

Foto Krediet: LM Photography
Gekopieër
‘Neem ʼn rit saam met my op die doodstrein’ – Pierre Matthee
Deur Kyla-Ann du Toit
Die dood is die een ding wat ons almal deel, en tog bly dit ʼn onderwerp wat dikwels vermy word. Vir mense met ʼn terminale siekte kan dit voel asof hulle reeds op die “doodstrein” is.
Pierre Matthee, ʼn maatskaplike werker in die privaat praktyk wat gereeld saam met pasiënte hierdie pad stap, glo maatskaplike werkers het ʼn unieke rol om kliënte te help om die fokus te verskuif van die dood na die lewe wat nog oor is.
ʼn Sagter manier om oor dood te praat
Pierre vertel hoe hy grootgeword het in ʼn kultuur waar daar nooit oor die dood gepraat is nie. Hy noem dat dit gevoel het asof die onderwerp taboe was. “Vreemd, want dit is die een ding in die lewe waaroor ons werklik seker kan wees,” sê hy.
Sy konsep van die “doodstrein” het uit stories ontstaan. “In my daaglikse interaksie met pasiënte is ek blootgestel aan verskillende opinies en ervaringe oor die dood. Die gedagte was dat indien hierdie opinies en ervaringe in ʼn storie saamgestel kan word, ʼn groter gehoor bekend kan word met die konsep van die dood, sonder dat dit vrees hoef aan te wakker,” vertel hy.
“ʼn Rit op die doodstrein” was dus ʼn samestelling van werklike stories, waar Pierre in ʼn gesprek met “dood” getree het. Hierdie metafoor bied vir mense ʼn sagter manier om oor die dood te praat sonder dat dit vrees hoef aan te wakker.
Siekte teenoor dood
Volgens Pierre is dit belangrik om tussen die siekte en die dood self te onderskei. Hy verwys na ʼn bekende uitgangspunt in narratiewe terapie: Die persoon is nie die probleem nie, die probleem is die probleem.
Wanneer die dood as die probleem gesien word, is dit dikwels omdat families nie vrede met die realiteit van verlies gemaak het nie. Dit kan verhoed dat pasiënte die geleentheid kry om afskeid te neem, versoening te maak of selfs iets van hulself agter te laat.
Wanneer die siekte as die probleem beskou word, kan skuldgevoelens oor “foute” in die verlede die pasiënt in ʼn storie van selfverwyt vasvang en die vraag “Wat het ek gedoen om hierdie siekte te veroorsaak?” kom na vore. Die pasiënt het dikwels egter min of geen aandeel daarin nie. Deur eerder te fokus op dit waaroor hulle beheer het, ontstaan ruimte tussen hulle en die siekte. Die siekte is daar en kan nie verander word nie, maar wat hulle met hul tyd doen, kán. Om byvoorbeeld saam met familie te reis of herinneringe te skep, skep ʼn nuwe storie – een van betekenis, beheer en vrede eerder as skuld of verlies. Deur ʼn nuwe storielyn te skep kan pasiënte weer beheer oor hul tyd neem.
“Vir die maatskaplike werker is die aanbeveling om te luister: Is dit die siekte of is dit die dood wat die probleem is?” verduidelik hy.
Fokus op die koppelteken
Een van die beelde wat Pierre gebruik, is dié van die grafsteen. “Op ʼn grafsteen, tussen die geboortedatum en die datum van afsterwe, is daar ʼn koppelteken wat die twee datums skei. Hierdie datum verteenwoordig ʼn persoon se lewe,” verduidelik hy.
Wanneer iemand met ʼn terminale siekte gediagnoseer word, dink hulle dikwels onmiddellik dat hulle gaan sterf. Hy meen dit is hier waar maatskaplike werkers ʼn groot rol kan speel: Om kliënte te herinner dat die einddatum nog onbekend is. “Waarvan die persoon wél seker is, is dat hulle nog steeds asemhaal en die geleentheid het om te kan lewe. Maak nie saak hoe lank daardie “lewe” nog is nie. Die fokus word hier verskuif van die dood na lewe.”
Vir maatskaplike werkers is dit ʼn geleentheid om saam met kliënte ondersoek in te stel. Só help jy kliënte om te besin oor hoe hulle hul tyd wil gebruik, watter herinneringe hulle wil skep en watter nalatenskap werklik vir hulle ʼn prioriteit is.
Bepaal vreugde en betekenis
Pierre beklemtoon dat begrippe soos “vreugde” en “betekenis” nie vir almal dieselfde lyk nie. “Sodra die persoon se definisie vasgestel is, kan maatskaplike werkers help om dit moontlik te maak,” sê hy.
Hy wys ook op die belang van menswaardigheid en simptoombeheer, waar palliatiewe sorg ʼn groot rol speel. Ander struikelblokke kan praktiese sake wees, soos testamente en laaste wense, waar die maatskaplike werker kliënte met die regte professionele hulp kan verbind.
Wenke vir maatskaplike werkers
Realistiese voorbereiding vir die dood kan eintlik die pad vir pasiënte oopmaak om voluit te leef. “Wanneer hierdie aspekte aangespreek word, kan daar weer op lewe gefokus word,” sê Pierre.
Pierre stel drie praktiese wenke voor vir maatskaplike werkers wat saam met kliënte werk wat reeds op die “doodstrein” sit:
- 1. Gebruik visuele beelde soos die grafsteen en die koppelteken. Dit herinner die persoon dat hulle steeds ʼn kans het om te leef.
- 2. Vind uit wat gee hulle die idee dat hulle reeds op die “doodstrein” is. Die persoon se ervaring is baie belangrik. Hulle kan byvoorbeeld gediagnoseer wees met ʼn siekte waarvan iemand oorlede is wat hulle geken het. Verdere ondersoek mag dalk aandui dat dit twintig jaar gelede was. Daarom is terapie belangrik sodat die kliënt kan verstaan dat hulle nie daardie persoon is nie en dat sedertdien daar al soveel verander het.
- 3. Help pasiënte om hul “gereedskapskassie” te ontdek. Binne elke persoon lê hulpbronne soos geloof, ʼn ondersteuningsnetwerk of veerkragtigheid wat hulle reeds in ander krisisse gedra het. Gebruik die geleentheid tydens terapie om die kliënt te help om eerder daarop te fokus as op die “doodstrein”. Dit kan die persoon help om te besef dat hulle wel die tegnieke het om deur die moeilike tyd te kom.
Jou rol as maatskaplike werker
Om saam met iemand op die “doodstrein” te reis, beteken nie om saam die bestemming te aanvaar nie. Dit beteken om hulle te help ontdek dat daar nog stasies van vreugde, betekenis en lewe is, voordat die einde kom. Maatskaplike werkers speel hier ʼn sleutelrol – nie net om mense vir die dood voor te berei nie, maar om hulle te help leef terwyl hulle nog tyd het.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk besef die groot verantwoordelikheid wat maatskaplike werkers in mense se lewens speel, en vereer jou daarvoor. Jou rol as maatskaplike werker is onmisbaar! Klik hier en raak vandag nog betrokke by jou beroepsgemeenskap – ʼn veilige hawe vir maatskaplike werkers waar hulle saam met ander wat in dieselfde beroep is, kan leer en oor beroepsverwante kwessies kan praat.