loading
Artikels
1 jaar gelede
netwerk-van-werk-opleiding-vir-die-jeug

Foto Krediet: Okay Deer

Netwerk van werk: Opleiding vir die jeug

Deur Heléne Leonard

Opleiding is opleiding en só rus ons die jeug toe om die werkplek met sukses te betree. In die kennis-era is diegene wat hulself met kennis toerus, dié wat sukses gaan behaal. Flip Buys het eenkeer vir ʼn joernalis, wat gevra het of ons ook vir ʼn dubbelsyferverhoging gaan staak, gesê: “Nee, ons gaan ons lede oplei sodat hulle hul salarisse kan verdubbel.” Solidariteit het dus oor die afgelope 20 jaar groot beleggins in opleiding gemaak, en dus ook in die toekoms van ons lede en hulle kinders. Al hierdie opleidingsinstellings word nou in ons groot Netwerk van Werk ingebind. Dit is ook een van die redes waarom ons so klem lê op die jeug. Studente gaan nog een van die grootste groeipunte van Solidariteit word.

Wat bedoel Solidariteit wanneer ons sê dat ons die totale loopbaanpad saam met jou of jou kinders gaan stap, vanaf die dag waar die jongspan die skoolbanke betree tot selfs na die dag in die toekoms wanneer jy aftreeouderdom bereik?

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gaan wêreldklas skoliere met gesonde etiek en waardes lewer en daar word in die lig van die verval van openbare onderwys beoog om deur die Wolkskool gevorderde tegnologie te gebruik as bekostigbare private oplossing om gehalte-onderrig te kan bied. Lees meer hier oor die toestand van openbare skole.

Wolkskool

Die Wolkskool is ʼn aanlyn leerplatform vir Gr. 1 tot 12 leerders, met lesse in videoformaat, werkkaarte en aflaaibare werkboeke wat leerders in hul eie tyd, vanaf enige plek en teen hul eie pas aanvullend tot skoolonderrig kan deurwerk. Dit sluit dus aan by nuwe, moderne, wêreldgehalte- onderwysinisiatiewe wat leerders toerus vir die 21ste eeu.

Enige leerder kan indiwidueel aansluit, maar die Wolkskool kom veral tot sy reg d.m.v. integrasie in die klaskamer. Opleiding word aan skole en onderwysers gebied deur middel van SACE-geakkrediteerde seminare, werkwinkels en kongresse. Onderwysers kan ook by verskeie professionele vakverenigings aansluit.

Wolkskool-lesse word deur die ervare SOS-onderwysers (oftewel Wolkskooldosente) opgestel. Die amptelike KABV- (CAPS) kurrikulum van Suid-Afrika word gevolg.

Akademia & Sol-Tech

Solidariteit het reeds jare gelede beplan aan die toekoms en het die behoefte vir kennisfabrieke raakgesien. Om hierdie rede is Akademia gestig. Akademia is ʼn privaat tersiêre opleidingsinstelling wat kwalifikasies in verskeie beroepsrigtings aanbied via ʼn voltydse en ook deeltydse onderrigmodel. Akademia is ʼn voorloper op die gebied van moderne onderrig en beplan om binne die volgende paar jaar nog ʼn groter kampus aan die ooste van Pretoria op te rig. Lees meer hier oor Akademia.

Nog ʼn baanbreker as kennisfabriek is Sol-Tech. Sol-Tech lei studente in verskeie ambagte op. Die instelling is geregistreer as ʼn instelling vir verdere onderwys en opleiding, en is by die tersaaklike Setas geregistreer. Sol-Tech fokus daarop om studente in skaars- en kritieke- vaardighede op te lei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel