Foto Krediet: Gemini
Gekopieër
Lastersaak: Solidariteit volhard met saak; minister volhard met vals beweringe
Solidariteit hoop om binnekort ʼn hofdatum te ontvang vir die lastersaak rakende bewerings oor die verspreiding van sogenaamde ‘waninligting’ teen die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshaveni. Solidariteit neem ook kennis van haar jongste uitsprake wat opnuut teen Solidariteit gemik is.
Met die lastersaak eis Solidariteit van Ntshaveni ʼn verskoning, ʼn skulderkenning asook skadevergoeding van R500 000 weens uitsprake in haar mediaverklaring van Maart 2025. Die bedrag sal, indien toegeken, aan Solidariteit Helpende Hand geskenk word.
Hierdie uitsprake is ook klakkeloos deur sommige mediahuise herhaal.
In die verklaring het Ntshaveni beweer dat Solidariteit waninligting oor plaasmoorde en volksmoord in Suid-Afrika in die VSA versprei het. Solidariteit ontken dit ten sterkste en handhaaf dat hy nog nooit vals inligting oor plaasmoorde versprei het of beweer het dat ʼn “wit volksmoord” in Suid-Afrika plaasvind nie.
Nietemin is daar berig dat Ntshaveni onlangs by die kabinetslekgotla in Pretoria gesê het “die geskiedenis het geen leë bladsye nie”, terwyl sy ook opgemerk het dat die verspreiders van waninligting “nie meer verkondig dat ʼn wit volksmoord hier plaasvind nie”.
Sy is voorts gevra of die regering teen hierdie “verspreiders van waninligting, veral in Amerika” gaan optree. Haar reaksie was ontwykend, met die opmerking dat “van ons deur hulle (Solidariteit) voor die hof gedaag word.”
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, kon Ntshaveni en die regering tot dusver geen enkele voorbeeld verskaf van sogenaamde waninligting wat deur Solidariteit versprei is nie.
“Boonop erken die minister in die antwoordende hofstukke dat haar uitsprake in die mediaverklaring daarop gemik was om die vakbond (Solidariteit) te berispe oor sy kritiek op die Suid-Afrikaanse regering en sy buitelandse skakeling met die VSA.
“Hierdie behoefte om Solidariteit ‘terug te kry’ regverdig hoegenaamd nie lasterlike en vals bewerings oor die verspreiding van waninligting nie. Dit is ʼn poging om Solidariteit se mond te snoer en om vryheid van spraak aan bande te lê,” sê Van der Bijl.
Solidariteit beskou die minister se vals narratief oor die verspreiders van waninligting as die werklike waninligting en glo dit is misleidend teenoor die publiek.
Dit blyk ook duidelik vanuit die hofstukke hoe Ntshaveni se bedoeling juis was om Solidariteit se reputasie uit weerwraak skade te berokken.
Intussen gaan Solidariteit voort om met die Amerikaanse én Suid-Afrikaanse regerings te skakel – veral om Suid-Afrika se behoud in die Agoa-handelsooreenkoms te bepleit.
Solidariteit se standpunt bly onveranderd dat die ANC alleen verantwoordelik is vir die diplomatieke krisis tussen die twee lande, wat die beëindiging van Suid-Afrika se Agoa-deelname kan veroorsaak.