loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
nasionale-kongres-verandering-skep-geleenthede

Foto Krediet: Solidariteit

Nasionale Kongres: Verandering skep geleenthede

Deur Pieter Jordaan

Solidariteit se eie storie van die afgelope jaar was onder die vergrootglas by die vakbond se jaarlikse Nasionale Kongres wat op 25 Julie in Centurion gehou is.

Onder die 140 mense teenwoordig by die kongres was lede van Solidariteit se hoofraad, asook personeel en organiseerders van oral in die land en verteenwoordigers vanuit die verskille bedrywe waar Solidariteit ’n sterk rol vervul.

Dit het ambagslui, dokters, verpleegkundiges, regsgeleerdes, ingenieurs, dosente, onderwysers, navorsers en nog meer ingesluit.

Tydens dié geleentheid is veral oor suksesse gepraat, asook oor die gebeure wat ’n opwindende jaar vir Solidariteit gekenmerk het, terwyl die planne vir die volgende 12 maande en meer gedeel is.

Solidariteit se president, Steve Scott, het die gaste verwelkom. Die finansiële state vir die jaar is daarna goedgekeur, en die kongresgangers is ook toegespreek deur Solidariteit se bestuurshoof, dr. Dirk Hermann, en die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys.

Die sprekers het ook verwys na die ingrypende politieke verandering in Suid-Afrika en hoe dit die omgewing van werk spesifiek gaan raak. Daar is beklemtoon hoe die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid verskeie geleenthede bied vir Solidariteit om binne ’n vriendeliker omgewing sy eie doelwitte met hoop na te streef.

In ’n bankgesprek oor die veranderende wêreld van 2024 het Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsinginstituut, en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling van die Solidariteit Beweging, konteks gegee oor waar Afrikaners hulself plaaslik en internasionaal bevind en kán bevind.

In nog ’n paneelgesprek het Buys en Hermann Solidariteit se vooruitsigte, te midde van die verandering rondom ons, bespreek en ook verskeie geleenthede wat opduik, uitgelig. Intussen gaan projekte van instellings regdeur die Beweging voort en word daar ten alle tye gebou en geveg, soos net Solidariteit kan.

Die kongres is afgesluit met die bekendstelling van Solidariteit se nuwe veldtog getiteld #JyHoortHier, en die aangrypende video wat dié veldtog uitbeeld.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel