loading
Blogs
18 uur gelede
wat-kos-n-universiteitsgraad-soms-net-n-bietjie-hoop

Foto Krediet: Solidariteit

Wat kos ʼn universiteitsgraad? Soms net ʼn bietjie hoop

Deur Charné Mostert

Die lewe werk nie soos in TV-sepies nie, want kom ons wees eerlik – as ek met my koffiekoppie moes tekere gaan soos meeste akteurs doen, sou ek elke dag vol vuurwarm koffie gewees het. In sepies is daar altyd ʼn dramatiese uitweg, ʼn held wat op die regte oomblik opdaag. Maar in die werklikheid is dinge anders. Daar is studente wat wíl studeer, maar nie kan nie – as gevolg van finansies. Ek was een van hulle.

Ek het geweet daar gaan nie ʼn ridder op ʼn wit perd wees wat gaan instorm om die probleem met een swaai van sy swaard te verslaan nie. In die regte lewe is daar geen somber vioolmusiek wat speel sodra dinge moeilik raak nie – daar is net jy, jou drome en ʼn berg rekeninge. Ek moes werk – hard werk – om vir my studies te betaal. En ek het. Maar ná ʼn ruk het die skaal van die lewe nie meer so mooi gebalanseer nie. Die gewigte het begin skuif, en die finansiële las het al hoe swaarder begin weeg.

Ek het geweet ek wíl verder studeer. Ek het geweet ek kán – as geld net nie ʼn konstante struikelblok was nie. Die werklikheid het ingeskop. Voorgeskrewe studiemateriaal, klasgeld, verblyf, vervoer – dit alles het begin ophoop soos rekwisiete agter die verhoog. Ek wou nie opgee nie, maar ek het al hoe meer begin wonder of ek regtig gaan deurkom.

Toe, net voor my honneursjaar, het ek ʼn advertensie van die Solidariteit Helpende Hand Studietrust gesien. Dít was my ridder op ʼn wit perd – nie die glansende Hollywood-weergawe nie, maar ʼn ware, stil held wat net inspring en doen wat gedoen moet word. Ek het dadelik aansoek gedoen, al het ʼn deel van my gewonder of ek ooit iets sou terug hoor. Want aansoeke en sepies het dít in gemeen: jy wag lank, en dikwels gebeur daar niks.

Maar hierdie keer hét iets gebeur. Ek het terugvoer gekry. My aansoek is goedgekeur. En ek kon my honneursstudies voortsit.

As dit nie vir Solidariteit was nie, sou ek nie vandag hier sit en skryf oor sepies, wit perde en finansies nie. Sonder hul ondersteuning sou my wêreld grys gewees het – vol potensiaal, maar sonder die middele om dit te ontsluit. Ek is geseënd om vandag in my studierigting te werk en om elke dag te doen wat ek liefhet. My lewe is vol kleur.

Want dit gaan nie net oor die studiebeurs nie. Dit gaan oor wat dit oopgemaak het: ʼn deur na groei. ʼn Kans om te bou in plaas van net oorleef. Die verskil tussen ʼn storie wat net in jou kop bly en een wat jy kan leef.

In sepies wag die hoofkarakter tot iemand anders die probleem oplos. In die regte lewe was dit Solidariteit wat gesê het: “Ons stap saam met jou.” En dít maak ál die verskil.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel