loading
avatar
Artikels
3 weke gelede
onderwyser-van-die-jaar-2026-nominasies-nou-oop

Fotokrediet: Solidariteit

Onderwyser van die Jaar 2026: Nominasies nou oop!

Deur Leré Nel

Voordat iemand ʼn dokter geword het, het ʼn onderwyser haar geleer om haar naam te skryf. Voordat iemand ʼn ambagsman geword het, het ʼn onderwyser hom geleer om somme te maak. Voordat iemand ʼn ingenieur geword het, het ʼn onderwyser hom ná ʼn moeilike dag aangemoedig om in homself te glo.

Agter elke suksesverhaal staan ʼn onderwyser wat dit moontlik gemaak het.

Solidariteit se Onderwysernetwerk is daarom weer op soek na uitsonderlike onderwysers wat elke dag met geduld, passie en toewyding aan die suksesverhale van môre help skryf. Nominasies vir die Onderwyser van die Jaar-toekenning vir 2026 is nou oop, en enigiemand kan ʼn besonderse onderwyser vir hierdie toekenning nomineer.

ʼn Invloed wat ʼn leeftyd lank voortleef

“Die invloed van ʼn goeie onderwyser eindig nie wanneer die skoolklok lui of wanneer ʼn leerder die skool verlaat nie,” sê Henco Breytenbach, koördineerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk. “Dit leef voort in die volwassenes wat daardie onderwyser help vorm het, die beroepe wat hulle later beoefen en die gemeenskappe waarin hulle ʼn verskil maak.”

Onderwysers doen dikwels veel meer as wat die kurrikulum van hulle vereis, maar kry selde die erkenning wat hul verdien. Hulle bou selfvertroue, help kinders om hul potensiaal te ontdek en ondersteun leerders deur akademiese én persoonlike uitdagings. Hulle word dikwels jare later nog met dankbaarheid onthou, en hul invloed strek oor generasies heen.

Die Onderwyser van die Jaar-kompetisie bied aan ouers, leerders, oudleerders, kollegas, familie, vriende en lede van die publiek die geleentheid om vir so ʼn onderwyser dankie te sê.

Wie kan genomineer word?

Onderwysers kan in een van die volgende drie kategorieë genomineer word:

  • • Kleuterskoolonderwyser van die Jaar
  • • Laerskoolonderwyser van die Jaar
  • • Hoërskoolonderwyser van die Jaar

Elke fase van ʼn kind se ontwikkeling bring unieke uitdagings en geleenthede mee.

Kleuterskoolonderwysers lê die eerste boustene deur kinders te leer om vrae te vra en die wêreld met selfvertroue te ontdek. Laerskoolonderwysers leer kinders nie net hoe om te lees, te skryf en maaltafels te doen nie, maar help hulle ook om in hulself te glo en hul potensiaal te ontdek. Hoërskoolonderwysers begelei leerders deur vakkeuses, eksamenstres, belangrike toekomsbesluite en die onsekerheid wat dikwels met die tienerjare gepaardgaan.

Elkeen van hierdie onderwysers verdien om raakgesien en vereer te word.

Hoe werk die kompetisie?

Enigiemand kan ʼn onderwyser nomineer wat sy of haar werk met passie, toewyding en ʼn opregte liefde vir jong mense verrig.

Nadat ʼn onderwyser genomineer is, kry hulle die geleentheid om die nominasie te aanvaar en as kandidaat te registreer. Kandidate dien daarna ʼn foto en ʼn kort biografie in waarin hulle vertel wie hulle is en waarom die onderwys hul passie is.

Die onderwysers met die meeste nominasies in elke kategorie sal as die toptien aangewys word. Hierdie finaliste dien daarna ʼn motiveringsvideo van 60 sekondes in waarin hulle meer vertel oor hul passie vir die onderwys, die impak wat hulle op hul leerders, skool en gemeenskap maak, en waarom hulle glo dat hulle as Onderwyser van die Jaar aangewys behoort te word.

Daarna word ʼn wenner in elke kategorie aangewys.

Jou beurt om dankie te sê

Dink aan die onderwyser wat eerste in jou geglo het. Die een wat ekstra tyd afgestaan het om iets weer te verduidelik, jou aangemoedig het toe jy wou moed opgee of jou gehelp het om ʼn talent in jouself raak te sien waarvan jy self nog nie bewus was nie.

Jou nominasie is meer as net ʼn inskrywing. Dit is ʼn manier om vir ʼn onderwyser te sê: “Ons sien jou raak. Jou werk het ewigheidswaarde.” Die toekenning het boonop al vorige wenners gehelp om bevorderings te kry en nuwe loopbaangeleenthede te ontsluit.

Nomineer jou gunstelingonderwyser hier!

Nominasies sluit op 28 Augustus 2026 om 17:00.

Moedig ook jou familie, vriende, medeleerders, oudleerders en skoolgemeenskap aan om die onderwysers te nomineer wat elke dag soveel meer doen as net klasgee.

Klik hier om daardie spesiale onderwyser te vereer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel