Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
“ʼn Ontploffing, ʼn slag en alles verander.” – Solidariteit-lid
Robin-Lee Maré
Op ’n doodgewone werksdag in 2018 het Nian Williams uitgesien om haar negejarige dogtertjie as deel van ʼn ope dag-geleentheid saam te neem werk toe. Dit was skoolvakansie, en vir die 40-jarige Nian was die myn ’n bekende omgewing – ’n plek waar sy haar loopbaan gebou het en werk gedoen het waarvoor sy opreg lief was.
Teen die einde van die dag sou haar lewe egter nooit weer dieselfde wees nie en sou ʼn fratsongeluk byna haar hele wêreld onder haar uitruk.
Nian, ’n boorling van Benoni, het ondernemings- en finansiële bestuur in die Oos-Kaap studeer. Ná haar studies het sy teruggekeer na Gauteng toe en haar plek in die mynbedryf gevind. Sy het met administrasie begin, later as administratiewe toesighouer gewerk en ook finansiële verantwoordelikhede behartig.
“Ek was baie lief vir my werk,” vertel sy.
Deel van die myn se produksieproses was beheerde inploffings. Nian het dit al verskeie kere gesien en beskryf dit as een van die indrukwekkendste dinge om van ’n veilige afstand af te beleef.

Ook op hierdie spesifieke dag was sy daar om met enige logistieke behoeftes te help. Die voorbereiding was afgehandel; alle veiligheidsmaatreëls was in plek. Mense is na ’n veilige waarnemingspunt verskuif en voertuie is uit die gebied verwyder.
Nian se dogtertjie was by haar. ’n Ander seuntjie, van een van die besoekers se kinders van die nabye gemeenskap, het ook naby hulle gestaan.
Op kort kennisgewing is die plek waarvan hul die inploffing sou waarneem verander van die normale plek op ʼn hoër area teen ʼn berg na ʼn ander geïdentifiseerde plek. Maar toe die inploffing plaasvind, het iets verskriklik verkeerd gegaan.
Klippe wat val soos reën
Wat ’n beheerde inploffing moes wees, het in ’n gewelddadige, onbeheersde ontploffing ontaard. ’n Kragtige drukgolf het gevolg en rotsstukke is teen ’n geweldige spoed deur die lug geslinger.
Vir ’n oomblik was daar net chaos – van die soort wat deur ontploffings in rolprente uitgebeeld word.
Kontrakteurs, ingenieurs, ander werknemers en besoekers het gehardloop om skuiling te probeer vind. Klippe het van alle kante af gekom.
Nian het nie eerste aan haarself gedink nie. Sy het haar dogtertjie en die seuntjie gegryp en probeer weg vlug van die gevaar. Toe tref die krag van die ontploffing haar.
Sy is meters van die kinders af weggeslinger en het onder ’n voertuig beland.
“Dit voel asof jy gestenig word,” vertel sy. “Soos om in ’n wasmasjien vol klippe te wees. Dit hou net nie op nie.”
Meer klippe. Nog klippe. Oor en oor. Haar dogtertjie en die seuntjie was beseer, maar het die fratsongeluk sonder ernstige beserings oorleef. Nian was egter nie so gelukkig nie.
Haar ruggraat het van bo tot onder ernstige skade opgedoen, met sowat 25 frakture. Ongeveer die helfte van haar ribbes was voor en agter gebreek. Haar longe is ernstig beseer.
Haar dogtertjie het haar onder die voertuig gevind en uitgesleep. Sy kon nie haar eie liggaam regop hou nie en ’n veiligheidsbeampte moes haar ondersteun.
Asemhaal was byna onmoontlik. Met elke asemteug kon sy bloed proe. Te midde van die pyn en verwarring was daar net een gedagte wat by haar gespook het: dat haar dogtertjie hierdie alles beleef.
“Kry haar weg.”
Sy wou nie hê haar kind moes sien hoe haar ma sterf nie.
“Ek het net gebid om wakker te bly”
Die ontploffing het die toneel so ontwrig, selfs die ambulanse het gesukkel om die beseerdes te bereik. Toe hulp uiteindelik by Nian uitkom, is sy per ambulans na Unitas-hospitaal vervoer.
Sy was verskriklik bang. Van die oomblik toe sy in die ambulans gelê het tot haar aankoms by die hospitaal, het sy gebid. Nie vir ’n wonderwerk of groot beloftes nie. Net om wakker te bly. Sy was bang sy maak haar oë toe en word nooit weer wakker nie.
Later sou iets van vroeër die oggend nuwe betekenis kry.
Voor Nian werk toe is, het haar man vir haar gesê hy gaan dié dag tuis bly. Iets het swaar op sy hart gedruk. Hy het gevoel hy moet vir sy vrou en hul huwelik bid. Ure later het een van Nian se kollegas hom gebel om hom van sy vrou se ongeluk in te lig.
By die hospitaal het dokters vinnig opgetree. ’n Pyp is in haar bors geplaas om bloed rondom haar longe te dreineer. Op ’n stadium het sy haar bewussyn verloor en moes sy gestabiliseer word.

Vir ’n volle dag was sy verlam.
Almal moes wag om te sien of die gevoel sou terugkeer. Dit het.
Nian het twee weke in die hospitaal deurgebring. Die pad na herstel sou egter baie langer wees.
Ná die klippe het die vrae gekom
Die liggaamlike trauma was maar een deel van Nian se stryd. Daarna het die ondersoek na die ongeluk gevolg.
Sy was steeds besig om van haar beserings te herstel toe sy by ’n raadsaal vol prokureurs moes instap. Vir iemand wat pas ’n lewensveranderende ongeluk oorleef het, was dit oorweldigend. Maar Nian het nie alleen ingestap nie. Solidariteit se Beroepsgesondheid- en veiligheidsafdeling was daar.
“Ek kan my nie indink hoe dit sou wees om alleen by daardie raadsaal in te stap nie,” sê sy.
Die ondervraging was uitmergelend. Die vrae het haar laat voel asof sý iets verkeerd gedoen het. Sy was die een wie se liggaam onder die geweld van die ontploffing gebreek het, maar nou het sy gevoel asof sy haarself moes verdedig. Die eerste keer was dit teen klippe. Hierdie keer was dit teen vrae wat wou vasstel of haar eie onverskilligheid nie ʼn rol gespeel het nie.
Sy het ervaar dat hulle die betrokke partye probeer verontskuldig het, terwyl haar eie integriteit en weergawe van die gebeure in twyfel getrek is. Om aan dié kruisondervraging blootgestel te word, het die ervaring vir haar nóg meer traumaties gemaak.
“Dit het my soos ’n krimineel laat voel.”
Solidariteit se teenwoordigheid het iets verander. Daar was iemand aan haar kant. Iemand wat die proses verstaan het, kon ingryp en kon seker maak sy word regverdig behandel en beskerm. Vir Nian het dit ’n geweldige emosionele las van haar skouers afgehaal.
Wat gebeur nou met my?
Ná so ’n ongeluk eindig die vrae nie wanneer ’n mens die hospitaal verlaat nie.
Eintlik begin sommige van die moeilikstes dan eers. Sal ek ooit weer sonder pyn kan beweeg? Wat gaan van my gesondheid word? Hoe gaan ek werk? Hoe gaan my toekoms lyk?
Die werk waarvoor Nian só lief was, was skielik nie meer ’n opsie nie. Haar beserings het haar loopbaan in die mynbedryf beëindig.
Terwyl sy met dié nuwe werklikheid probeer vrede maak het, het Solidariteit langs haar gebly. Met elke stap en elke proses rondom haar werk het Solidariteit seker gemaak dat haar regte beskerm word en die korrekte prosedures gevolg word.
Vir Nian was dit belangrik om te weet iemand luister.
Sy hoef nie ’n kenner in arbeidsreg te wees terwyl sy terselfdertyd probeer leer hoe om weer haar eie liggaam te vertrou nie. Sy hoef nie alleen teen ’n tafel vol prokureurs te staan nie; sy het nou haar eie Solidariteit-prokureur gehad.
Sy moes net haar verhaal vertel en weet dat iemand langs haar staan.
’n Ander toekoms as wat sy beplan het
Nian is uiteindelik medies ongeskik verklaar. Die loopbaan waaraan sy jare gebou het, was verby.
Solidariteit het egter gehelp om seker te maak haar lewe ná die ongeluk word nie nóg moeiliker gemaak deur ’n verlies aan alle finansiële sekerheid nie. Met Solidariteit se ondersteuning is die nodige proses gevolg sodat sy ’n maandelikse pensioen kon ontvang.

Geen pensioen kan ’n gesonde ruggraat teruggee nie. Geen regsproses kan die oomblik uitwis toe ’n ma gedink het haar dogtertjie gaan haar sien sterf nie. En geen vergoeding kan die lewe terugbring wat Nian voor daardie dag geken het nie.
Maar wanneer alles binne enkele sekondes verander, maak dit ’n enorme verskil om nie alleen te wees nie. Nian se verhaal gaan daarom nie net oor ’n ontploffing nie.
Dit gaan oor ’n ma wat haar eerste instink gebruik het om kinders te beskerm. Oor ’n vrou wat met ’n gebreekte liggaam aangehou veg het. Oor gebede in ’n ambulans en ’n man wat daardie oggend, sonder om te weet hoekom, gevoel het hy moet vir sy vrou bid.
En dit gaan oor die waarde van Solidariteit wat langs jou kom staan en jou beskerm wanneer jy self nie meer weet hoe die volgende tree gaan lyk nie.
Vir Nian het Solidariteit juis op daardie oomblik meer as net ’n vakbond geword.
Toe haar wêreld letterlik om haar uitmekaar val, was sy nie alleen nie.