
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Onderwyser van die jaar 2025: Ontmoet jou hoërskole se top-10
Om met nukkerige tieners en hul geite te werk, sit nie in elkeen se broek nie. Die toekenning van Solidariteit se Onderwyser van die Jaar vir die hoërskoolkategorie gee erkenning aan hierdie onbesonge helde. Dié wat hoërskoolleerders help om die uitdagings op hulle pad te oorkom en elke dag voor te berei vir hul toekoms ná skool. Hierdie toptien-onderwysers is nie net boffins in hul vakgebied nie, maar mentors wat hul leerders werklik bemagtig en ondersteun.
Hier is vanjaar se toptien-kandidate in geen spesifieke volgorde nie:
Angie Alberts-Botha – Bergsig Akademie/Academy

Angie Alberts-Botha is ʼn passievolle en toegewyde opvoeder met meer as agt jaar se onderwyservaring. Sy dien as RTT/CAT-onderwyseres by Bergsig Akademie, waar haar toewyding aan onderrig ʼn merkbare verskil in elke leerling se lewe maak. In 2023 is haar uitmuntende werk erken toe sy aan die National Teacher Awards[DP1] deelgeneem het, en as een van die provinsiale wenners aangewys is – ʼn prestasie wat haar roeping bevestig en haar plek as rolmodel vir kollegas en leerlinge versterk het.
Wat haar onderrigstyl uniek maak, is haar siening dat leer nie net informatief moet wees nie, maar ook ʼn aangename ervaring. Sy streef daarna om elke vak lewendig te maak en om elke leerling te help om hul volle potensiaal met entoesiasme te bereik. Vir Angie is onderwys meer as net ʼn beroep, maar ook ʼn daaglikse geleentheid om lig en liefde na haar klaskamer te bring.
Catherine Kloppers – Creston College

Catherine is ʼn ervare opvoeder en tans die VOO-fasehoof en Afrikaans Huistaal-onderwyseres by Creston College in Oslo Beach, KwaZulu-Natal. Haar passie lê in die bou van verhoudings met senior leerders en om hulle akademies en persoonlik te ondersteun. Sy glo sterk dat elke leerder ʼn unieke potensiaal het en dat dit die onderwyser se rol is om dit te ontsluit.
Haar loopbaan word gekenmerk deur ʼn toewyding aan die bevordering van kritiese denke, kreatiwiteit en veerkragtigheid by jong mense. Sy is bekend vir haar samewerkende leierskapstyl, vermoë om personeel en leerders te inspireer en haar vaste geloof in die transformerende krag van onderwys. Sy is aktief betrokke by kurrikulumbeplanning, mentorskap van onderwysers en leerderondersteuning.
Eghard Basson – Helpmekaar Kollege

Echard is alreeds tien jaar aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg verbonde, waarvan hy die afgelope nege jaar as Departementshoof van Dramatiese Kunste dien. Onder sy leiding het die vak konstant ʼn 100%-slaagsyfer gehandhaaf, met 60% van die leerders wat A-simbole in 2024 behaal het.
Sy oorspronklike toneelstuk, Sterrejag, is in 2024 by die Aardklop Kunstefees opgevoer. Hy bestuur ook die skool se toneelaktiwiteite en is trots daarop dat hulle jaarliks in die finale rondes van verskeie toneelkompetisies deelneem. Twee van sy leerders speel in die top-8 van die Proscenium Nasionale Toneelkompetisie.
Germaine Leonard – George Sekondêre Skool

Germaine is ʼn musiekonderwyser vir graad 8 tot 12, en ʼn jazzkunstenaar met kitaar as hoofinstrument. Hy is ook die stigter en direkteur van sy eie gemeenskapsmusiekskool, GLM Academy.
Hes-Mari Hollenbach – Villiersdorp Sekondêre skool

Hes-Mari is ʼn passievolle en toegewyde hoërskoolopvoeder met ʼn liefde vir onderwys, kinders en sport. Sy is ʼn verantwoordelike en gedissiplineerde persoon wat nie skroom om die ekstra myl te loop nie. Met ʼn entoesiastiese en gemotiveerde ingesteldheid pak sy elke taak aan met deursettingsvermoë en toewyding.
Jean-Marie Snyman – Hoërskool Wagpos

Jean-Marie is ʼn passievolle opvoeder met ʼn liefde vir onderrig wat diep in haar belangstelling in Lewenswetenskappe en sport gewortel is. Van kleins af het sy geweet sy wil ʼn verskil in jong mense se lewens maak, en vandag leef sy daardie droom elke dag in die klaskamer en op die sportveld.
Jorinda Coetzee – Hoërskool Brackenfell

Geografie is vir Jorinda nie net ʼn vak nie, maar ʼn lewenswyse. Sy het ʼn passie vir onderwys en vir die wêreld om ons – iets wat sy graag met haar leerders deel. In haar klas fokus sy nie net op handboekkennis nie, maar op praktiese toepassing, soos die weerstasieprojek wat sy saam met een van haar matriekleerders in 2024 gevestig het. Hulle het hiermee ook op die Groot Ontbyt-program verskyn. Verder deel sy graag ook haar passie en ervaring van geografie op kreatiewe maniere, soos op platforms soos TikTok en Instagram.
Sy glo in betrokkenheid, aanmoediging en om elke leerder se potensiaal raak te sien. Hierdie benadering het daartoe gelei dat sy onlangs as 2de naaswenner in Excellence in Secondary School Teaching by die National Teacher Awards (NTA) vir hul distrik (MEED) aangewys is – ʼn groot eer wat sy met nederigheid ontvang.
Elke dag in die klaskamer is vir haar ʼn geleentheid om lewens aan te raak, en sy is dankbaar om deel van die Brakkies-familie te wees.
Louise Badenhorst – Hoërskool Florida

Louise Badenhorst is ʼn kreatiewe, doelgerigte onderwyseres met ʼn passie vir onderrig, veral die gebruik van tegnologie in die klaskamer. As voormalige Springbok-atleet in gewigstoot en hamergooi het sy die waarde van balans tussen werk, sport en ontspanning geleer – ʼn vaardigheid wat haar reeds 29 jaar lank goed dien in haar onderwysloopbaan by Hoërskool Florida, waar sy Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid aanbied.
In 2010 is haar toewyding en uitnemendheid beloon toe sy die tweede plek in Gauteng tydens die National Teacher Awards behaal het. Hierdie prestasie het haar verder gemotiveer om voortdurend te groei en te innoveer. Sy geniet dit om kreatiewe oplossings vir uitdagings in haar vakgebied te vind en glo sterk in die waarde van aanpasbaarheid en uithouvermoë. Vir haar is dit belangrik dat leerders die vak geniet, aangesien dit leer en luister bevorder. Daarom poog Louise om haar klasse aangenaam, maar steeds gedissiplineerd aan te bied.
Met ʼn holistiese benadering wil sy ʼn positiewe verskil in die lewens van leerders maak, met ʼn spesifieke fokus op hul emosionele, sosiale, fisiese en geestelike ontwikkeling.
Rehana Mohamed – John Walton Senior Sekondêre Skool

Rehana Mohamed, née Glynis Joy du Plessis, is ʼn toegewyde onderwyseres met 36 jaar se ondervinding aan Hoërskool Uitenhage. Die afgelope vyf maande dien sy as adjunkhoof by John Walton SSS. Sy vorm deel van die hoofbestuur van die skool, saam met twee ander kollegas – ʼn span wat met vasberadenheid en passie lei.
Onder haar leiding het die skool reeds betekenisvolle veranderinge ondergaan: projekte is aan die gang, die skool word opgeknap, vensters word herstel en die terrein word versorg. Vir haar is hierdie praktiese verbeterings ʼn manier om trots by leerders aan te wakker en ʼn kultuur van eienaarskap te vestig.
Ondanks die tekort aan onderwysers en die uitdagende sosioëkonomiese omstandighede van die gemeenskap – waar baie ouers ongeskoold is en leerders dikwels groot behoeftes het – glo Mohamed vas dat hoop en harde werk ʼn werklike verskil kan maak. Haar span streef daarna om die matriekslaagsyfer van 80% tot 90% te verbeter vir die klas van 2025, en sy is oortuig dat hierdie doel haalbaar is.
Vir haar gaan onderwys oor meer as net akademiese prestasie: dit is ʼn manier om gemeenskappe te versterk en jong mense toe te rus om teen die euwels van hul omgewing op te staan. Met haar leuse sic itur ad astra – “reik na die sterre” – leef en lei Rehana Mohamed elke dag met hoop en ʼn vasberadenheid om ʼn blywende verskil te maak.
Seugnet van der Merwe – Hoërskool Stellenberg

Seugnet is ʼn toegewyde Xhosa TAT-onderwyseres wat hoofsaaklik graad 8- en 9-leerders onderrig, maar wat ook vanjaar twee matriekgroepe begelei wat Xhosa as ʼn agtste vak neem. Sy is passievol oor haar werk en haar skool, en glo sterk in die waarde van goeie verhoudings met leerders. Vir haar gaan onderrig nie net oor akademiese inhoud nie, maar ook oor die bydrae wat sy tot leerders se lewens kan maak.
Buite die klaskamer is sy ewe betrokke: sy is lief vir sport en woon graag sportwedstryde by om haar leerders te ondersteun. Hierdie betrokkenheid gee haar die geleentheid om hulle nie net op die sportveld aan te moedig nie, maar ook in die klaskamer verder te motiveer.
Sy het vanjaar ʼn matriek-registerklas onder haar sorg en doen alles in haar vermoë om hul laaste skooljaar so spesiaal as moontlik te maak. Hierdie groep lê haar besonder na aan die hart, en sy streef daarna om vir elkeen ʼn bron van ondersteuning en inspirasie te wees.
Leerders weet dat haar klas altyd ʼn veilige plek is waar hulle hulp, raad en aanvaarding kan vind. Sy dra elkeen van haar leerders in gebed op en wys hulle daagliks dat hulle gewaardeer en geliefd is. Vir haar is dit ʼn voorreg om jong mense te onderrig en haar passie vir haar vak ten volle uit te leef.
Solidariteit se Onderwysernetwerk wil graag diegene eer wat as inspirasie vir ander onderwysers en vir hul leerders dien. Ons glo dat elkeen ʼn belangrike rol in die vorming van ons kinders se toekoms speel. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en vorm deel van ʼn netwerk wat jou ondersteun! Onderwysers, jy hoort hier!