loading
Artikels
1 jaar gelede
n-omvattende-gids-vir-jou-eerste-werkonderhoud

Foto Krediet: OkayDeer

’n Omvattende gids vir jou eerste werkonderhoud

Deur Nico Strydom

ʼn Werkonderhoud is jou geleentheid om jouself aan ʼn potensiële werkgewer te bemark en verkoop, maar daar word dikwels nie genoeg tyd, energie en fokus aan voorbereiding hiervoor bestee nie.

“Gegradueerdes doen hulself ʼn onreg aan deur nie die nodige tyd en energie daaraan te bestee om vir hul eerste onderhoud voor te berei nie,” sê dr. Bronwyn Le-Ann Batchelor, hoof van die Regsfakulteit by The Independent Institute of Education.

Om werk te soek kan terselfdertyd opwindend en uitdagend wees, maar die noodsaaklikheid om jouself te onderskei is soveel groter in ʼn land met ʼn hemelhoë werkloosheidsyfer. “Jou eerste onderhoud kan jou onderskei van ander werksoekers en die toon aangee vir jou hele loopbaan, wat dit dus noodsaaklik maak om dit met deeglike voorbereiding en selfvertroue te benader.”

Dit is dus noodsaaklik om deeglik vir daardie uiters belangrike eerste onderhoud voor te berei. Dit sluit in om navorsing te doen oor die werkgewer en die spesifieke rol sowel as voorbereiding en inoefening.

Benewens om die maatskappy te verstaan, moet jy demonstreer dat jy die rol verstaan, weet wat van jou verwag sal word en hoe jy aan die vereistes vir die pos sal voldoen, sê Batchelor. “Ontleed die posbeskrywing of advertensie deeglik en maak seker jy verstaan ​​die sleutelverantwoordelikhede, asook die vereiste vaardighede en kwalifikasies. Oorweeg hoe jou vaardighede en ervarings ooreenstem met die posvereistes en wees gereed om hierdie belyning tydens die onderhoud te verwoord. Hierdie voorbereiding sal jou toelaat om jou opregte belangstelling in die rol te demonstreer en die onderhoudvoerder te oortuig dat jy die regte pasmaat is.”

Eerste indrukke is nie altyd akkuraat nie, maar dit kan onmiddellik ʼn verskil maak, hetsy positief of negatief.

“Berei ʼn bondige en boeiende inleiding oor jouself voor wat jou relevante vaardighede en ervaring beklemtoon. Hou dit kort, gefokus en boeiend.” Trek professioneel aan in kleredrag wat ooreenstem met die maatskappy se kultuur en die pos waarvoor jy aansoek doen.

Dit is maklik om algemene onderhoudsvrae na te vors, asook die benadering wat daarmee gevolg moet word. Batchelor meen egter dit is belangrik om nie generiese antwoorde te verskaf nie. Stel ‘n lys van jou sleutelprestasies saam en hoe dit jou vaardighede, karakter en kwalifikasies vir die pos demonstreer.

Volgens Batchelor is die STAR-metode (Situasie, Taak, Aksie, Resultaat) ʼn goeie benadering vir die strukturering van antwoorde. “Dit laat jou toe om konkrete voorbeelde te verskaf van hoe jy uitdagings in die verlede suksesvol hanteer het. Ruim tyd in om hierdie voorbeelde voor te berei. Selfs as jy nie voorheen formeel in diens was nie, sal jy voorbeelde hê van uitdagings of suksesse wat jy in jou studies, ad hoc-werk, vrywilligerswerk of persoonlike lewe in die gesig gestaar het en wat jou karakter, vaardighede en kwalifikasies kan beklemtoon wat met die beskikbare posisie belyn is.”

Dit is ook uiters belangrik om vooraf te oefen. “Roep die hulp van ʼn vriend of familielid in om ‘n skynonderhoud te voer. Oefen om vrae te beantwoord, verfyn jou lyftaal en versoek konstruktiewe terugvoer.”

Batchelor beklemtoon dat sukses tydens ʼn onderhoud nie bloot van ʼn gelukskoot afhang nie.

“Onderhoude verg voorbereiding en strategiese beplanning. Met die regte voorbereiding kan jy jou kanse op sukses aansienlik verbeter.” 

Sluit aan by Solidariteit se aanbod vir jong werkendes, want ons is hier om jou op jou loopbaanreis te help. Besoek Solidariteit en loer na die Jongwerkende-lidmaatskap om te sien hoe ons jou help met die opstel van ʼn begroting, ʼn CV en nog vele meer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel