loading
avatar
Artikels
12 uur gelede
skole-onder-druk-so-lyk-plan-vir-volhoubare-afrikaanse-onderwys

Foto Krediet: Okay Deer

Skole onder druk: Só lyk plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys

Deur Nico Strydom

Talle skole steier van die een krisis na die volgende. Skole sit dae lank sonder elektrisiteit, subsidies word laat betaal, klaskamers raak al voller en honderde Afrikaanse openbare skole het die laaste paar jaar hul deure gesluit.

Onderwysdepartemente sukkel om hul basiese verpligtinge na te kom en die vermoë van die staat om gehalte-onderwys te ondersteun, is toenemend onder druk.

Teen hierdie agtergrond meen die Solidariteit Beweging dat die antwoord nie daarin lê om op die staat te wag nie, maar om sterker, selfstandige skoolgemeenskappe te bou wat mekaar ondersteun.

Verskeie voorvalle die afgelope paar maande het opnuut die druk gewys waaronder skole gebuk gaan. In Gauteng het talle skole vir dae lank sonder elektrisiteit gesit nadat die metro kragtoevoer opgeskort het weens uitstaande rekeninge. Skole moes hul normale akademiese programme ontwrig en selfs die howe nader om basiese dienste te herstel.

Terselfdertyd wag talle skole steeds op subsidiebetalings wat reeds maande gelede aan hulle verskuldig was. Hierdie betalings is noodsaaklik om personeel, onderhoud en daaglikse bedryfskoste te finansier.

Daarby kom die voortdurende probleme van oorvol klaskamers, onvoldoende skoolinfrastruktuur, onsekerheid oor toelatingsbeleid, veranderende kurrikulumvereistes en pogings om groter staatsbeheer oor skole uit te oefen.

Volgens die Solidariteit Beweging dui hierdie voorbeelde op ʼn onderwysstelsel wat al hoe meer onder administratiewe en finansiële druk verkeer.

Dit is juis daarom dat die Solidariteit Beweging ʼn omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekendgestel het. Hierdie plan word in samehang met verskeie vennote se werk op die onderwysterrein geïmplementeer om ʼn geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap daar te stel.

Dié aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en ondersteuningsnetwerke saam in een geïntegreerde geheel wat skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe bemagtig om die toenemende uitdagings van die hedendaagse onderwyslandskap die hoof te bied.

Dit sluit onder meer in regs- en arbeidsregtelike bystand, bestuurs- en leierskapontwikkeling, veiligheid, opleiding, navorsing, studieondersteuning, loopbaanvoorligting en tegnologiese hulpmiddels. Die doel is nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit uit te bou sodat hulle op hul kernfunksie kan fokus, naamlik om kinders vir die toekoms toe te rus met gehalte-onderwys.

Die aanbod strek egter verder as die klaskamer. Dit bou aan ’n volhoubare onderwys-ekosisteem waarin gemeenskappe, gesinne en verskeie organisasies saamwerk om Afrikaanse onderwys te beskerm en uit te bou. Deur bestaande instellings en netwerke te verbind, wil die Solidariteit Beweging skole meer selfstandig en minder afhanklik van ’n sukkelende staat maak, terwyl daar terselfdertyd belê word in die ontwikkeling van onderwysers, die ondersteuning van leerders en die vestiging van sterk, volhoubare skoolgemeenskappe vir toekomstige geslagte.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel