Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Onderwyser van die Jaar: Hier is die kleuterskole se top-10-finaliste
Die eerste boublok in ʼn kind se skoolloopbaan word deur hul kleuterskoolonderwyser gelê. Dit is in die kleuterskool waar kinders leer om te ontdek, te speel en met selfvertroue hul eerste tree op ʼn lewenslange pad van leer te gee. Solidariteit se Onderwysernetwerk vereer hierdie stille heldinne, en sien daarna uit om die wenner in die kleuterskoolkategorie binnekort te bekroon.
Hier is vanjaar se toptienkandidate in geen spesifieke volgorde nie:
Tania Strydom, Camo Academy

Tania Strydom is ʼn toegewyde baba- en kleuterjuffrou van Bloemfontein met ʼn opregte voorliefde vir vroeëkinderontwikkeling. Sy beskou dit as haar daaglikse voorreg om klein lyfies te koester en te help groei en om kleinmensies te inspireer.
Vir Tania is onderwys veel meer as ʼn beroep – dit is ʼn roeping. Sy glo dat elke kind uniek is en liefde, geduld en die geleentheid verdien om sy of haar drome te begin ontdek. Haar doel is om ʼn sterk fondasie vir ʼn blink toekoms te lê en elke kind te help om op sy of haar eie manier te blom.
Julandi Mostert, Excelsior Primary School

Julandi Mostert is reeds 14 jaar lank ʼn graad R-juffrou. Haar onderwysreis het haar eers oorsee geneem en daarna na Suid-Afrika teruggebring. Sy is nou al sewe jaar lank verbonde aan Excelsior Primary School waar sy haar plek in die skool, omgewing en gemeenskap volstaan.
Sy woon saam met haar gesin in die Strand en is die mamma van twee energieke seuns. Hoewel sy daagliks Bellville toe moet ry, pak sy die pad met ʼn glimlag aan omdat haar klas en haar werk haar groot passie is.
Riëtte Wheller, Heidi Kleuterskool

Riëtte Wheller is die hoof van Heidi Kleuterskool, maar sy het steeds ook haar eie kleuterklas. Kleuterontwikkeling is haar passie, en sy geniet dit om te sien hoe kinders groei, hul eie identiteit vorm en met selfvertroue gereed word vir die skuif laerskool toe.
By Heidi Kleuterskool word leer deur spel aangemoedig en kry elke kind die geleentheid om teen sy of haar eie pas te ontwikkel. Vir Riëtte maak kleuters se eerlikheid, nuuskierigheid en spontane liefde hierdie fase uniek. Sy glo dat onderwysers elke dag saadjies in kleuterharte plant en só die verandering help skep wat hulle in die wêreld wil sien.
Magdeleine Gouws, Kleuterpret Kleuterskool

Magdeleine Gouws werk sedert 2014 by Kleuterpret Kleuterskool, waar sy tans die skoolhoof is en steeds self ʼn klas het. Sy het Sportkunde, Sportbestuur en Wetenskap studeer en wou aanvanklik ʼn fisioterapeut word. Kinderkinetika het egter haar liefde vir werk met kinders aangewakker, waarna sy ʼn honneursgraad aan die Potchefstroom Universiteit verwerf het.
Sy is passievol daaroor om kinders te leer, te motiveer en te help om hul volle potensiaal te bereik. Buite die klaskamer is sy ʼn jeugleier by haar kerk se kinderkerk en rig sy jong stoeiers af. As voormalige Springbokstoeier en liefhebber van sport, avontuur en die buitelewe wil sy kinders inspireer om in hulself te glo en die beste weergawe van hulself te wees.
Madré van Zyl, Swaan en Flamink Kleuterskool

Madré van Zyl is reeds langer as tien jaar aan Swaan en Flamink Kleuterskool verbonde. Skoolhou is vir haar soveel meer as ʼn beroep; dit is haar passie en elke dag saam met haar kleuters is vir haar ʼn seën en ʼn voorreg.
Sy pak nuwe uitdagings met energie, entoesiasme en liefde aan, maar waardeer ook stil oomblikke met ʼn goeie boek. Madré glo dat kinders ʼn kosbare geskenk van die Here is en geniet dit om hulle met liefde, geduld en omgee te help groei. Sy is getroud met Paul Roos en is die mamma van tweelingseuntjies.
Tiana Vorster, Hoërskool Douglas Gekombineerd

Tiana Vorster glo dat elke kind, ongeag vermoë of uitdaging, die geleentheid verdien om te leer, te groei en om sy of haar volle potensiaal te bereik. Hierdie oortuiging motiveer haar reeds 15 jaar lank as kleuterskooljuffrou.
Sy werk tans met ʼn graad R-klas vir leerders met spesiale behoeftes en sy bied ook remediërende ondersteuning aan multigraadleerders. Haar benadering strek verder as akademie en fokus ook op kinders se emosionele, sosiale, fisieke en kognitiewe ontwikkeling. Elke klein tree vorentoe, elke glimlag en mylpaal is vir haar ʼn groot beloning.
Yolandi Smith, Wyse Uiltjies

Yolandi Smith sien haarself nie net as ʼn juffrou nie. Sy wil ook ʼn veilige plek, ʼn luisterende oor en ʼn hart vol liefde vir elke kind wees wat haar pad kruis.
Sy glo dat klein handjies groot drome dra en dat elke kind verdien om raakgesien, aangemoedig en geliefd te voel. Met geduld, deernis en ʼn passie vir onderrig probeer sy elke dag ʼn verskil maak.
Madlene Nel, Bonthuis Kleuterskool

Madlene Nel vind haar grootste vervulling daarin om kinders te sien groei, ontdek en om genoeg selfvertroue te ontwikkel om in hul eie vermoëns te glo. Sy beskik oor ʼn sertifikaat in vroeëkinderontwikkeling en gebruik haar ervaring in klasbestuur, kommunikasie en beplanning om ʼn veilige en stimulerende leeromgewing te skep.
Sy het meer as tien jaar lank as ʼn au pair in Suid-Afrika, die Verenigde State en Nederland gewerk. Haar twee diplomas in Tegniese Teater en Uitvoerende Kunste, asook haar ervaring as akteur, sanger, skrywer en regisseur help haar om kreatiwiteit, selfvertroue en samewerking prakties in haar onderrig te verweef.
Ronelle Kriel, Knikkie Knakkie Kleuterskool

Ronelle Kriek is sedert 1998 in die onderwys en sê dat sy nog nooit aan haar beroepskeuse getwyfel het nie. Sy het van kleins af geweet dat sy ʼn juffrou wil wees en ná meer as 28 jaar voel sy steeds bevoorreg om elke dag met kinders te werk.
As hoof van Knikkie Knakkie Kleuterskool bou sy voort op die fondasie wat voor haar gelê is. Sy is besonder trots daarop dat oudleerlinge nou hul eie kinders aan die skool toevertrou. Haar grootste wens is dat elke kind wat daar instap veilig, geliefd en waardevol sal voel, en sal weet dat iemand luister, omgee en in sy of haar potensiaal glo.
Domonique Pfister, Kleinspoortjies, Hennopspark

Domonique Pfister is ʼn graad RR-juffrou by Kleinspoortjies in Hennopspark. Sy het haar reis in 2020 as intern by Laerskool Hennopspark begin en is in 2022 as graad RR-juffrou aangestel. Vandag is sy reeds ses jaar deel van die Hennopspark-familie.
In haar Kameelperdklas is liefde die eerste doel. Domonique glo dat ʼn kind eers veilig en geliefd moet voel voordat ware leer kan plaasvind. Daarom maak sy tyd vir ʼn drukkie, om opreg te luister en om elke kleintjie te verseker dat hy of sy raakgesien word. Vir haar is die graad RR-jaar die plek waar kinders leer dat skool ʼn veilige hawe is, leer ʼn avontuur is en vriendelikheid altyd wen.
Bly ingeskakel vir die aankondiging van die wenner!
Onderwysers speel ʼn belangrike rol in die vorming van ons kinders se toekoms. Daarom wil Solidariteit se Onderwysernetwerk graag diegene vereer wat as inspirasie vir ander onderwysers en hul leerders dien.
Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en word deel van ʼn netwerk wat jou ondersteun! Onderwyser, jy hoort hier!