Fotokrediet: Amazon webtuiste
Gekopieër
Solidariteit ondersoek Amazon se beweerde 100%-uitsluiting van wit mense
Solidariteit gaan berigte dat Amazon, die Amerikaanse tegnologiereus, ondernemings op grond van hul eienaars se ras van ’n sakeontwikkelingsprogram in Suid-Afrika uitsluit, deeglik ondersoek.
Amazon Web Services (AWS) se Ekwiteitsekwivalente-beleggingsprogram (EEIP) stel dit as ’n uitdruklike toelatingsvereiste dat ’n onderneming honderd persent in swart besit moet wees. Dit beteken dat ’n onderneming reeds van die program uitgesluit word indien ’n wit persoon ’n aandeelhouer daarvan is.
AWS beskryf die program as deel van sy strewe om “diversiteit en insluiting” te bevorder. Solidariteit meen egter dat daar niks divers of inklusief aan ’n program is waar ’n eienaar se ras bepaal of sy onderneming toegang tot ekonomiese geleenthede kry nie.
Solidariteit neem die berigte ernstig op en sal die program, die toelatingsvereistes en moontlike remedies deeglik ondersoek. Indien dit blyk dat die program inderdaad op absolute rasse-uitsluiting neerkom, sal Solidariteit met mening optree.
Amazon is ’n Amerikaanse multinasionale maatskappy wat hom wêreldwyd op gelykheid en insluiting beroep. Dit is daarom veral kommerwekkend indien ’n program in Suid-Afrika bedryf word wat ondernemings op grond van hul eienaars se velkleur uitsluit.
Solidariteit beklemtoon die beginsel dat ras nie ’n toegangskaartjie tot ekonomiese geleenthede mag wees nie. Absolute uitsluiting bloot op grond van ras is juis die soort praktyk waarteen Solidariteit hom plaaslik én internasionaal verset.
Multinasionale maatskappye kan nie een stel waardes oor gelykheid en nie-diskriminasie aan die wêreld verkondig en dan in Suid-Afrika ’n ander maatstaf toepas nie. Waar absolute rassegrense toegepas word, sal Solidariteit dit ondersoek en, waar nodig, met mening daarteen optree.