
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Noord-Kaapse maatskaplike werker met Solidariteit-toekenning vereer
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, plaas jaarliks die kollig op die hoopdraers in ons midde deur die Hoopdraer-toekenning. Elf streekswenners word elke jaar aangewys.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, plaas jaarliks die kollig op die hoopdraers in ons midde deur die Hoopdraer-toekenning. Elf streekswenners word elke jaar aangewys.

Dié Solidariteit-toekenning gee erkenning aan maatskaplike werkers wat ʼn beduidende verskil in hul gemeenskappe maak.
Een van hierdie uitsonderlike streekswenners is Estie Botha van Kimberley. Haar werk as maatskaplike werker het ʼn diepgaande invloed op kwesbare kinders en gesinne, en sy is ʼn ware inspirasie vir ander in haar professie – dit is hoekom sy as die Noord-Kaapse streekswenner aangewys is.
Estie verduidelik haar dryfveer in maatskaplike werk spruit voort uit haar bewondering vir mense se vermoë om, selfs te midde van die moeilikste omstandighede, te kan groei en te verander.
“Elke klein bietjie vordering wat ʼn mens maak, is ʼn bewys van menslike veerkragtigheid. Ten spyte van al die uitdagings waarmee mense te kampe het, is daar altyd hoop. Om hierdie hoop te sien en te help om dit aan te wakker, is ʼn kragtige dryfveer,” sê sy.
Estie se loopbaanpad het ʼn ongewone wending geneem. Sy het aanvanklik daarvan gedroom om ʼn mediese dokter te word, maar sy het uiteindelik besef dat haar roeping in maatskaplike werk lê.
“Ek het besef dit is my lewenstaak om ʼn verskil te maak in die lewens van ander, veral van kinders wat kwesbaar is. Hul eie gebrokenheid verhoed soms dat hulle hul doel in die lewe verstaan. Dit is vir my bevredigend om mense te help ontdek wié hulle regtig is, en om hulle te begelei om ʼn positiewe verskil in die wêreld te maak,” sê sy.
Een van die mees betekenisvolle ervarings vir Estie was haar betrokkenheid by Caritas – ʼn noodnommer.
“Net om ʼn oor te wees wat luister, maak op daardie belangrike oomblik ʼn verskil. Om empatie met mense se pyn te hê – of dit nou droogte is wat knel of ʼn gesinslid wat op die verkeerde pad is, beteken baie,” verduidelik sy.
Estie beskou dit as ʼn groot voorreg om as Helpende Hand se Hoopdraer vir die Noord-Kaap aangewys te word.
“Dit is vir my bevredigend om te weet dat my kollegas my bydrae raaksien en waardeer. Dit is wonderlik om hande te vat met ander organisasies om gemeenskappe te bou en ʼn beter toekoms vir ander te skep.”
Danksy 32 jaar se ervaring as maatskaplike werker het Estie diep lewenslesse geleer.
“Ek het geleer dat verandering tyd neem, en dat elke situasie uniek is en met deernis hanteer moet word. Ek het ook besef dat hoop ʼn kragtige element is – selfs in die moeilikste tye is daar moontlikhede. Verder het ek geleer hoe belangrik gemeenskap is, want mense het mekaar nodig.”
Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in hierdie professie op dié manier te kan beloon.
“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike professie te vereer.
“Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding in hul gemeenskappe werksaam is, en wat ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is. Die toekenning sluit streekwenners, topdriewenners en uiteindelik ʼn algehele wenner in,” sê Erasmus.