loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
n-toiletpapierrol-kan-n-loopbaan-in-gevaar-stel

Foto Krediet: ChatGPT

’n Toiletpapierrol kan ’n loopbaan in gevaar stel: Wat werknemers moet weet

Deur Robin-Lee Maré

’n Onlangse hofsaak waaroor Netwerk24berig het, waarin ’n werknemer sy afdanking suksesvol betwis het nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n rol toiletpapier by sy werk gesteel het, dien as ’n belangrike waarskuwing aan sowel werkgewers as werknemers.

Hoewel die werknemer uiteindelik die saak gewen het, beklemtoon die saak hoe selfs iets oënskynlik gering, ’n ernstige arbeidsregtelike nagevolg kan hê.

Volgens Karolien van Wyk, arbeidshoflitigant verbonde aan Solidariteit, bly diefstal in die werkplek ’n ernstige oortreding, ongeag die waarde van die item.

Diefstal is altyd ’n ernstige saak

Van Wyk verduidelik dat ’n werkgewer steeds gebonde is aan sy dissiplinêre kode en die vereistes van billike arbeidspraktyke wanneer ’n werknemer van diefstal beskuldig word.

“Diefstal moet op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys word en vereis nie net die onregmatige toeëiening van eiendom nie, maar ook die opset om iemand anders permanent van daardie eiendom te ontneem,” sê sy.

In die arbeidsreg word daar nie onderskeid getref tussen “klein” en “groot” diefstal nie. “Die kern van die saak is oneerlikheid,” sê Van Wyk. “Die argument is eenvoudig: as iemand bereid is om iets kleins te steel, kan hulle moontlik ook iets groters steel. Dit tas die vertrouensverhouding tussen werkgewer en werknemer aan.”

Kan iets van geringe waarde tot afdanking lei?

“Ja, dit kan. Selfs die steel van ’n item met ’n lae monetêre waarde kan afdanking regverdig, mits die werkgewer kan bewys dat die werknemer die item onregmatig geneem het met die doel om dit permanent te ontneem,” sê Van Wyk. “Tog moet daar altyd ook gekyk word na versagtende faktore, soos ’n werknemer se diensrekord, senioriteit en vorige dissiplinêre oortredings, voordat ’n gepaste sanksie opgelê word.”

Waarom het die werknemer die saak gewen?

In die betrokke saak waaroor Netwerk24 berig het, het die hof bevind dat die werkgewer nie kon bewys dat die toiletpapier inderdaad die eiendom van die werkgewer was nie. Die werknemer het aangevoer dat hy dit van die huis af gebring het, en die werkgewer kon nie op ’n oorwig van waarskynlikhede die teendeel bewys nie.

Die hof het verder bevind dat die ondersoek gebrekkig was. “Die werknemer is selfs toegelaat om die perseel met die toiletpapier te verlaat, wat die indruk geskep het dat dit wel sy eiendom was,” sê Van Wyk. “Daarbenewens kon sekuriteitsbeamptes nie duidelik getuig oor wat gebeur het nie, en hoewel foto’s van die toiletpapier geneem is, is daar nooit vergelykende foto’s geneem om te bewys dat dit dieselfde soort toiletpapier is as dié wat die werkgewer aan werknemers verskaf nie.”

Die belang van behoorlike bewyse en ’n regverdige proses

Van Wyk meen hierdie saak onderstreep die noodsaaklikheid daarvan dat werkgewers oor behoorlike bewyse beskik en ’n regverdige dissiplinêre proses volg.

“Sonder dit kan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) of die Arbeidshof beslis dat ’n ontslag substantief of prosedureel onbillik is,” sê Van Wyk.

Volgens Van Wyk loop ’n werkgewer wat vermoed dat ’n werknemer steel maar nie oor voldoende bewyse beskik nie, die gevaar om later hom-/haarself in ’n onbillike ontslagbevinding vas te loop.

’n Duidelike waarskuwing aan werknemers

“Vir werknemers is die boodskap egter ewe duidelik: enige oortreding waar oneerlikheid betrokke is, kan tot ontslag lei. Selfs ’n eenmalige oortreding kan jou hele loopbaan in gevaar stel,” sê Van Wyk.

Van Wyk se raad aan werknemers is eenvoudig maar belangrik: “As jy onseker is of iets jou in die moeilikheid kan laat beland, vra eerder jou bestuurder wat om te doen. Dit is altyd beter om vooraf duidelikheid te kry as om later die gevolge te dra.”

Solidariteit staan lede by

Solidariteit herinner lede dat hulle nie alleen is wanneer hulle met dissiplinêre optrede of afdanking gekonfronteer word nie.

Lede kan die Dienssentrum kontak vir advies oor hul spesifieke omstandighede, en Solidariteit kan, waar toepaslik, sake na die KVBA verwys en lede daar verteenwoordig.

Hierdie saak wys weereens: iets wat klein lyk, kan groot gevolge op beide regs- en loopbaanvlak inhou.

Waaksaamheid, eerlikheid en tydige advies bly elke werknemer se beste beskerming.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel