loading
Artikels
20 uur gelede
om-in-jou-eie-taal-te-leer-beteken-om-met-jou-hele-menswees-te-leer

Foto Krediet: OKayDeer

Om in jou eie taal te leer beteken om met jou hele menswees te leer

Deur René van der Vyver

Andries Vermeulen se lied, “In Afrikaans”, som die belangrikheid van Afrikaans as onderrigtaal uitstekend op: “Ek dink en doen in een taal. Dis die krag van my stem. Dis die mag van my pen.”

Jou stem en jou pen het beslis meer mag en krag wanneer dit in jou moedertaal gebruik word. Die belangrikheid van moedertaalonderrig in hoër onderwys gaan egter nie net oor begrip nie, maar ook oor identiteit, selfvertroue en sukses.

Solidariteit se huidige regstryd teen die implementering van die Bela-wet (Wysigingswet op Basiese Onderwyswette) dien as ʼn ernstige herinnering om meer oor Afrikaans as onderrigtaal in hoër onderwys ook na te dink. Alhoewel die stryd tans gefokus is om Afrikaans as onderrigtaal in basiese onderwys te beskerm, kan die waarde van moedertaalonderrig op tersiêre vlak nie onderskat word nie. Dít is nie ʼn nuwe saak nie – Afrikaans se geskiedenis as akademiese taal getuig reeds van die belangrikheid van moedertaalonderrig op hoër vlakke.

Terwyl ons vanjaar Afrikaans se honderdste verjaarsdag (as amptelike taal) vier, kan ons ook die merkwaardige bydrae erken wat akademiese ontwikkeling op tersiêre vlak tot Afrikaans se status gelewer het. Vandag is Engelse moedertaalsprekers in werklikheid die enigste groep in Suid-Afrika wat die reg tot moedertaalonderrig op tersiêre vlak geniet. Dit beklemtoon die belangrikheid van die uitbreiding van privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech, wat moedertaalonderrig aktief bevorder.

Moedertaalonderrig verbeter individue se begrip, gevoel van identiteit, selfvertroue en kanse op sukses.

Basiese konsepte – die boustene vir verdere doeltreffende leer – word die beste deur moedertaalonderrig vasgelê. Leerders wat onderrig ontvang in die taal waarin hulle die vaardigste is, is geneig om beter te presteer, aangesien hulle beter toegerus is om hoër-orde-vrae te begryp. Boonop kan leerders wat hul moedertaal onder die knie het ander tale soveel makliker aanleer. Hierdie veeltaligheid dra weer by tot beter begrip van ander tale en bevorder uiteindelik verdraagsaamheid tussen verskillende taalgroepe.

ʼn Persoon wat hulself goed kan uitdruk is meer selfversekerd, wat bydra tot ʼn sterker gevoel van identiteit. ʼn Gemeenskap waarvan die lede nie voel dat hul identiteit bedreig word nie, is sterker. Moedertaalonderrig is in hierdie opsig ook voordelig vir gemeenskappe, aangesien dit breë gemeenskaplike voordele soos verbeterde sosiale kohesie en wedersydse erkenning kan bevorder.

Om in jou eie taal te leer, beteken nie net dat jy feite verstaan nie; dit beteken dat jy met jou hart leer, met jou waardes en wêreldbeskouing as ankers. Taal is immers nie neutraal nie – dit dra kultuur, emosie, verwysingsraamwerke en betekenis. As jy in jou moedertaal leer, betree jy die leerproses nie as ʼn besoeker nie, maar as ʼn volwaardige deelnemer. Dit is dan wanneer leer nie net ʼn kopsaak is nie, maar ʼn saak van die hele mens: verstand, hart en siel.

Wanneer onderrig in ʼn vreemde taal plaasvind, is daar altyd ʼn kloof – tussen die leerder en die inhoud, tussen die leerder en die dosent, en uiteindelik tussen die leerder en die self. Moedertaalonderrig bou brûe waar daardie klowe andersins sou bestaan. Dit bring nie net akademiese groei nie, maar ook persoonlike vervulling en gemeenskapsverbondenheid.

Om in jou eie taal te leer, is om erkenning te kry vir wie jy is – en dit maak die leerproses nie net meer doeltreffend nie, maar ook meer menslik.

Solidariteit bou aan ʼn Afrikaanse werkgemeenskap waar jy in jou moedertaal kan leer, werk en jou volle potensiaal kan bereik! Skep jou gratis profiel op Solidariteit vandag nog en sluit aan by ʼn gemeenskap wat nie net jou taal verstaan nie, maar ook jou hart. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel