![onderwys-is-n-roeping](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2023/08/Promo-Facebook_Ads-Facebook-Ads-image-ad-7-2.jpeg)
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Onderwys is ʼn roeping
Deur Maryna Eksteen
Die Here het elke persoon met ʼn roeping geseën, maar nie almal se roeping is dieselfde nie. Sommige mense word geroep om met mense te werk wat siek is en ander word geroep om geregtigheid te laat geskied. Onderwysers word geroep om jong mense se harte aan te raak en ʼn fondasie te lê wat die res van hul lewe bepaal. Paulus skryf in 1 Korintiërs 7:20: “Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.” Om tot ʼn sekere professie geroep te wees, is ʼn groot verantwoordelikheid en eer. Dit is in hierdie roeping waar jy ʼn instrument in God se hand is om ʼn daadwerklike verskil in jongmense se lewe te maak.
Die onderwys is ʼn beroep wat van tyd tot tyd jou lewe verteer en byna altyd jou gedagtes aan die dink hou. Volgens Thomas C. Murray is onderwysers van die enigste mense op die planeet wat met slaaptyd bekommerd is oor ander mense se kinders. Buiten die onderrig van leerders bied onderwysers ook ʼn skouer om op te huil of ʼn hand wat trane afvee wanneer klein hartjies ongelukkig is. Onderwysers het die taak om saam met leerders in die hede deur hul verlede te stap om voorbrand te maak vir die toekoms. Hulle help leerders om sin te maak van hul stryd, hul hartseer, hul vreugdes en hul vieringe. Onderwysers is in al die fases van leerders se lewens betrokke en word gevra om hulle deur sommige van hul moeilikste lewensjare te lei. Daarom is húlle dikwels die grootste invloed in ʼn leerder se lewe.
Estelle-Maree Joubert is ʼn onderwyseres van ʼn Kaapstadse hoërskool wat al vir nege jaar haar roeping in die onderwys uitleef. Joubert is vanuit die staanspoor eerlik daaroor dat die onderwys nie nét ʼn agt-tot-vier-werk is met lang vakansies nie, maar dat dit met talle uitdagings kom. Met tegnologie wat konstant verander, moet onderwysers voortdurend op hoogte van die nuutste tendense bly om leerders se aandag deurentyd te hou; ná skool moet onderwysers buitemuurse aktiwiteite reël en bywoon; en wanneer hulle by die huis kom, wag daar take en toetse om gemerk te word. Volgens Joubert is vakansies daar vir skooltoere en om ekstra klasse aan te bied om te verseker dat leerders die geleentheid kry om hul volle potensiaal te bereik.
Saam met die roeping kom passie, want sonder passie sal ʼn beroep nie vir jou beskore wees nie. Die lang ure en baie opofferings kan ʼn onderwyser dreineer, maar onderwysers kan hul beker vol maak omdat hulle passie het. Volgens Joubert is dit vir haar ʼn voorreg om ʼn onderwyser te wees. “Ons as onderwysers werk elke dag met ander mense se kosbaarste item – hul kind. Ons het die geleentheid om kinders te maak of breek, en daarom is dit ʼn roeping.”
Onderwysers word ongelukkig baie keer ondermyn of misgekyk omdat die samelewing nie werklik die harde werk van ʼn onderwyser verstaan nie. Joubert sê dat sy dit haar doel maak om te verseker dat die mense wat haar pad kruis, weet hoe hard onderwysers werk.
Anlia Archer, organiseerder van die onderwyssektor by Solidariteit, is passievol daaroor om onderwysers te bemagtig. “Ek was self in die onderwys gewees en het baie vinnig geleer dat, so lief soos wat ek vir my skoolkinders was, my hart eintlik vir onderwysers klop.” Archer wil daarom elke onderwyser aanmoedig om by Solidariteit se Onderwysernewerk betrokke te raak sodat onderwysers hul roeping in ʼn veilige ruimte, saam met ander onderwysers wat die uitdagings verstaan, kan uitleef. Volgens Archer is onderrig nie net ʼn werk nie, maar ʼn roeping, ʼn soeke en ʼn geleentheid om lewens diep te beïnvloed. Dit is ʼn beroep wat van ewigheidswaarde is.
Staan jou roeping vol saam met Solidariteit se Onderwysernetwerk. Solidariteit is jou eenstopplek vir jou loopbaan. Lees meer hier. Indien jy nog nie deel van Solidariteit se #Onderwysernetwerk is nie, klik hier.
Solidariteit se Onderwysernetwerk maak jou hande sterk, want saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.