
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
ʼn Afrikaanse skool vir élke gemeenskap!
Deur Marné Pienaar
Louis Dekker is verlede jaar aangewys as die uitvoerende hoof van Gimnasium Pretoria. Solidariteit het by hom gaan aanklop vir bietjie meer inligting oor dié nuwe Afrikaanse skoolmodel wat die land laat gons!

Ondersteuners van die Solidariteit Boufonds het die voorreg om te weet dat hulle bydrae ʼn belegging in die toekoms van Afrikaans is en help om aan iets te bou wat werklik ʼn verskil gaan maak in die lewens van ons kinders én kleinkinders.
As hierdie ons toekoms is, is die toekoms blink!
Hier is die antwoorde op al jou brandende vrae oor Gimnasium Pretoria, hoe dit gaan werk en waarom jy ook by hierdie projek betrokke moet raak.
Wanneer kan ons ’n fisiese skoolgrond verwag?
Die proses is baie afhanklik van ʼn klomp eksterne persone waaroor ons ongelukkig nie beheer het nie. Onder andere die verkoper van die grond, die oordrag van die grond, die munisipaliteit met die aanleg van dienste en nog vele meer. Ons beplanning is egter om alles binne ons vermoë te doen om Januarie 2027 vir ons eerste grade ons deure oop te maak. Dit behoort graad RRR tot 1 te wees met die hoop om die skool binne ses jaar volledig van graad RRR tot 12 te hê. Ek glo egter dit kan nog vinniger gebeur!
Op Gimnasium Pretoria se webtuiste word daar klem gelê op die feit dat ons nie na leerders verwys nie, maar na kinders. Waarom?
Eerstens is daar ʼn tradisionele gesagsverhouding tussen ʼn opvoeder (wat ouers insluit) en ʼn kind. Dit is nie ʼn magsverhouding nie, maar deel van ons natuur.
Leerder is ʼn algemene term vir enige persoon wat leer, dus kan dit volwassenes ook insluit.
Kinders moet nog toegelaat word om kind te wees. Dit struktureer ook die rol van die onderwysers nie net as opleiers nie, maar ook as opvoeders. Dit sluit natuurlik aan by Akademia se vormingsideaal.
Gimnasium se fokus sal ook gerig wees op die ontwikkeling van die geheelkind.
Daar is vyf ontwikkelingsfases wat elkeen hulle eie, gepaste naam het. Waarom word die kinders in hierdie ouderdomsgroepe ingedeel?
In beginsel is dit ʼn modulêre skool, met fases as entiteite, maar tog deel van die groter geheel, waar die kinders ingedeel word binne hulle grade, maar binne ʼn spesifieke fase:
- • Graad RRR – R: Ontwikkel
- • Graad 1 – 3: Ontdek
- • Graad 4 – 6: Ondersoek
- • Graad 7 – 9: Beleef
- • Graad 10 – 12: Bemeester
Die fases koppel binne onderrig en leer, maar ook binne die leerruimtes en ontwerp, aan die kinders se natuurlike ontwikkelingsfases. Dit is gebaseer op insigte uit ontwikkelingsielkunde, breinontwikkeling en internasionale navorsing oor ouderdomsgepaste leer. Dit stel ons in staat om leerervarings, onderrigstrategieë en leeromgewings doelbewus aan te pas by kinders se kognitiewe, sosiale en emosionele ontwikkeling binne elke fase.
Hoe sal ’n tipiese dag vir ’n kind by Gimnasium Pretoria lyk? Wat maak die skool anders/uniek?
By Gimnasium Pretoria glo ons dat leer sinvol en volhoubaar moet wees – iets wat gebeur wanneer kinders genoeg tyd en ruimte kry om inhoud werklik te bemeester. Hoewel ’n skooldag op die oog af nie radikaal van dié van ander skole sal verskil nie, lê ons ’n besondere klem op die geheelontwikkeling van die kind. Ons gaan die beste internasionale onderrigmetodes en praktyke ontwikkeling gebruik, maar dit doelbewus aanpas om sinvol in ons unieke Suid-Afrikaanse konteks te funksioneer.
Ons benadering is leergerig, nie prestasiegedrewe nie – met die fokus op deelname, persoonlike groei en ontwikkeling eerder as op druk en kompetisie. Kinders word geleenthede gebied om op hulle eie tempo te leer, en die skooldag is só gestruktureer dat daar buigsaamheid is om elke leerproses ten volle te ondersteun. Die leeromgewing is ontwerp om kinders aan betekenisvolle leerervarings bloot te stel wat hulle nie net akademies nie, maar ook sosiaal en emosioneel toerus vir die wêreld daarbuite.
Namate leerders na hoër fases en grade beweeg, word meer selfgerigtheid ingebou. Hulle word toenemend aangemoedig om eienaarskap van hul leer te neem, krities en kreatief te dink, probleme op te los en met selfvertroue nuwe uitdagings aan te pak. Op dié manier poog ons om kinders op ’n holistiese wyse voor te berei vir die snelveranderende wêreld waarin hulle hul plek volwaardig moet inneem – sonder ongesonde druk, maar met insig, aanpasbaarheid en vaardigheid.
