
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
ʼn Balans in tegnologiegebruik in die lewens van ons kinders
Deur Felicia Richardson
Ons kinders word groot in ‘n era waarin tegnologiese vooruitgang onvermydelik is en kunsmatige intelligensie (KI) ‘n sentrale rol in hul lewens speel. Ons weet ook dat hierdie generasie jong mense van vroeg af blootgestel word aan tegnologie, wat natuurlik hulle wêreld op ‘n unieke wyse vorm. Tog is die impak van oormatige tegnologiegebruik op hul ontwikkelende breine en algehele welstand ‘n kritieke bron van kommer. In hierdie artikel gesels ons oor die uitdagings, maar ook die geleenthede wat tegnologie in die lewens van ons kinders moontlik maak.
- Gesonde grense
Die fondasie vir die bestuur van tegnologiegebruik by kinders begin met die vasstelling van gesonde grense. Dit is uiters noodsaaklik om duidelike tydbeperkings te stel wanneer skermtyd gegun word vir vermaak of selfs opvoedkundige doeleindes. Deur dit te doen, kan daar ‘n balans gevind word tussen die voordele van tegnologie en die potensiële nadele.
Terwyl tegnologie ontelbare leergeleenthede bied, is matigheid die sleutel. Wetenskaplike navorsing toon dat oormatige skermtyd nadelige gevolge vir die ontwikkeling van ‘n kind se brein kan hê. ‘n Studie wat in 2017 deur navorsers by die Cincinnati-kinderhospitaal gedoen is, het aangetoon dat oormatige skermtyd in voorskoolse kinders verband hou met swak konnektiwiteit in die areas van die brein wat taal- en kognitiewe ontwikkeling beheer. Verdere studies toon ook dat oormatige skermtyd selfdoodgedagtes onder tieners verhoog. Daar is nog vele ander studies gedoen wat die negatiewe effekte van oormatige tegnologiegebruik uitlig; klik hier om verder hieroor te lees: https://www.whatisdryeye.com/too-much-screen-time/. Hierdie navorsingstudies beklemtoon net weereens die belangrikheid daarvan om skermtyd te beperk om gesonde breinontwikkeling te ondersteun.
- Lei deur jou voorbeeld
Ouers speel ‘n sleutelrol om ʼn voorbeeld te stel van hoe tegnologie verantwoordelik gebruik moet word. Die stamwoord van dissipline is dissipel. Soos Jesus ’n voorbeeld vir sy volgelinge was, moet ons ook ’n voorbeeld vir ons kinders wees. Kinders is geneig om jou gedrag na te boots, en daarom behoort ons nie van ons kinders te verwag om ’n waardestelsel na te volg wat ons nie self navolg nie.
Om eerder saam ouderdomstoepaslike sepies, speletjies en inhoud te verken, bied nie net geleenthede om jou verhouding met jou kind te versterk nie, maar stel ouers ook in staat om te verseker dat die inhoud met hul waardes en verwagtinge ooreenstem.
- Aanlyn veiligheid
Aanlyn veiligheid is ‘n primêre bekommernis, en dit is noodsaaklik om kinders in te lig oor die risiko’s van die kuberruim. Volgens Mariska de Lange van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit het sy deur middel van ’n peiling bevind dat 40% van skoolkinders wat aan die peiling deelgeneem het, al in die regte lewe iemand ontmoet het met wie hulle vantevore nog net aanlyn gesels het. Dertig persent van die skoliere het ook gesê die persoon wat hulle ontmoet het, nie was wie hulle gedink het dit sou wees nie.
Ons moet daarom nie net ons kinders inlig oor die risiko’s nie; dit is ook noodsaaklik om ’n omgewing te skep waarin kinders gemaklik kan voel om probleme wat hulle aanlyn teëkom, aan te meld.
- Balans tussen tegnologie en fisiese aktiwiteite
Volgens ‘n onlangse studie wat deur Jean M. Twenge gedoen is, het kinders wat die meeste van hul tyd bestee aan sportoefening, huiswerk doen en om met vriende in die regte lewe te sosialiseer, ’n aansienlike laer risiko om tekens van angs of depressie te toon. Wanneer daar ʼn balans tussen skermtyd en ander aktiwiteite is, word nie net fisiese gesondheid bevorder nie, maar word kognitiewe ontwikkeling ook ondersteun.
- Etiese en privaatheidskwessies
In die digitale era kan ons nie gesprekke oor etiese en privaatheidskwessies vryspring nie. Ons kinders moet die gevolge van hul digitale optrede en die impak wat dit op ander mag hê, verstaan. Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot kuberafknouery, gevaar van persoonlike inligting deel, foto’s wat aanlyn geplaas word of oor die internet gedeel word, en kuber-roofdiere!
Dieselfde geld vir KI-aangedrewe stelsels waarmee hulle interaksie het. Dit is belangrik dat hulle moet verstaan hoe hul data gebruik en beskerm word.
- Bly op hoogte
In ons voortdurend veranderende digitale wêreld is dit van kardinale belang dat ouers op hoogte moet bly van die nuutste tegnologiese tendense, programme en platforms waaraan ons kinders blootgestel word. Hierdie kennis bemagtig ons om ingeligte besluite oor ons kinders se veiligheid te neem.
- Belangrikheid van aanpasbaarheid
Die digitale wêreld ontwikkel vinnig, met nuwe tegnologieë, programme en platforms wat voortdurend ontstaan. As besorgde ouers moet ons bereid wees om ons benaderings aan te pas soos wat tegnologie ontwikkel en ons kinders ouer word, om te verhoed dat ons nie ons kinders benadeel in ons poging om hulle te beskerm nie.
- Geleenthede
Alhoewel tegnologie en kunsmatige intelligensie (KI) vele nagevolge kan hê indien die gebruik daarvan nie reg bestuur word nie, is daar ook baie geleenthede wat ons nie moet miskyk nie, soos die volgende:
- Voorbereiding vir toekomstige beroepe: Om in ‘n wêreld groot te word waar tegnologie en kunsmatige intelligensie (KI) verwelkom word, kan kinders beter voorberei word vir toekomstige arbeidsmarkte waar digitale geletterdheid toenemend belangrik is. Navorsing dui daarop dat vroeë blootstelling aan tegnologie die ontwikkeling van noodsaaklike vaardighede vir toekomstige werk kan bevorder.
- Digitale geletterdheid: Digitale geletterdheid het ’n noodsaaklike vaardigheid geword. Dit sluit in die vermoë om inligting te evalueer, kritiese denke en probleemoplossing, asook hoe om betroubare bronne te identifiseer en ʼn begrip van aanlyn privaatheid en veiligheid te hê.
- Verhoogde kreatiwiteit: Tegnologie bied ‘n platform vir kreatiwiteit deur digitale kunste, kodering en vele meer. Navorsing toon dat hierdie kreatiewe platforms ‘n kind se verbeelding en probleemoplossingsvermoëns kan stimuleer.
Ten slotte, buigsaamheid en aanpasbaarheid is van kardinale belang om tegnologie en KI effektief in ons kinders se lewens te bestuur. Deur gesonde grense te stel, aanlyn veiligheid te beklemtoon, tegnologie vir leerdoeleindes te gebruik, ʼn voorbeeld van verantwoordelike tegnologiegebruik te stel en op hoogte van die nuutste tegnologiese tendense te bly, kan ons daarna streef om te verseker dat tegnologie ons jong mense se lewens sal verryk sonder om skade te berokken. Ons gesamentlike verantwoordelikheid is om kinders binne ons vermoëns voor te berei vir die toekoms terwyl ons hulle welstand en groei beskerm.