigtaal en omgangstaal bevorder. Boonop is Solidariteit Jeug ʼn netwerk van jong mense wat ʼn passie vir Afrikaans deel en wat vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika wil skoolgaan en studeer.
Daar is egter ook ʼn groot verskil tussen moerbeie en Afrikaans. Moerbeie is nie inheems aan Suid-Afrika nie, maar Afrikaans is wel. Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, word met reg gekasty omdat hy meen Afrikaans is ʼn uitheemse taal.
Alhoewel Afrikaans se saad van verskeie lande na Afrika gewaai het, is dit hiér – op Suid-Afrikaanse grond – waar dit wortelgeskiet het. Dit is ook hiér waar dit gegroei het en sal aanhou groei.