
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
ʼn Blik op webontwikkeling: IT of kommunikasie?
In ʼn vorige artikel het ons gesels oor UI- en UX-ontwerpers en of hulle deel is van die IT- of kommunikasiebedryf. Hierdie artikel handel oor webontwikkeling en wat dit alles behels. Wat dink jy – is webontwikkeling ʼn beroep in inligtingstegnologie? Lees meer oor dié beroep en gesels saam in die kommentaar-afdeling.
Deur Kyla-Ann du Toit
Daar is deurlopende innovasie in die IT-bedryf wat die toekoms van webontwikkeling bepaal. Die Solidariteit IT-netwerk het met Kayla-May Dreyer, ʼn ervare webontwikkelaar, gesels oor die tendense in webontwikkeling en wat hierdie beroep alles behels.
1. Wat behels jou huidige rol en aan watter tipe projekte werk jy? Is jy gespesialiseerd in “frontend”-, “backend”- of “fullstack”-ontwikkeling?
Ek werk hoofsaaklik aan webontwikkeling en -ontwerp, met ʼn fokus op React, JavaScript, PHP en CSS. Ek werk aan verskeie projekte, insluitend Next.js-projekte, WordPress-webwerwe met pasgemaakte plugins en filters, en ek hanteer ook “browser”-verwante optimalisering.
Ek is gemaklik met beide “frontend” (UI/UX, CSS, React) en “backend” (PHP, Node.js, MySQL).
2. Watter programmeringstale en -raamwerke gebruik jy die meeste?
Ek gebruik JavaScript (React, Next.js, Node.js) en PHP (WordPress, E-Commerce) die meeste. Ek werk ook met CSS (Tailwind, Sass) en soms Flutter vir desktop- en mobiele toepassings.
3. Hoe besluit jy watter tegnologieë en koderingtaal vir ʼn projek gebruik moet word?
Ek oorweeg die projek se vereistes, prestasiebehoeftes, die kliënt se voorkeur en langtermyn-volhoubaarheid. As ʼn kliënt byvoorbeeld self aanpassings wil maak, is PHP en WordPress die beste keuse omdat dit ʼn vinniger en makliker manier is om hulle webwerf aan die gang te kry. Vir ʼn interaktiewe web-app kies ek React of Next.js.
4. Wat is die grootste uitdagings wat jy in jou werk ervaar, en hoe werk jy met ander spanlede saam om dit te oorkom?
- “Browser-compatibility”: Ek toets op verskeie blaaie en gebruik “polyfills” indien nodig.
- “Performance issues”: Ek optimaliseer beelde, minify CSS/JS, en gebruik caching.
- “Debugging:” Ek gebruik DevTools en logging (bv. console.log) en Postman vir API-toetse).
Ons gebruik gereedskap soos Figma vir ontwerpsamewerking en monday.com vir projekbestuur. Ek maak seker daar is duidelike kommunikasie oor verwagtinge en terugvoer.
5. Volgens jou, hoe verskil webontwikkeling in die IT-bedryf van webontwikkeling in kommunikasie en bemarking?
In IT is webontwikkeling meer gefokus op funksionaliteit, “scalability” en sekuriteit. In kommunikasie en bemarking is UX, ontwerp en SEO belangriker.
6. Watter rol speel data-analise in die webwerwe of apps wat jy bou?
Data-analise help met gebruikersgedrag, prestasie-optimalisering en A/B-toetsing. Ek integreer Google Analytics en CRM’s vir kliënte om insigte te kry oor data wat deur hulle apps interaktief is.
7. Watter groot tendense in webontwikkeling sien jy tans, en watter opwindende ontwikkelings lê voor?
- “Serverless” en “edge computing” vir vinniger laaitye
- Kunsmatige intelligensie (KI) en outomatisering in kodering en inhoudgenerering
- Interaktiewe webervarings met WebGL, GSAP en Lenis
8. Hoe bly jy op hoogte van die nuutste tegnologieë en praktyke?
Ek lees artikels op Smashing Magazine, CSS-Tricks en MDN. Ek volg ook podsendings soos Syntax.fm en kyk na YouTube-kanale soos Fireship en Traversy Media.
9. Dink jy KI en outomatisering gaan webontwikkelaars se werk in die nabye toekoms verander?
Ja, maar eerder as ʼn hulpmiddel as ʼn plaasvervanger. KI kan “code” genereer en “debug”, maar dit vervang nie kreatiewe probleemoplossing en UX-ontwerp nie.
10. Watter vaardighede is belangrik vir iemand wat in webontwikkeling wil begin werk, en watter hulpbronne of kursusse beveel jy aan om hierdie vaardighede aan te leer?
- • HTML, CSS en JavaScript as grondslag
- • React of Vue vir moderne webontwikkeling
- • Backend-kennis (Node.js of PHP)
- • API’s en databasisbestuur (SQL)
Ek sal ofreeCodeCamp en The Odin Project aanbeveel vir ʼn sterk basis. YouTube-kanale soos Traversy Media en Web Dev Simplified is ook nuttige hulpbronne.
11. Hoe belangrik is netwerke en gemeenskapsbetrokkenheid vir ʼn loopbaan in webontwikkeling?
Baie belangrik! Ek neem deel aan Slack-groepe, Discord-ontwikkelaarskanale en LinkedIn om geleenthede en samewerking te vind.
12. Wat is een wenk wat jy wens iemand vir jou gegee het toe jy jou loopbaan begin het?
Leer hoe om goed te “debug” – verstaan die probleem voordat jy begin “code”.
Na afloop van hierdie vraag-en-antwoord-sessie, dink jy webontwikkelaars is deel van die IT-bedryf? Deel gerus jou mening in die kommentaar-afdeling van hierdie artikel en gesels saam.
Vir nog van hierdie tipe leesstof, skakel in by die Solidariteit IT-netwerkgroep. Raak vandag nog betrokke by jóú beroepsgemeenskap!