loading
avatar
Artikels
3 dae gelede
my-jong-kind-het-my-in-boeie-gesien-n-ma-se-verhaal-van-afdankingsonreg

Foto Krediet: Solidariteit

‘My jong kind het my in boeie gesien’ – ʼn ma se verhaal van afdankingsonreg  

Deur Kyla-Ann du Toit

Toe haar seun haar vir die eerste keer in die tronk kom besoek het, het hy dadelik begin huil. Hy was maar net 13 jaar oud.

“Dít was die oomblik wat my gebreek het,” sê Zuzette Spang, wat in 2021 op aanklagte van onder meer bedrog en geldwassery afgedank is.

Haar lewe is vir bykans vyf jaar deur onsekerheid, vrees en magteloosheid gekenmerk, voordat ʼn saak voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bevind het dat haar afdanking onregmatig was.

Solidariteit het haar by die KVBA verteenwoordig. Sy het haar saak gewen en alhoewel sy haar werk en vyf jaar se salarisinkomste moet terugkry, is Zuzette se verhaal een wat vir altyd ʼn letsel sal nalaat.

Dit het alles begin met ʼn kennisgewing oor ʼn vergadering met die generaal.

“Ons het by die raadsaal aangekom en gaan sit, en toe word ʼn lasbrief voorgehou. Jy verstaan nie wat jy verkeerd gedoen het nie. Jy weet nie eens waarvan jy beskuldig word nie,” vertel sy.

Sy en 11 ander mense is daardie dag uit die bloute gearresteer. Wat daarop gevolg het, beskryf sy as die slegste tyd van haar lewe.

Ná haar arrestasie kon sy niemand bel nie – nie haar man nie of ʼn prokureur nie. Niemand. Sy is in aanhouding geplaas sonder om werklik te weet hoekom sy daar is, watter bewyse teen haar bestaan of hoe lank die proses sou duur.

Tog was niks vir haar so pynlik soos die impak wat hierdie hele proses op haar kind gehad het nie. Toe haar seun haar in die tronk kom besoek het, het dit hom gebreek. Hy het dadelik begin huil toe hy haar met boeie om haar enkels sien aankom. Daarna wou hy haar nie weer in die tronk kom besoek nie.

“ʼn Kind behoort nie sy ma só te sien nie,” sê sy.

Die emosionele trauma het ongelukkig nie daar geëindig nie. Haar seun moes ʼn graad op hoërskool herhaal weens die emosionele impak van die hele proses. Dít was vir Zuzette die diepste seer van alles – nie die vernedering of die onreg nie, maar hoe dit haar kind geaffekteer het.

Die onreg het egter ook elke ander deel van haar lewe beïnvloed. Vir bykans vyf jaar was haar lewe deur finansiële en emosionele onsekerheid gekenmerk.

“Neem net een maand se salaris weg, dan sien jy hoe vinnig dinge begin knak,” sê sy. “Dink nou aan die impak wat vyf jaar op jou lewe het. Jou lewe word van jou beroof.”

Zuzette is een van drie SAPD-lede wat in 2021 onregverdig afgedank is ná dissiplinêre prosesse wat later deur die KVBA as prosedureel en substantief onbillik bevind is.

Solidariteit het die saak namens die lede by die KVBA aanhangig gemaak, waar daar beslis is dat die SAPD inderdaad onregverdig opgetree het. Die drie lede moes met onmiddellike effek heraangestel word. Verder het die KVBA bepaal dat die SAPD ʼn volledige terugwerkende salaris aan elk van die lede moet uitbetaal, wat gesamentlik meer as R5,3 miljoen beloop het.

Hoewel die uitspraak ʼn mate van finansiële verligting bring, is dit vir Zuzette ʼn bysaak. Geen bedrag kan opmaak vir wat die afgelope vyf jaar van haar en haar gesin gesteel is nie.

Daar is wel opgewondenheid om terug te keer werk toe, maar dit voel steeds asof ʼn swaard oor haar kop hang. Sy erken dat dit een van die moeilikste dinge sal wees om mense weer te vertrou.

“Waar gaan ek werk? Wat gaan ek doen? Hoe gaan hulle my hanteer as ek terugkeer? Dit gaan maar moeilik wees. Ek wens hierdie ervaring nie eers vir my grootste vyand toe nie,” sê sy.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel