loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
moet-ek-my-sosialemediaprofiel-professioneel-hou

Foto Krediet: OkayDeer

Moet ek my sosialemediaprofiel professioneel hou?

Deur Liza Joubert

In die hedendaagse wêreld waarin sosiale media ʼn groot rol in ons lewens speel, is dit vir elke student en jong werkende noodsaaklik om sy of haar professionele aanlyn teenwoordigheid te ontwikkel en reg te bestuur. Werkgewers kyk dikwels na kandidate se sosialemediaprofiele om ʼn beter idee van hulle te kry, en daarom is dit belangrik om jou profiele professioneel te hou.

Riglyne vir ʼn professionele sosialemediaprofiel

Wat jy moet doen:

  • Hou jou profiel op datum: Maak seker jou werkervaring, vaardighede en prestasies word volledig aangedui op professionele platforms soos LinkedIn. Voeg gereeld nuwe projekte, kursusse of kwalifikasies wat voltooi is by om jou vordering te toon.
  • • Gebruik ʼn professionele foto: Jou profielfoto moet professioneel wees en by die bedryf pas waarin jy werk of belangstel. Vermy foto’s wat té informeel is of in ʼn onvanpaste omgewing geneem is.
  • Bou ʼn positiewe beeld: Deel inhoud wat vir jou beroep relevant is en toon jou belangstelling en kundigheid in jou veld. Skryf ook relevante teks saam met foto’s om jou kennis te deel en waarde tot die plasing toe te voeg.
  • Hou jou aanlyn reputasie dop: Kyk gereeld na jou privaatheidinstellings om te beheer wie toegang tot jou persoonlike inligting het. Wees ook op die uitkyk vir kuberkrakers wat deesdae veral op Facebook baie bedrywig is. Verwyder of rapporteer ook onvanpaste kommentaar wat robotte op jou plasings plaas.
  • Wees aktief op toepaslike platforms: Gebruik platforms wat jou professionele doelwitte ondersteun. LinkedIn is ideaal vir netwerkgeleenthede en X (voorheen Twitter) kan waarde toevoeg vir aktuele gesprekke in jou bedryf.

Wat jy moet vermy:

  • Moenie onvanpaste inhoud deel nie: Moenie aanstootlike, beledigende of polariserende inhoud deel nie. Dit kan jou professionele beeld groot skade berokken.
  • Moenie oor jou werk kla nie: Moenie kritiek op jou huidige of vorige werkgewers of kollegas lewer nie. Sulke kommentaar kan jou as onprofessioneel laat oorkom.
  • Moenie te veel persoonlike inligting deel nie: Stel duidelike grense tussen jou persoonlike en aanlyn lewe. Behou jou privaatheid en deel net inligting wat relevant is vir jou professionele wêreld.
  • Moenie in ʼn aanlyn styery betrokke raak nie: Bly weg van omstrede debatte wat jou professionele beeld negatief kan beïnvloed.

Rooivlaggies vir werwers:

  • Onprofessionele foto’s: Werwers sal jou oordeel bevraagteken as jou foto’s onprofessionele gedrag toon.
  • Onvanpaste taal of beledigende opmerkings: Dit skep ʼn negatiewe indruk en kan jou geleentheid om werk te kry pootjie.
  • Klagtes oor jou werk: As jy negatief oor jou werk praat, sal werwers jou moontlik as ʼn risiko beskou.
  • Gebrek aan betrokkenheid: Werwers wil sien dat jy deur middel van netwerke of deelname aan relevante groepe betrokke is in jou veld.
  • Teenstrydige inligting: Maak seker jou aanlyn inligting stem ooreen met jou CV. Teenstrydighede kan jou geloofwaardigheid skade berokken.

Praktiese wenke om jou profiel professioneel te hou:

  • Skei jou persoonlike en professionele profiele: Maak seker daar is ʼn duidelike skeidslyn tussen jou persoonlike en jou professionele aanlyn identiteite.
  • Sluit aan by Solidariteit se #Studentelewe-groep: Hierdie groep bied ʼn uitstekende platform waar jy kan uitvind wat die beste praktyke vir ʼn professionele aanlyn teenwoordigheid is.
  • Wees bewus van jou digitale voetspoor: Alles wat jy aanlyn plaas, laat ʼn permanente voetspoor. Maak seker dit weerspieël die professionele jy.
  • Doen gereelde self-oudits: Hersien jou sosialemediaprofiele gereeld om seker te maak dit hou tred met jou huidige professionele doelwitte.

Jou aanlyn teenwoordigheid is ʼn verlenging van jou persoonlike handelsmerk. Maak seker jy vertoon jouself in die beste professionele lig en dat jou profiele jou help om in ʼn mededingende werksomgewing uit te staan.

Solidariteit stap die volle loopbaanpad saam met jou. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van jou grootse Afrikaanse beroepstuiste.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel