
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
ʼn Wêreld sonder Solidariteit: leë vleispotte en geskroeide gras
Deur Ané Janse van Rensburg
Suid-Afrika is die voorloper van verlange, en haar burgers is die grootste voorstanders daarvan. Ons verlang na die sogenaamde “vleispotte van Egipte” – na ʼn tyd toe alles makliker was, jy veiliger gevoel het, of die lewe dalk net meer voorspelbaar was. Ons loer oor heinings en drome aan die anderkant van die draad, waar die gras altyd groener lyk as op ons eie voorstoep.
Hier is dan die vraag: is die gras nie maar groener dáár waar ons dit water gee nie? En wie dra dan die verantwoordelikheid om die land se vleispotte vol en die gras groen te hou?
Die maklike antwoord op hierdie vraag is nie noodwendig die regte een nie. Soos ons jongmense rondkyk, sien ons meer van die land se tekortkominge raak. Ons hoor ook by sommige ouer garde dat agteruitgang ons voorland is. Tog is ons bewus van die teenstrydigheid en op soek na iemand wat nie net leiding sal gee nie, maar wat help om die vleispotte vol te hou en die gras te versorg. Want ons ís die toekoms.
Solidariteit staan met gieters vol water – gereed om jou van ʼn groener grasperk ter verseker, en om jou te bemagtig om self die tuinier van jou toekoms te wees. ʼn Wêreld sonder Solidariteit sou baie valer gelyk het as wat dit nou is.
Stel jou ʼn wêreld voor waar niemand terugpraat nie, of waar onreg eenvoudig net sonder teenstand, vervolging of ʼn stem van regverdigheid gebeur. Só lyk ʼn wêreld sonder Solidariteit. ʼn Voorbeeld is Solidariteit se onlangse saak waar die hof genader moes word omdat die minister van arbeid versuim het om rasseregulasies, wat regstreeks werkgeleenthede raak, binne die gestipuleerde tyd te publiseer. Sonder ʼn organisasie wat verantwoordelikheid eis, sou hierdie blatante minagting van die regstelsel net ongestraf bly. Dit is juis omdat Solidariteit gereeld teen magsmisbruik optree dat daar nog lig op ongelykheid en nog hoop vir geregtigheid is.
ʼn Wêreld sonder Solidariteit is ook een waar meriete niks beteken nie. Waar jy nie gevra word wat jy weet nie, maar eerder hoeveel blokkies jy kan afmerk. Solidariteit se waarde van meriete-veldtogte bring hoop vir duisende jongmense wat voel asof hul harde werk nie meer saak maak nie. Die idee dat jou vaardighede, jou passie, en jou toewyding weer iets tel, is iets waarvoor Solidariteit veg. Daarsonder is die werkplek nie net onregverdig nie, maar ook ondoeltreffend.
Sonder Solidariteit sou duisende Afrikaanse studente vandag nie toegang tot moedertaalonderrig op universiteit gehad het nie. Akademia – gebou deur die Solidariteit Beweging – is nie net ʼn universiteit nie; dit is ʼn gedenkteken van moontlikheid. Dit is ʼn plek waar Afrikaans nie met verskonings gebruik word nie, maar met trots. Sonder so ʼn tuiste, sou die taal van jou denke stil-stil uit hoër onderwys verdwyn het. Dink net hoe maklik dit kan gebeur as niemand opstaan nie.
Duisende mense voel vasgevang in ʼn land waar dinge gereeld skeef loop. Waar die idee van “vat jou goed en trek” al hoe aanlokliker word. Maar wat as jy nié wil gaan nie? Wat as jy wíl bly, maar net nie weet hoe nie? Sonder Solidariteit is daar min alternatiewe planne, maar mét Solidariteit kry mense weer moed om te bou; om te bly; om te glo.
Met Solidariteit het jy nie net beskerming nie – jy het ʼn netwerk. Jy het mense wat namens jou praat in hofsake, wat regverdigheid eis, wat universiteite bou, wat gemeenskappe bemagtig, wat jou beroep versterk, en wat vir jou sê: Jy hóórt hier.
Dit is maklik om moed te verloor as jou toekoms deur ander bepaal word. Maar dit is bemoedigend om te sien hoe duisende mense elke dag hul eie toekoms begin terugvat. Solidariteit is nie net ʼn vakbond nie – dit is ʼn dinamiese beweging. Een wat aanhou vra: wat van meriete, Afrikaans en geregtigheid? Wat van jóú?
ʼn Wêreld sonder Solidariteit is een waar die vleispotte leeg is en die gras geskroei. Maar in hierdie wêreld, ons wêreld, staan Solidariteit met ʼn gieter: gereed om te voed, te versorg en te plant.
As jy vandag verlang na beter, moenie na die gras aan die anderkant kyk nie. Kyk na jou eie erf. En maak seker jy is deel van die mense wat natmaak, bou en beskerm. Want hier, saam, maak ons dit weer groen.