Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
14 uur gelede
sapd-wanpraktyke-met-bevorderings-n-chroniese-kwaal-wat-onder-die-mat-beland

Fotokrediet: OkayDeer

SAPD-wanpraktyke met bevorderings ʼn chroniese kwaal wat onder die mat beland

Solidariteit sê die jongste uitspraak van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) oor ʼn bevorderingsproses van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig ʼn kommerwekkende patroon van gebrekkige bevorderingspraktyke, onbevoegde panele en ʼn algehele gebrek aan aanspreeklikheid binne die polisiediens.

Dit volg nadat die KVBA bevind het dat die SAPD onbillike arbeidspraktyk teen kapt. Christiaan du Plessis gepleeg het deur hom nie vir die pos van stasiebevelvoerder in Moorreesburg te kortlys en te bevorder nie. Sien die uitspraak hier.

Die KVBA het die SAPD gelas om aan Du Plessis ʼn bedrag gelykstaande aan tien maande se vergoeding te betaal. Dit volg nadat bevind is dat hy nie die kortlys vir die pos gehaal het nie, terwyl ander minder gekwalifiseerde kandidate wel gekortlys is.

Volgens Ronel Stander, organiseerder van die openbare sektor by Solidariteit, kan die uitspraak beslis nie meer as ʼn geïsoleerde fout afgemaak word nie.

Sy beskryf dit as ʼn epidemie binne die SAPD wat nie langer geïgnoreer kan word nie.

“Ons sien eenvoudig dieselfde soort probleme herhaaldelik in bevorderingsake wat voor die KVBA beland.

“Bevorderingspanele versuim om die SAPD se eie voorskrifte na te kom. Werknemers word daardeur benadeel, en uiteindelik moet die belastingbetaler ook nog vir die gevolge opdok.

“Wat dit dan nóg erger maak, is dat ons hierdie probleme herhaaldelik onder die aandag van senior SAPD-bestuur bring, maar eenvoudig geïgnoreer word,” sê Stander.

In die Du Plessis-saak het die KVBA weereens bevind dat die SAPD se optrede arbitrêr, uiters onbillik en onreëlmatig was en dat daar ʼn direkte verband bestaan tussen dié onbillikheid en Du Plessis se versuim om gekortlys en bevorder te word.

Du Plessis, wat reeds sedert 1989 in die SAPD dien en oor uitgebreide bevelservaring beskik, het vir die pos van stasiebevelvoerder in Moorreesburg aansoek gedoen. Die bevorderingsproses is egter deur talle tekortkominge gekenmerk.

Onder meer het die gebrekkige aansoeke van ander kandidate deel van die proses gebly. Daar was ook probleme met die samestelling en optrede van die bevorderingspaneel en met die behoorlike toepassing van die SAPD se eie voorskrifte.

Die kommissaris het uiteindelik bevind dat Du Plessis gekwalifiseer het om gekortlys en bevorder te word en dat die SAPD ʼn onbillike arbeidspraktyk gepleeg het.

Solidariteit het ná die uitspraak formeel aan senior SAPD-bestuur geskryf en ʼn ondersoek na die betrokke paneellede geëis. Solidariteit wou onder meer weet watter dissiplinêre of regstellende optrede ingestel sal word, wie vir die finansiële verlies verantwoordelik gehou sal word en wat gedoen gaan word om soortgelyke probleme in toekomstige bevorderingsprosesse te voorkom.

Die sperdatum wat Solidariteit vir ʼn skriftelike antwoord gestel het, was 15 Augustus. Geen antwoord is ontvang nie.

Volgens Stander is dié stilswye deel van ʼn algemene patroon.

Solidariteit het vroeër vanjaar ook, ná KVBA-uitsprake ten gunste van kol. D. Malong en kapt. H. Schoultz, aan senior SAPD-bestuur geskryf oor ernstige tekortkominge in bevorderingsprosesse en gevra dat die optrede van die betrokke paneellede ondersoek word.

Ook dié skrywes is tot dusver onbeantwoord.

“Die SAPD kan nie aanhou om dieselfde foute te maak, sake by die KVBA te verloor, vergoeding uit belastinggeld te betaal en dan bloot stil te bly wanneer daar gevra word wie daarvoor verantwoordelik gehou gaan word nie.

“ʼn Bevorderingspaneel bepaal mense se loopbane. Wanneer senior beamptes wat op hierdie panele dien nie eens die SAPD se eie voorskrifte behoorlik toepas nie, is dit werknemers wat die prys betaal,” sê Stander.

Solidariteit sê hy sal voortaan bevorderingsuitsprake teen die SAPD noukeurig monitor en beslis nie toelaat dat hierdie bevindings bloot in lêers verdwyn nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel