Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
nuwe-bela-datastelsel-kan-skole-nog-meer-aan-staatsbeheer-onderwerp

Fotokrediet: OkayDeer

Nuwe Bela-datastelsel kan skole nóg meer aan staatsbeheer onderwerp

Die vierde voorgestelde Bela-regulasie, die Nasionale Onderwysinligtingstelsel, is een van Solidariteit se grootste bekommernisse. Dié regulasie maak voorsiening vir ’n gestruktureerde nasionale stelsel vir die insameling, verifiëring, berging en gebruik van onderwysdata.

Solidariteit het reeds op 11 Augustus gekommunikeer oor die ander drie voorgestelde Bela-regulasies. Lees ons mediaverklaring daaroor hier.

Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), erken Solidariteit die waarde van betroubare data vir onderwysbeplanning, maar waarsku teen ’n stelsel wat skole bloot in databronne vir die staat verander. Duidelike waarborge is nodig oor databeskerming, toegang tot sensitiewe inligting, die doel waarvoor data gebruik mag word en wie uiteindelik verantwoordbaar gehou word.

“Data behoort skole en leerders te dien. Dit kan nie nóg ’n administratiewe las word of later as instrument gebruik word om verdere sentrale beheer oor skole te regverdig nie. Die privaatheid van leerders, ouers en personeel moet ook behoorlik beskerm word,” sê Prinsloo.

Solidariteit meen die uiteindelike maatstaf vir al vier regulasies moet eenvoudig wees: Stel dit skole beter in staat om leerders te onderrig, of maak dit hulle bloot meer afhanklik van die staat?

“Bela se implementering mag nie lei tot ’n stelsel waar elke plaaslike besluit uiteindelik deur meer vorms, meer toestemming en meer staatsamptenare bepaal word nie. Ouers en skoolgemeenskappe moet steeds werklike, betekenisvolle seggenskap oor hul skole hê,” sê Prinsloo.

Solidariteit sal volledige regs- en praktiese kommentaar indien, en skole ondersteun en aanmoedig om ook aan die openbare deelnameproses deel te neem.

“Hierdie is nie bloot tegniese regulasies wat iewers in ’n departementele lêer gaan beland nie. Dit gaan bepaal hoeveel ruimte skole en hul gemeenskappe in die praktyk oorhou om hul eie instellings te bestuur. Daarom moet skole deelneem en seker maak hul stem word gehoor,” sluit Prinsloo af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel