Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
My matriekervaring in 2024
Zani Engelbrecht wat pas gematrikuleer het, vertel meer oor van haar ervaring van haar matriekjaar. Matriek hou ontelbare avonture, studie-ure en lewenslesse vir jou in. Zani deel wenke oor hoe sy haar jaar aangepak het en hoe sy haar resep vir sukses ontwikkel het. Hierdie artikel is vir die 2025-matrikulant, wat vir die laaste keer hierdie reis aanpak.
Hallo daar! Ek is Zani Engelbrecht en ek het in 2024 aan die Hoërskool Oos-Moot gematrikuleer. Nou, aan die begin van 2025, staan ek gereed om my B.Com-studie in verbruikerswetenskap met ʼn fokus op voorsieningskettingbestuur en logistiek by die NWU aan te pak.
Matriek was aanvanklik “iets” wat in die toekoms vir my gewink het, maar voor ek my oë kon uitvee, was ek daar! Dit was vir my ʼn reis waarop ek voortdurend gegroei het – nie net akademies nie, maar ook persoonlik. Ek het elke dag tyd aan my skoolwerk bestee, hetsy dit was om my werk te organiseer, huiswerk te doen of sommer net opsommings te maak. Vir my was die sleutel tot sukses beplanning – nie net van my studietyd nie, maar ook vir ontspanning en rus. Tyd is kosbaar, en dit is belangrik om jou dag ten volle te benut sonder om jouself uit te brand.
Een van die grootste voordele van matriek is dat jy deel is van die groep oudste leerders in die skool. Jonger leerders, soos die graad 8’s, kyk dus op na jou, en tydens ontgroening kan jy selfs ʼn junior “aanneem” en só begin om jou mentorskapvaardighede te ontwikkel. Dit was vir my ʼn reusevoorreg. Sportbyeenkomste, veral die jaarlikse interhoër, was van my hoogtepunte waar ek die trots van ons skool eerstehands kon ervaar; iets wat my Oos-Moot-hart altyd warm laat klop het.
Vriendskappe wat ʼn mens in matriek smee is besonders. Ek het veral hartsvriendinne gemaak wat by my staan deur dik en dun. Ons kon saam lag en huil, en kon mekaar ondersteun deur die harde tye wat onvermydelik kom saam met die stres van leer en eksamens. Ek het gevind dat ʼn verandering in omgewing, soos om te gaan stap, of soms in ʼn ander vertrek of selfs buite te gaan studeer, my gehelp het om my roetine te breek en dit het my stres verminder.
Ondersteuning is nog ʼn sleutelfaktor tydens jou matriekjaar. Hoewel jy vir jouself en jou toekoms werk in matriek, is dit moeilik om alleen te staan en jouself alleen te motiveer. ʼn Mens se ondersteuning kan strek van ʼn studiegroep, tot ʼn ouer wat net kom inloer om te sê hulle is lief vir jou, of ʼn geselsie met ʼn vriendin oor ʼn moeilike vak. Hierdie interaksies het ʼn onmeetbare impak op my matriekjaar gemaak.
My pa werk van die huis af en tussendeur sy vergaderings sou hy na my toe gekom het, net om te sê hy is daar, of hy is lief vir my. As my ma by die huis gekom het in die aande, het ek in die kombuis by haar gaan sit en met haar gepraat oor my leerwerk terwyl sy kos gemaak het. Wanneer ʼn moeilike vak vir my om die draai gewag het, het ek soms my vriendin, Madelize, gebel en dan het ons saam deur die moeilike werk gegaan.
As ek terugkyk, besef ek hoe belangrik dit is om te waardeer wat jy het – vriendskappe, familiebande, en selfs jou troeteldiere, soos my Mila-hond, kan ʼn groot verskil in jou welstand maak. Vir diegene wat nog hulle matriekjaar moet aanpak, onthou: jy is net een keer ʼn matrikulant. Geniet elke oomblik, skud die slegte af en hou vas aan die goeie.
En onthou, soos Psalm 126:5 sê: “Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.” Hierdie is jou tyd om te saai, matrieks van 2025. Maak seker jy maai met vreugde!