Dit is duidelik dat jy ’n diep passie vir onderwys en vir die opvoeding van ons kinders het. Waar kom hierdie passie vandaan en wat laat jou elke dag uit die bed uit opstaan om voort te gaan met hierdie groot taak?
Dankie! Ek het in my onderwysloopbaan die voorreg gehad om met babas tot matrikulante te kon werk – kleuterskool, laerskool en hoërskool. Die gemeenskaplike faktor tussen al hierdie ouderdomme en fases is dat hulle ʼn tuiste wil hê, veilig wil voel, inherent leergierig is, en eintlik net gelukkig wil wees. Dit was vir my nog altyd ʼn voorreg om ʼn verskil in kinders se lewens te kan maak, al is die in die klas, op die sportveld, met sosiale geleenthede, of enige ander geleentheid. En ʼn skool bied soveel van die geleenthede. Al vergoeding wat onderwysers eintlik wil hê is die glimlagte op die gesiggies!
Ek glo dat as ons nie eienaarskap vat vir ons kinders se toekoms nie, gaan niemand dit doen nie. Dus moet ons nou al begin beplan aan die toekoms en daarom moet ons ons eie skole begin oprig. Ek is self ʼn ouer en al wat ek eintlik vir my kinders wil hê, is om te kan skoolgaan soos ons skoolgegaan het, om gelukkig te kan grootword soos ons die voorreg gehad het. Dit is ons plig om dit vir die volgende generasies te bewerkstellig.
Wat is jou grootste droom vir Gimnasium Pretoria en die gemeenskapskonsessie soos julle daarna verwys?
Ons noem dit juis ʼn gemeenskapskonsessie omdat ons op ons eie nie oor die vermoë beskik om vir elke gemeenskap ʼn skool op te rig nie. Ons het gemeenskappe nodig wat eienaarskap neem. Ons hoop is om hulle almal te aktiveer en te ondersteun.
Dus is ons by SOS se droom dat daar vir elke gemeenskap ʼn Afrikaanse skool moet wees. Ons sê gereeld intern dat ons nie 300 skole kan oprig nie, maar 300 gemeenskappe kan elkeen een skool oprig.
Ons droom verder is dat Gimnasium Pretoria die 300 (en selfs meer) gemeenskappe kan inspireer en aktiveer om ook binne hulle gemeenskap hulle eie skool te kan oprig. Gimnasium Pretoria moet dus ʼn monument wees, ʼn baken van hoop vir Afrikaanse onderwys!
Hoe het jy by hierdie droom betrokke geraak en waarvoor sien jy die meeste uit vir die toekoms?
Ek is al ʼn rukkie in die onderwys en het al op ʼn paar geleenthede grappenderwys gesê ek gaan nog eendag ʼn skool bou. Verder is ek bevoorreg om al vir ʼn rukkie informeel by die groter Solidariteit Beweging betrokke te wees. Toe ek genader word vir die pos, was dit vir my voor die hand liggend. Dus is ek voltyds vanaf 1 April 2024 deel van die SOS-span en bevoorreg om aan hierdie groot taak te kan werk.
Ek dink nie toe Flip Buys destyds begin het, het hy in sy wildste drome gedink die Beweging gaan nou al hier staan nie. Ook het Sol-Tech en Akademia nie gedink hulle gaan eendag pragtige kampusse betrek nie. Dus is dit waarna ek die meeste uitsien – ons eie spogskool – maar om eendag te kan terugkyk en weet ons het ʼn verskil gemaak en daar is dalk in elke gemeenskap ʼn vorm van ʼn Gimnasium; ʼn Afrikaanse skool vir elke gemeenskap.
Wat is tans jou grootste taak om die skool van die grond af te kry en hoe kan die publiek ondersteuning bied?
Ek is bevoorreg om saam met ʼn span te kan werk wat saamgestel is uit veral ander mense by die SOS, maar ook in samewerking met heelwat van die ander instellings. Ons is besig met elke faset van die skool en die konsessie. Dus van handelsmerke, kontrakte, beleide, kurrikulum, argiteksontwerpe, skoolklere, meubels, tegnologie en nog vele meer.
Befondsing is reeds en gaan waarskynlik een van die groter uitdagings vorentoe wees om die skool op te rig en in te rig. Ons waardeer enige bydrae in die verband en bedank die Boufonds-lede vir hulle getroue bydraes wat verskeie van ons instellings ondersteun.
Ek glo egter dat alles ʼn tyd en ʼn plek het, en alhoewel ons ongeduldig is, is die Here se tyd die regte tyd. Dus is ons grootste versoek dat die projek in almal se gebede moet wees.
Om by hierdie droom betrokke te raak, word vandag nog deel van die Boufonds! Lees meer oor die projekte wat die Boufonds ondersteun en hoe jy kan help om ʼn verskil te maak.