loading
avatar
Artikels
4 dae gelede
sa-weermag-se-reis-na-grootsheid-raak-al-hoe-moeiliker-sonder-brandstof

Foto Krediet: Verskaf

SA weermag se ‘reis na grootsheid’ raak al hoe moeiliker sonder brandstof

Deur Leré Nel

Die departement van verdediging se 2024-’25-jaarverslag oor die toestand van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is onlangs by die parlement ingedien – en die inhoud daarvan is skokkend.

Luidens die verslag is die weermag se krimpende begroting die primêre rede vir die verval, met die mees opvallende agteruitgang wat duidelik is in die vloot en lugmag se verouderde toerusting.

Staatsverval is natuurlik niks nuut in Suid-Afrika nie, maar die wyse waarop hierdie verval die nasionale weermag verlam is ʼn nasionale skande.

Die omvang van die skade

Die jaarverslag toon die SANW het in die afgelope boekjaar groot struikelblokke ervaar om beplande instandhouding uit te voer. Die agterstand beloop reeds R8,01 miljard, met talle fasiliteite wat eenvoudig tot niet gaan omdat herstelwerk nie gedoen word nie.

Benewens infrastruktuuruitdagings, is daar ook ʼn groeiende tekort aan gesondheidswerkers en noodsorgpraktisyns binne die weermag. Volgens die verslag bly die druk op beskikbare personeel oorweldigend en moet hierdie werkers vir lang tydperke in sendinggebiede gestasioneer wees.

Die verslag beklemtoon die lugmag kry swaar vanweë die gebrek aan kontrakte vir die instandhouding van vliegtuie en sendingtoerusting. Dit raak direk aan die aantal vliegure, akkreditasie van vlieëniers en die vlak van magsgereedheid.

Die vloot kon nie eens sy beplande 8 000 ure op see voltooi nie, hoofsaaklik weens ʼn tekort aan onderdele wat vir herstelwerk benodig word.

Die effek op Suid-Afrika se soewereiniteit

Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, sê dat die agteruitgang van die SANW die werklike bedreiging vir Suid-Afrika se soewereiniteit is. “Die ANC-regering verwys gereeld na beweerde pogings deur ander partye om Suid-Afrika se soewereiniteit te ondermyn, soos in hul kommentaar oor internasionale handelsooreenkomste, veral met betrekking tot die VSA en Solidariteit se internasionale skakeling. Tog is die werklike bedreiging vir ons soewereiniteit die sistematiese aftakeling van die SANW deur onderbefondsing, wanbestuur en korrupsie,” meen Cronjé.

“ʼn Land se vermoë om sy burgers en grense te beskerm, is die kern van soewereiniteit. Deur hierdie prioriteit te ignoreer en eie politieke agendas te bevorder, laat die regering Suid-Afrika kwesbaar en stel hulle nasionale belange in die gedrang. Hierdie is dus ʼn bewys dat die ANC-regering se onbevoegdheid die grootste bedreiging vir ons land se soewereiniteit is.”

ʼn ‘Reis na grootsheid’ sonder kaart of kompas

Genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die SANW, beskryf die weermag se langtermynplan as “ʼn reis na grootsheid”. Dit blyk egter dat hierdie reis lank gaan neem – siende dat daar te min toerusting, te min mense  en te min geld is om dit aan te pak.

Michelle Moran het geskryf dat ʼn land net so sterk is soos sy weermag. Hierdie verslag wys duidelik dat Suid-Afrika se nasionale veiligheid in groot moeilikheid is. Wanneer basiese instandhouding so erg ly en toerusting in so ʼn swak toestand is, moet daar ernstige vrae gevra word oor die regering se bestuur en toewyding aan nasionale veiligheid.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel