loading
Artikels
1 dag gelede
onderwyser-van-die-jaar-2025-ontmoet-jou-kleuterskole-se-top-10

Foto Krediet: Solidariteit

Onderwyser van die jaar 2025: Ontmoet jou kleuterskole se top-10

Die eerste boublok in ʼn kind se skoolloopbaan is hulle kleuterskoolonderwyser. Solidariteit vereer hierdie onbesonge helde en sien uit om die wenner van die kleuterskoolkategorie binnekort te bekroon!

Hier is vanjaar se toptienkandidate in geen spesifieke volgorde nie:

Ava Strydom, Jonge Einstein Akademie-kleuterskool

Ava Strydom is ’n passievolle en toegewyde onderwyseres met ’n besondere belangstelling in taal, kultuur en kreatiewe uitdrukking. Sy is bekend vir haar vriendelike geaardheid, haar hart van omgee en haar vermoë om nuwe idees en perspektiewe met gemak te omhels.

Met ’n liefde vir kinders streef Ava daarna om jongmense te help blom en hul volle potensiaal te bereik. Sy het ’n sterk gemeenskapsfokus en geniet dit om saam met ander te werk, te leer en te groei. Haar sterkpunte sluit in uitstekende kommunikasievaardighede, empatie en die vermoë om komplekse inligting duidelik en eenvoudig oor te dra.

Burnice de Swardt, Bundi Bos-kleuterskool

Die opwinding wat met juffrou-wees gepaard gaan, is vir Burnice die rede waarom sy onderwys as beroep gekies het. As kleuterskoolonderwyseres geniet sy dit om nuwe opvoedkundige roetes saam met die jong generasie te ontdek, en sy besef dat hierdie fase van groot pret ook ’n groot verantwoordelikheid dra.

Sy glo dat ’n liefde vir leer reeds op ’n jong ouderdom gekweek word. Daarom sien sy dit as haar roeping om kleuters se leergierigheid, nuuskierigheid en kreatiwiteit aan te moedig en te koester – en só die fondament te lê vir hul toekomstige leerreis.

Christél Boswel, Kenmare-kleuterskool

Christél Boswel, beter bekend as Juffrou Chrissie, is ’n passievolle en toegewyde onderwyseres by Kenmare Kleuterskool en naskool, met ’n besondere liefde vir kleuterontwikkeling. Sy werk tans in ’n VKO-sentrum waar sy leer deur spel aanmoedig en jong kinders help om hul volle potensiaal te bereik.

In haar vrye tyd geniet sy dit om kwaliteittyd saam met haar familie deur te bring, en sy glo in die belang van gebalanseerde groei – geestelik, fisies en emosioneel. As ’n betroubare, vriendelike en entoesiastiese persoon werk sy graag saam met ander, en is altyd bereid om self te leer en te groei.

Jessica Eloff, Volkskool Orania Kieliepensie

Jessica is reeds tien jaar betrokke by vroeëkinderontwikkeling en haar hart klop vir die kleinspan. Sy glo dat kinders in ’n omgewing moet grootword waar hulle deur spel, ontdekking en uitstappies kan leer. Haar grootste fokus is om elke kind se emosionele tenk vol te maak en vol te hou, omdat ’n veilige en geliefde kind makliker leer en ontwikkel. As mamma van vier – drie seuns en een pleegdogter – verstaan sy die waarde van warmte en stabiliteit.

In 2024 het sy die bestuur van Kieliepensie by die Volkskool oorgeneem, waar sy saam met ’n toegewyde span ’n verlenging van kinders se ouerhuise probeer skep, gegrond op Christelike waardes. Haar grootste beloning bly die glimlagte van die kindergesiggies elke oggend – die wete dat sy elke dag bydra tot die bou van ’n stewige fondasie vir hul toekoms.

Karen Breytenbach, Swaan & Flamink-kleuterskool

Karen Breytenbach is ’n kleuterskoolonderwyseres by Swaan en Flamink-kleuterskool in Pretoria. Sy is reeds 13 jaar in die bedryf en leef haar roeping met oorgawe uit. Dit is vir haar ’n groot voorreg om ’n sterk fondasie te lê in die lewens van elke kleuter wat haar klaskamer betree. As mamma van twee dogtertjies, sewe en vyf jaar oud, verstaan sy die unieke behoeftes van ouers en kinders en gebruik sy dié insig om haar onderrig nog meer betekenisvol te maak.

Vir Karen is dit belangrik om kleuters gelukkig, gesond en veilig te hou – ’n gebed wat sy deel met ouers en kollegas. Sy beskou haar rol as ’n manier om die pad van ouerskap en opvoeding makliker te maak, en glo dat sy daarmee besig is deur uit te leef waarvoor sy gebore is. Haar werk en haar gesin is haar grootste rykdom, en sy is dankbaar vir die span en die ouers wat deel van die groot familie by die skool vorm.

Lizel Badenhorst, Laerskool Anton van Wouw

Lizel het reeds as ’n jong kind begin “skool-skool” speel saam met haar neefs en niggies in haar ouma se hoenderhokke. Sedert 1996 leef sy elke dag haar roeping uit saam met graad R-leerders, en vir byna 30 jaar gee sy met passie en toewyding klas vir uiters unieke en spesiale kleuters.

Vir haar gaan dit nie oor titels of toekennings nie, maar oor die voorreg om kinders se eerste leerervarings deel te maak van ’n veilige, liefdevolle ruimte. Sy glo dat geen posisie van haar ’n beter juffrou kan maak nie – slegs die strewe om elke dag haar beste te gee. Haar lewensfilosofie is eenvoudig: doen jou beste totdat jy beter weet, en wanneer jy beter weet, doen dan beter.

Talana Roodt, Laerskool Vorentoe

Talana het haar onderwysstudie in Potchefstroom voltooi en later ook ’n graad in Sielkunde aan UNISA verwerf. Met meer as 20 kleuters in haar sorg, beskou sy geduld as haar grootste bate – ’n noodsaaklike eienskap om ’n veilige en gelukkige leeromgewing te skep.

Vir haar is onderwys nie net ’n beroep nie, maar ’n roeping en ’n groot voorreg. Sy sien elke dag as ’n geleentheid om ’n betekenisvolle verskil in klein mensies se lewens te maak – om kinders te bemagtig, selfvertroue te bou en vir hulle ’n geloofsanker en wegspringplek vir hul drome te bied. Haar grootste seën is om elke dag te mag lag, speel, kreatief wees en kinders te help groei in liefdevolle verhoudings.

Tania Strydom, Camo Akademie

Tania is ’n baba- en kleuterjuffrou van Bloemfontein met ’n groot liefde vir vroeë kinderontwikkeling. Sy sien elke jaar as ’n nuwe uitdaging en beleef dit as ’n besondere vreugde om te sien hoe klein lyfies hul belangrike mylpale bereik. Vir haar is onderwys nie net ’n beroep nie, maar ’n roeping – sy is trots om ’n juffrou te wees wat die toekoms van die land help vorm.

Sy glo dat elke maatjie unieke, verborge talente het wat ontwikkel en gekoester moet word. Vir haar is dit die kern van opvoeding: om te kan hoor wat ’n kinderhartjie nie altyd in woorde kan sê nie, en om elke dag daardie potensiaal met liefde en sorg te help ontsluit.

Tharin Grobler, Kim Kids Kleuterskool/Pre-School

Tharin is ’n passievolle onderwyser en skoolhoof wat leef om ’n verskil te maak in elke kleintjie se lewe wat haar pad kruis. Vir haar is dit ondenkbaar om sonder die kinders te wees – sy is hul juffrou, maar leer net soveel by hulle as wat sy hulle leer. Onderwys is vir haar nie bloot ’n beroep nie, maar ’n diepe roeping wat sy met oorgawe uitleef.

Sy glo dat kinders grootgemaak moet word in eerbied vir ons Hemelse Vader en die wêreld ingestuur moet word met sterk morele waardes, geloof, ’n goeie hart en ’n positiewe gesindheid. Vir haar is dit duidelik: vandag se kindertjies is die toekoms van môre, en dit is ’n voorreg om ’n fondament vir daardie toekoms te help lê.

Veruchka Liebenberg, Naudeville pre-primêre skool

Veruchka is ’n 30-jarige liefdevolle vrou, mamma van twee seuntjies, en trotse juffrou vir 21 graad R-leerders. Sy begin elke dag met nuwe idees om haar lesse nóg lekkerder en betekenisvoller te maak as die dag of jaar tevore. Haar strewe is eenvoudig: om die soort juffrou te wees wat sy hoop haar eie kinders eendag sal hê – iemand met ’n liefdevolle en omgee-hart.

Sy wil vir elke leerder ’n veilige hawe wees, veral vir dié wat voel hulle is alleen, en sy deel daagliks Jesus se liefde in haar klaskamer. Vir Veruchka is onderwys nie net ’n werk nie, maar ’n roeping – en sy gee haar alles om die beste te wees waarvoor God haar geroep het.


Solidariteit se Onderwysernetwerk wil graag diegene eer wat as inspirasie dien vir ander onderwysers en vir hul leerders. Ons glo dat elkeen ʼn belangrike rol speel in die vorming van ons kinders se toekoms. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en vorm deel van ‘n netwerk wat jou ondersteun! Onderwysers, jy hoort hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel