
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
ʼn Klein apteek met ʼn groot hart vir die gemeenskap
Deur Maryna Eksteen
Wanneer ʼn mens by die Local Choice-apteek in Pretoria-Noord instap, is die naam eintlik maar vanselfsprekend – dit is die gemeenskap se apteek. Hiér word jy deur aptekers Marinus van der Ryst en Ronald Schroeder hartlik gegroet en verwelkom. Dié apteek kan in een sin opgesom word: ʼn klein apteek met ʼn groot omgeehart vir die gemeenskap.


Die Local Choice-apteek het op 29 April 2023 geopen, en volgens Marinus was die apteek ʼn saak van gebed en was die doel om die gemeenskap te dien. Marinus is al 25 jaar in die aptekerswese. Hy het besluit om ʼn apteker te word omdat hy ʼn passie het vir mense, maar veral omdat hy ʼn sagte plek in sy hart vir bejaardes het. Marinus en Ronald stap al lank die pad saam en werk soos ʼn goedgeoliede masjien saam.
Volgens Marinus maak die gemeenskap sy werk en die lang ure op sy voete die moeite werd. Pasiënte ry van heinde en ver om hulle medikasie by Marinus en Ronald te koop. Dít spreek boekdele van die gemeenskap se lojaliteit teenoor die aptekers en die apteek. Die meeste van die apteek se pasiënte kom al ʼn lang pad saam met Ronald en Marinus en is al deel van die apteek se familie.
Die apteek beoog om binnekort ʼn volwaardige kliniek op die been te bring, maar staan nie terug om pasiënte te dien nie, selfs al is dit ná ure. Dié apteek bied reeds ʼn verskeidenheid kliniek dienste aan die gemeenskap soos om bloeddruk te toets, om bloedmonsters te neem, wondversorging te doen en om voorskrifmedisyne en oor-die-toonbank-medisyne te verskaf. Die aptekers en hulle personeel stap sonder twyfel die ekstra myl vir hulle pasiënte en kliënte.
Marinus is vanuit die staanspoor eerlik daaroor dat hulle nie winsgedrewe nie, maar gemeenskapgedrewe is omdat interaksie met pasiënte vir hom van meer waarde is. Die apteek bied op 2 September 2023 ʼn Lentefees aan wat ten doel het om die gemeenskap te betrek en te dien. Die dag belowe om hope pret op te lewer met stalletjies, pannekoek en worsbroodjies. Daar sal ook ʼn gelukkige trekking wees met talle pryse op die spel, waaronder ʼn lugbraaier en ʼn 50-duim-slimtelevisie. Marinus nooi ondernemings in die gemeenskap om aan die Lentefees deel te neem en om saam met die apteek aan die gemeenskap terug te gee.
Volgens Marinus maak die gemeenskap dit vir hom moontlik om sy passie uit te leef. “Dankie dat julle ons as ʼn nuwe apteek so verwelkom het en ondersteun. Ons probeer om ʼn goeie diens in moeilike tye en in moeilike omstandighede te lewer, en ons sal altyd probeer om te help waar ons kan. Ons kan net vir ons kliënte dankie sê vir hulle ondersteuning en lojaliteit,” sê Marinus.
Klik hier as jy deel van die Solidariteit Aptekersnetwerk wil word – ʼn plek waar elke apteker tuis, veilig en gewaardeerd kan voel.