loading
avatar
Mediaverklarings
2 jaar gelede
nwu-gemaan-om-beloning-van-diskriminasie-teen-wit-werknemers-te-laat-vaar

Foto Krediet: Okay Deer

NWU gemaan om beloning van diskriminasie teen wit werknemers te laat vaar

Solidariteit beskou die beweerde praktyke van rassediskriminasie deur die Noordwes-Universiteit (NWU) in sy beoordeling van werknemerprestasie in ʼn baie ernstige lig.
Dié vakbond   het vandag ʼn dringende aanmaning aan die NWU gerig en dié universiteit ʼn tydperk van 10 dae gegee om hierdie voorskrifte aan afdelingsbestuurders te herroep. Volgens hierdie voorskrifte, wat Solidariteit onder oë gehad het, moet 80% van hulle aanstellings alleenlik swart persone wees.
Hierdie voorskrifte is glo met die aanvang van die nuwe werksjaar as sleutelprestasie-aanwysers (KPI’s) aan afdelingsbestuurders van sowel akademiese as ondersteuningspersoneel uitgereik.
Daar word van hulle verwag om dié direktiewe te onderteken waarvolgens die bestuurders onderneem om die organisasie se kultuur te verander; om die proporsie van swart werknemers te verhoog; en dat 80% van aanstellings vir swart mense bestem moet wees.
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, moet die NWU verklaar waarom dié diskriminerende praktyke met soveel ywer bevorder word.
“Hierdie direktiewe wat deur die NWU voorgeskryf is, is absoluut skokkend. Daar word as’t ware ʼn bonus aan bestuurders betaal om stelselmatig van wit werknemers ontslae te raak. 
“Jy kom slegs in aanmerking vir ʼn bonus indien jou afdeling streng aan die onbuigsame voorgeskrewe rassedemografiese kwotas voldoen. Dit is onaanvaarbaar en sulke blatante rassisme moet onophoudelik beveg word,” sê Van der Bijl.
Solidariteit meen die besluit om rassediskriminasie in prestasiebeoordeling voor te skryf, is oneties en immoreel. Volgens Van der Bijl is dit ook strydig met plaaslike en internasionale presedente.
“Internasionale voorskrifte oor rasseprogramme vereis dat dit genuanseerd en buigsaam moet wees. Ekonomiese en sosiale werklikhede moet groter belang geniet by die opstel van só ʼn beleid. 
“Die NWU se beleid kom egter neer op harde rasseverdeling sonder daardie buigsaamheid of enige genuanseerdheid. Ons kan en sal dit eenvoudig nie aanvaar nie,” sê Van der Bijl. Lees Solidariteit se aanmaning aan die NWU hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel