Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit: Tariefverhogings op ingevoerde voertuie kan motorbedryf én verbruikers benadeel
Solidariteit waarsku dat die regering se plan om invoertariewe op voertuie van 25% tot 50% te verhoog, nie die plaaslike motorbedryf sal versterk nie. Inteendeel, dit kan die mark verder onder druk plaas en voertuie vir gewone Suid-Afrikaners nóg minder bekostigbaar maak.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sal ’n verdubbeling van die tarief ernstige prysimplikasies hê, veral in die intreevlakmark.
“Deur die tarief van 25% tot 50% te verhoog, kan die goedkoopste voertuie in die Suid-Afrikaanse mark se pryse van ongeveer R180 000 tot sowat R225 000 styg,” sê Du Buisson. “Dit beteken hierdie voertuie word dan ook aan die belasting op sogenaamde luukse voertuie onderwerp, wat dit nóg duurder maak.”
Du Buisson wys daarop dat daar ’n wanpersepsie bestaan dat goedkoop ingevoerde voertuie direk met plaaslik vervaardigde voertuie meeding.
“Die ironie is eenvoudig dat die goedkoopste plaaslik vervaardigde voertuig sowat R100 000 meer kos en dus buite bereik van baie intreevlakkopers val,” verduidelik hy.
Solidariteit waarsku dat só ’n tariefverhoging die persepsie kan skep dat alle voertuie onbekostigbaar is.
“Dit vertrap nie net gewone mense se droom om ’n motor te besit nie, maar is uiteindelik skadelik vir die hele motorbedryf,” sê Du Buisson.
Hy meen alternatiewe, meer volhoubare oplossings moet dringend oorweeg word. Sommige luukser Chinese voertuie word reeds plaaslik volgens die sogenaamde “semi knocked down”-model aanmekaargesit.
Volgens Du Buisson kan die regering druk uitoefen om vervaardigers aan te moedig om hul plaaslike aanlegte uit te brei en oor te skakel na die “completely knocked down”-model, waar voertuie uit individuele onderdele vervaardig word.
“Selfs dit spreek egter nie die kern van die probleem aan nie,” waarsku Du Buisson. “Vervaardigers kla reeds dat die plaaslike motormark te klein is. Óf motors moet goedkoper word, óf mense moet ryker word.”
Hy voeg by dat motorvervaardigers, soos baie ander bedrywe, gebuk gaan onder hoë elektrisiteitskoste, logistieke infrastruktuur wat verval en duur is, en ’n swaar belastinglas.
“Daar moet dringend gekyk word na die belasting waaraan plaaslike vervaardigers onderwerp word, asook na aansporings om te verseker dit steeds in die beste belang van belastingbetalers, verbruikers en vervaardigers is.”
’n Verdere knelpunt wat volgens Solidariteit dringend hersien moet word, is die belasting op luukse voertuie. Tans geld hierdie belasting vir alle voertuie wat meer as R200 000 kos.
“Dit beteken bykans alle voertuie word vandag as ‘luuks’ belas, terwyl werklike luukse voertuie reeds vir baie jare aansienlik duurder is,” sê Du Buisson.
Solidariteit doen ’n beroep op die regering om eerder op strukturele hervormings, beter bestuur, laer insetkoste en realistiese belastingbeleide te fokus, eerder as om verbruikers en die breër motorbedryf verder te straf met tariefverhogings.