loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
nog-afleggings-by-sauk-dreig-weens-nalatigheid

Foto Krediet: Verskaf

Nóg afleggings by SAUK dreig weens nalatigheid

Deur Kyla-Ann du Toit

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) bevind hom weer in diep water – dié keer met die moontlikheid van ʼn nuwe ronde afleggings weens ernstige finansiële en bestuursprobleme. Volgens berigte kan honderde werknemers hul werk verloor nadat die SAUK miljoene rande se inkomste verloor het as gevolg van advertensies wat nie uitgesaai is nie.

ʼn Interne verslag toon dat op 18 radiostasies meer as 800 advertensies in Augustus alleen nie uitgesaai is nie. Wanneer ʼn kliënt vir uitsaaityd betaal, maar hul advertensie nie uitgesaai word nie, moet die SAUK daardie bedrag terugbetaal.

Dit is ʼn verlies wat die instelling eenvoudig nie kan bekostig nie.

ʼn Verlore uitsaaireus

Dié nuwe vooruitsig van afleggings volg kort op die hakke van ʼn vorige vlaag afleggings in 2021, toe meer as 600 werknemers hul werk verloor het. Nou is daar weer ʼn bedreiging vir sowat 180 personeellede, veral in die verkoopsafdeling.

Boonop sukkel die SAUK met verouderde infrastruktuur, stygende skuld en ʼn gebrekkige befondsingsmodel. Die sogenaamde SABC-wetsontwerp, wat ʼn nuwe befondsingsraamwerk moes bied, is in 2024 uit die parlement onttrek. Intussen is die uitsaaier steeds vasgevang in ʼn stelsel wat afhanklik is van TV-lisensiefooie.

Die finansiële druk het só toegeneem dat selfs die voortbestaan van sy seinverskaffer, Sentech, nou ter sprake is. Sentech het die SAUK gewaarsku dat sy sein teen die einde van die jaar afgesny kan word indien die uitsaaier nie sy skuld van meer as R1 miljard vereffen nie.

Solidariteit staan sy lede by

Volgens Johan Roos, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, is die situasie ʼn droewige weerspieëling van wat oor jare heen skeefgeloop het.

“Die meeste van ons lede is al lankal by die SAUK afgelê,” sê Roos. “Dit is jammer om te sien hoe die uitsaaier oor tyd verswak het – veral gegewe die sterk posisie wat dit eens in die uitsaailandskap beklee het. Politieke inmenging en swak bestuur het die instelling ernstig geknou.”

Hy voeg by dat Solidariteit die lede wat deur die huidige afleggingsproses geraak word, sal bystaan.

“Ons glo in volhoubare, professionele bestuur en in die beskerming van werknemers teen onregverdige of swak bestuurde afleggings. Ons staan vir goeie arbeidsverhoudinge en ʼn gesonde werksomgewing – juis om hierdie soort situasies te voorkom.”

ʼn Simptoom van ʼn groter probleem

Die SAUK se voortdurende krisis is nie ʼn uitsonderlike geval nie. Dit vorm deel van ʼn breër patroon van staatsondernemings wat oor jare heen deur swak bestuur, politieke inmenging en wanbesteding ondermyn is.

Van Eskom en Transnet tot die Suid-Afrikaanse Poskantoor, bly die verhaal dieselfde: groeiende skuld, dalende prestasie en werknemers wat die prys moet betaal.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel