
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
ʼn Gids vir onderhoude wanneer jy van loopbaan verander
Deur Reon Janse van Rensburg
ʼn Loopbaanverandering kan ʼn opwindende, tog uitdagende onderneming wees. As jy na ʼn nuwe professionele rigting beweeg, vra voornemende werkgewers dikwels geldige vrae tydens onderhoude en wanneer jy dit nie vooraf oefen nie, kan dit jou in ʼn strik laat val. Dit is van kardinale belang om te verstaan waarom werkgewers vrae oor die rede vir jou loopbaanverandering stel, en om deurdagte antwoorde te formuleer om jou waarde en potensiële bydrae tot ʼn nuwe rol oor te dra.
Volgens Indeed wil werkgewers om verskeie redes insigte in jou loopbaanverandering hê. Eerstens poog hulle om jou toewyding as ʼn moontlike werknemer te meet voordat hulle tyd en hulpbronne belê in die aanstelling of opleiding van nuwe personeel. Bestuurders wil dikwels die versekering hê dat jy werklik entoesiasties is om ʼn langtermynloopbaan met hul maatskappy te stap.
Hoe om jou loopbaanverandering in ʼn onderhoud aan te spreek? Volgens The Muse kan jy die volgende aspekte in ag neem:
Bespreek jou langtermyndoelwitte
Verduidelik hoe jou besluit om van loopbaan te verander, verband hou met jou langtermynloopbaandoelwitte. Toon aan voornemende werkgewers dat jy ernstig besig is om oor jou professionele toekoms na te dink. Bespreek hoe hierdie unieke geleentheid of spesifieke maatskappy verband hou met jou langtermyn-ambisie.
Wees positief en eerlik
Beantwoord die vrae van die werkgewer eerlik en fokus op die positiewe aspekte van jou loopbaanverandering. Die bestuurder mag dit waardeer dat jy gemotiveerd en gefokus bly deur ʼn proses van verandering. Dit wys dat jy vaardighede bemeester het wat nodig is om in die werkplek te floreer.
Beklemtoon jou unieke perspektief
Fokus op die unieke waarde wat jy kan bied op grond van jou vorige loopbaan. Dui aan hoe jou kwalifikasies jou ʼn voordeel bied in die nuwe beroepsveld. Byvoorbeeld, ʼn opvoeder wat na ʼn loopbaan in verkope oorskakel, kan tydens ʼn onderhoud uitlê hoe hulle reeds bewus is van kliënte se uiteenlopende voorkeure en wat die mark tans bied.
Beklemtoon jou vaardighede
Stel jou professionele vaardighede ten toon deur voorbeelde in jou antwoord te gee. Gesels oor spesifieke gevalle waarin jy jou vermoëns suksesvol toegepas het as bewys dat jy sal kan uitblink in ʼn nuwe loopbaan.
Doen navorsing oor die maatskappy
Doen deeglike navorsing oor die maatskappy voordat jy die onderhoud betree. Kyk na hulle missie, langtermyndoelwitte, geskiedenis en maatskappykultuur. Dui aan hoe jy jou antwoorde in lyn bring met aspekte van die onderneming wat met jou resoneer.
Bring tasbare bewyse
Indien moontlik, bring tasbare bewyse van jou vorige werk wat oorgedra kan word na ʼn nuwe loopbaan. Voorbeelde sluit in ʼn portefeulje of aanbevelingsbriewe van kliënte.
Moenie uit die oog verloor dat jy ʼn veelsydige persoon is wat baie dinge kan bereik en verskeie hoede kan dra nie. Jou vaardighede en ervaring is ongetwyfeld toepaslik op meer as een werk. Hoe duideliker jy jou waarde kan verwoord en die raakpunte tussen jou verlede en nuwe geleenthede kan trek, hoe meer moontlikhede sal daar vir jou beskikbaar wees.
As ʼn gemeenskap moet ons mekaar help om werk te kry en mekaar se vaardighede benut. Elkeen wat wil werk, moet kan werk, vry van inmenging deur die staat. Solidariteit is dié bymekaarkomplek vir elkeen wat poste wil plaas of vir poste wil aansoek doen. Dit is werkfasilitering vir ons gemeenskap – Solidariteit skep ʼn plek met integriteit vir ernstige mense wat regtig wil werk. Indien jy van loopbaan wil verander moedig Solidariteit jou aan om jou profiel op Solidariteit te registreer waar jy kan aansoek doen om ʼn verskeidenheid van poste. Doen dit vandag sommer nog – dit lei dalk na môre se geleenthede!