Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
ʼn Geldige testament is belangrik
Deur Emsie Martin
Jou testament is die laaste ding waaraan ʼn mens wil dink, maar die lewe is soms onverwags. Dit is egter nie al rede nie – as jy onlangs geskei is, jou lewensmaat verloor het of eiendom gekoop het, is dit ook belangrik om te verseker dat jou testament bygewerk is.
Jou testament is waarskynlik een van die belangrikste dokumente wat jy ooit sal teken. Dit bevat belangrike inligting oor al die bates wat jy oor die jare opgebou het, asook jou finale wense. Bowenal gee dit egter gemoedsrus vir dié wat agterbly. Dit is baie belangrik dat jy ʼn testament moet hê, maar dit is nóg belangriker dat die testament moet voldoen aan die wetsvereistes vir dit om geldig te wees.
Baie mense glo dat ʼn testament net vir welgesteldes bedoel is, maar al voer jy ʼn beskeie bestaan is dit nog steeds belangrik om ʼn testament op te stel.
Solidariteit bied die gratis opstel en bewaring van ʼn testament aan lede. Lees hier meer oor al die voordele wat ʼn Solidariteit-lid kan geniet.
Volg die stappe hieronder om seker te maak dat jy ʼn geldige testament het.
Stap 1: Laat jou testament opstel
Dit is nie raadsaam om jou eie testament op te stel nie, tensy jy ʼn deskundige is. Gesels liewer met ʼn adviseur of geakkrediteerde makelaar oor jou wense, asook die erfgename en begunstigdes wat jy in gedagte het.
Wenke om ʼn testament op te stel:
- Beplan jou testament só dat dit so eenvoudig as moontlik is.
- Maak seker jou testament is prakties. Moenie jou testament beskou as ʼn dokument wat eers in werking sal tree wanneer jy ʼn gevorderde ouderdom bereik het nie. Jy is miskien nie só gelukkig nie.
- Toets die inhoud van jou testament teen die kontant wat in jou boedel beskikbaar is.
- Wees prakties wanneer jy besluit hoe jou bates verdeel moet word. Dit is miskien nie raadsaam om jou bates gelykop tussen jou gade en kinders te verdeel nie, tensy jou hele boedel uit kontant bestaan.
- Vermy onbuigsame opdragte in jou testament.
- Benoem ʼn voog indien daar minderjarige kinders is.
- Maak voorsiening vir onderhoud ingevolge ʼn egskeidingsbevel. ʼn Testamentêre trust word hiervoor aanbeveel.
- Dit is uiters noodsaaklik dat daar genoeg kontant in jou boedel is wanneer jy sterf. ʼn Kontanttekort kan meebring dat bates noodgedwonge verkoop moet word.
- Dit is raadsaam om nie begrafnisreëlings in jou testament voor te skryf nie. Die testament word dikwels eers ná die begrafnis gelees. Dit is beter om hierdie wense met jou naasbestaandes te bespreek.
Stap 2: Kies ʼn eksekuteur
Die benoeming van ʼn eksekuteur is ʼn groot verantwoordelikheid. Jy kan jou gade benoem, maar in die meeste gevalle is dit nie ʼn goeie idee nie. Hy of sy kan emosioneel verpletter wees en nie gereed wees om belangrike finansiële besluite te neem nie.
Indien jou gade nie weet wat om in hierdie omstandighede te doen nie, sal hy of sy nie die beste advies of diens soek nie. Jou gade sal miskien ook blootgestel word aan iemand wat net op eie belang ingestel is. Gewoonlik sal die meester van die hooggeregshof, wat ook die eksekuteur aanstel, daarop aandring dat ʼn regsgeleerde of trustmaatskappy aangestel word.
Stap 3: Teken en laat jou testament deur getuies onderteken word
As jy tevrede is met die bewoording van jou testament, teken die oorspronklike weergawe en laat dit deur twee getuies wat ouer as 14 is, geteken word. Onthou, jy moet die testament in die teenwoordigheid van albei getuies teken, en die getuies moet elke bladsy parafeer en op die laaste bladsy hul volle handtekening plaas.
Die volgende persone mag nie as getuies teken nie:
- Enigiemand wat iets uit jou bestorwe boedel ontvang, en/of sy of haar gade.
- Die eksekuteurs, trustees en voogde en/of hul gades.
Stap 4: Stuur die testament vir veilige bewaring
Indien jy byvoorbeeld Sanlam Trust as die eksekuteur of mede-eksekuteur van jou boedel benoem het, word jou oorspronklike, getekende testament in Sanlam Trust se testamentekluis bewaar totdat dit tyd is om jou boedel af te handel. Die meeste banke sal dit ook teen ʼn maandelikse bedrag in bewaring hou.
Stap 5: Betaal jou bewaringsgeld
Vir ʼn nominale bedrag per jaar word jou testament veilig bewaar en jy kry nog ander voordele, soos afslag op jou eksekuteursgeld vir boedels wat groter as R950 000 is wanneer ʼn finansiële instelling jou boedel afhandel. Indien jy ouer as 65 is, hoef jy nie die bewaringsgeld te betaal nie.
Stap 6: Hersien jou testament
Hersien jou testament minstens elke twee jaar, en veral indien jou persoonlike omstandighede verander het – byvoorbeeld as jy trou of skei, by die dood van ʼn gade of erfgenaam, die geboorte van ʼn kind, die verkryging van eiendom of ʼn besigheid, of as jy ʼn erfporsie ontvang.