loading
Artikels
8 maande gelede
n-stap-vir-stap-bemarkingsplan-vir-jou-kantlynbesigheid

Foto Krediet: OkayDeer

ʼn Stap-vir-stap-bemarkingsplan vir jou kantlynbesigheid

Deur Essie Bester

Die tradisionele enkelloopbaanpad is besig om te vervaag. Dit is deesdae algemene praktyk om saam met jou primêre werk ʼn kantlynbesigheid te bedryf. Die bemarking daarvan verg deursettingsvermoë en aanpasbaarheid, maar met die regte leiding, doeltreffende strategieë en ’n sterk handelsmerk kan jy jou kantlynbesigheid posisioneer vir sukses.

‘n Onlangse artikel in Forbes beskryf die bemarkingstrategie vir jou kantlynbesigheid as ʼn werkende bloudruk wat aangepas en verander moet word namate jou besigheid groei. Die stappe waaraan jy aandag moet gee, lyk só:

1. Verstaan jou mark

Jy moet kennis dra van die grootte van jou mark,want dit kan jou help om realistiese verwagtinge vir jou kantlynbesigheid te stel.

As jy alledaagse noodsaaklikhede verkoop, kan jy verwag om gereelde aankope te doen, terwyl luukse items of gespesialiseerde dienste se aankope meer sporadies kan wees. Hierdie inligting bepaal jou bemarkingsfrekwensie en -boodskappe.

Oorweeg die totale potensiaal van jou mark. Miskien is daar ʼn nismark wat jy nog nie geteiken het nie of ʼn opkomende tendens wat ooreenstem met jou produk.

2. Identifiseer jou teikengehoor

Kennis van wie jou ideale kliënt is, kan jou help om boodskappe te skep wat aanklank vind, en dit kan tot groter betrokkenheid en hoër omskakelingkoerse lei.

Bepaal wat jou gehoor se inkomstegroep is, want dit kan jou help om pryspunte te bepaal, afslag te bied, of selfs die toon van jou advertensies help vorm.

Oorweeg geografiese en demografiese faktore. Is jou kliënte hoofsaaklik stedelinge of plattelanders? Ouderdom, geslag, opvoedingsvlak en beroep kan koopbesluite aansienlik beïnvloed.

3. Definieer die waarde wat jy bied

Waarde gaan nie net oor pryspunte of kenmerke nie. Deur die tasbare en ontasbare voordele wat jy aan kliënte lewer, se waarde duidelik te definieer, help jy potensiële kliënte verstaan ​​hoekom hulle jou bo mededingers moet kies.

Poog altyd om te wys hoe jou produk of diens ʼn kliënt se lewe beter maak of ʼn spesifieke probleem kan oplos.

Identifiseer en bevorder jou unieke verkoopstrategie – dit kan uitsonderlike naverkopediens, ʼn unieke produkkenmerk of ʼn lojaliteitsprogram wees – want dit verseker dat jou gehoor presies weet hoekom jy die beter keuse is.

Definieer jou nismark en hou daarby. Só bou jy gesag en vertroue in daardie domein op.

4. Ken jou kompetisie

Mededingers se strategieë en aanbiedinge kan insigte openbaar wat jou benadering verfyn en jou help om leemtes en geleenthede te identifiseer.

Ontleed hul aanbiedinge en unieke verkoopstrategie: Dit kan jou help om jou eie te verfyn. Dalk is daar kenmerke of voordele wat hulle uitlig wat jy misgekyk het.

Monitor hulle aanlyn teenwoordigheid: Hulle webwerf, bloginhoud, sosialemedia-aktiwiteit en klantresensies kan insig gee in hul bemarkingstrategieë, betrokkenheidstaktiek en gebiede waar dit dalk ontbreek – wat aan jou potensiële maniere bied om uit te staan.

Verstaan ​​hul prysstrategie: Deur te verstaan ​​hoe jou mededingers hul produkte of dienste se pryse bepaal, kan jy ingeligte besluite neem oor jou eie pryse.

5. Stel bemarkingsdoelwitte

Met jou promosies in gedagte kan jy bepaal wat jy wil bereik en watter doelwitte jy wil stel. Is dit die verkryging van nuwe kliënte, die bereiking van ʼn spesifieke verkoopsdoelwit of uitbreiding na ʼn nuwe marksegment?

Die SMART-akroniem: Spesifiek (Specific), Meetbaar (Measurable), Bereikbaar (Achievable), Relevant (Relevant) en Tydsgebonde (Time bound) is ’n maklike manier om seker te maak jy doen dit reg.

Sleutelprestasie-aanwysers (“Key Performance Indicators” – KPI’s) is die maatstawwe wat jou help om doelwitvordering na te spoor en dit gee jou ʼn tasbare manier om sukses te meet en strategieë aan te pas soos nodig. As jou doel is om webwerfverkeer ʼn hupstoot te gee, kan jou KPI die aantal unieke besoekers per week wees.

6. Definieer bemarkingsinisiatiewe en -strategieë

Ontluikende digitale bemarkingstrategieë is hier die sleutel.

  • • Sosialemediaplatforms: Die gebruik van platforms soos Facebook, Instagram, Twitter en LinkedIn kan die sigbaarheid en betrokkenheid van jou kantlynbesigheid aansienlik versterk.
  • • Gebruikersvriendelike webwerf: Deur jou webwerf en inhoud vir soekenjins te optimaliseer, kan jy ook jou sigbaarheid in soekresultate verhoog en organiese verkeer lok.
  • • ʼn E-poslys: E-posbemarking laat jou toe om direk met jou gehoor te kommunikeer, verhoudings te bou en omskakelings te dryf.
  • • Beïnvloederbemarking: Werk saam met beïnvloeders wat in lyn is met jou kantlynbesigheid se nismark. Dit help jou inskakel by hul gevestigde gehoor en gee blootstelling.
  • • Gereelde inhoudskepping: Waardevolle en boeiende inhoud vestig jou as gesaghebbend in jou bedryf. Dit kan blogplasings, video’s, podsendings of infografika insluit.
  • • Aanlyn resensies en getuigskrifte: Moedig tevrede klante aan om resensies en getuigskrifte op platforms soos Google, Yelp of industrie-spesifieke webwerwe te laat.

Bemarking is nooit ʼn een-grootte-pas-almal-poging nie. Byvoorbeeld, met onmiddellike verkope as ʼn topprioriteit kan betaal-per-klik-veldtogte lonend wees, terwyl inhoudbemarking en soekenjin-optimalisering (SEO) van groter nut kan wees vir langtermyn-handelsmerkbou. LinkedIn is ʼn goeie opsie wanneer jy professsionele persone wil teiken, terwyl platforms soos TikTok of Instagram dalk meer geskik is vir ʼn jonger demografie.

7. Beplan jou begroting

Dit help met die bestuur van jou verwagtinge, nasporing van opbrengs op belegging (“Return on Investment” – ROI) en optimalisering van toekomstige strategieë.

Evalueer die ROI van jou verskillende veldtogte gereeld. As ʼn spesifieke strategie nie die gewenste resultate lewer nie, moet jy fondse na ʼn doeltreffender inisiatief herlei.

Wees proaktief en sit ʼn gedeelte van jou begroting opsy vir opkomende geleenthede of onverwagte veranderinge.

Wil jy meer weet oor die reeks sleutelkonsepte en vaardighede wat nodig is om ʼn suksesvolle onderneming te begin en te bestuur? Solidariteit se interaktiewe en veeldoelige kursus vir aspirant-entrepreneurs sluit in die ontleding van markgeleenthede, die ontwikkeling van ʼn sakeplan, finansiële bestuur, asook bemarkingstrategieë. Hierdie kursus sal jou in staat stel om ʼn dieper begrip van die ondernemingswêreld te ontwikkel en praktiese vaardighede op te bou om ʼn suksesvolle onderneming te vestig en te laat groei.

Lede van Solidariteit geniet gratis toegang tot hierdie kursus en meer as ʼn 100 ander kursusse op Solidariteit se eenstopplatform vir werk en leer. Skep jou gratis profiel, koppel jou lidmaatskap en leer jou toekoms oop.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel