loading
Artikels
4 dae gelede
n-lee-graf-ewige-lewe

Foto Krediet: OkayDeer

ʼn Leë graf – ewige lewe!

Geseënde Paasfees! Op Paassondag vier ons Jesus se opstanding en die bevestiging van God se onbeskryflike liefde vir ons. Dit is ʼn herinnering dat daar altyd hoop is, selfs in die donkerste tye. “… Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” – Johannes 11:25-26. Lees hier meer oor die storie van Jesus se opstanding.


Deur Kyla-Ann du Toit

(Matteus 28:1-10; Markus 16:1-8; Lukas 24:1-12; Johannes 20:1-18)

Op die derde dag ná Jesus se kruisiging, net toe die son oor Jerusalem begin skyn, het ʼn paar vroue – Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus, en Salome – na Jesus se graf gegaan. Hulle het olie saamgebring om sy liggaam te balsem. Maar toe hulle by die graf kom, sien hulle iets vreemd. Die groot klip voor die ingang was weggerol – die graf was leeg!

ʼn Engel het toe gesê: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het.” (Matt. 28:5-6) En toe verskyn Jesus self – lewendig – aan Maria.

Die vroue hardloop terug om die dissipels te vertel: “Hy leef!”

Die leë graf was nie ʼn teken van verlies nie – dit was ʼn teken van hoop en ewige lewe. Die dood is oorwin!

Mag jy vandag onthou: God bring lewe waar daar dood was, hoop waar daar vrees was en lig waar daar duisternis was.

Hy leef – en omdat Hy leef, is daar altyd hoop!

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat ons wat in Hom glo eendag die ewige lewe sal hê nie? Jesus se opstanding is die kern van ons geloof as Christene en dit bevestig die feit dat Hy ons van sonde verlos het.

“… Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” – Johannes 11:25-26

Op Paassondag, wanneer ons Jesus se opstanding vier, herinner ons onsself aan die onbeskryflike genade wat ons in Christus ontvang het. Dit is ʼn dag van hoop, vreugde en dankbaarheid, want ons weet dat deur Sy opstanding ons deur geloof in Hom nuwe lewe ontvang het.

Geseënde Paasfees!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel