Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Onderwyser van die Jaar: Hier is die laerskole se top-10-finaliste
Laerskoolonderwysers lê elke dag die fondasie waarop kinders se kennis, selfvertroue en karakter verder gebou word. Van die eerste skooldag tot die laaste eksamen voor hoërskool staan hierdie onderwysers gereed om te leer, aan te moedig en te ondersteun. Solidariteit se Onderwysernetwerk vereer graag vanjaar se Onderwyser van die Jaar-finaliste in die laerskoolkategorie.
Hier is vanjaar se toptienkandidate in geen spesifieke volgorde nie:
Celeste Wentzel, Laerskool Rapportryer

Celeste Wentzel is ʼn passievolle opvoeder, leier en lewenslange leerder. As graadhoof van graad 1 by Laerskool Rapportryer in Randfontein is sy bekend vir haar toewyding, kreatiewe denke en liefde vir die onderwys.
Haar meestersgraad in IKT in Onderwys weerspieël haar belangstelling in tegnologie, kunsmatige intelligensie, spelgebaseerde leer en inklusiewe onderwys, veral vir neurodiverse leerders. Sy het reeds die eerste plek in Gauteng-Wes vir uitnemendheid in tegnologieondersteunde onderrig en leer behaal. Vir Celeste lê ware leierskap daarin om ander op te hef, met integriteit te dien en ʼn nalatenskap van hoop, kennis en uitnemendheid te laat.
Carly Ackerman, Laerskool Tini Vorster

Carly Ackerman is reeds 14 jaar in die onderwys en was nog nie een dag spyt oor haar beroepskeuse nie. Sy beskik oor ʼn BEd-graad in die Intermediêre en Senior Fase en is tans die graadhoof van graad 6, waar sy Afrikaans Huistaal, Lewensvaardighede en Liggaamsopvoeding aanbied.
Carly het in die Charlotte Theron-kinderhuis in Bethlehem grootgeword. Haar eie lewenspad inspireer haar om kinders te leer dat hulle meer werd is as wat die wêreld hulle soms laat glo. Sy wil hê elke leerder moet haar klaskamer as ʼn veilige hawe ervaar en weet: Jy is raakgesien, jy is waardevol en iemand glo in jou.
Monique du Plessis, Laerskool Danie Malan

Monique du Plessis gee vandag skool by dieselfde laerskool waar haar droom om ʼn juffrou te word as graad 1-leerder begin het. Ná sewe jaar in die onderwys poog sy steeds om nie net kennis oor te dra nie, maar ook om die harte en gedagtes van haar leerders aan te raak.
Sy is bekend vir haar sagte moederhart en met haar geduld, vriendelikheid en kreatiwiteit skep sy ʼn warm klaskamer waar elke kind veilig, waardevol en bemagtig voel. Monique wil meer as net ʼn opvoeder vir haar leerders wees. Sy streef daarna om ook ʼn mentor, veilige hawe en rolmodel vir hulle te wees.
Yolandé Coertze, AJ Jacobs Primary School

Yolandé Coertze is reeds 15 jaar in die onderwys en hou die afgelope nege jaar vir die graad 3-klas by AJ Jacobs Primary School in Sasolburg skool. Sy vier graag elke tree wat haar leerders vorentoe gee, veral die trots op ʼn kind se gesig wanneer hulle iets wat aanvanklik onmoontlik gelyk het, uiteindelik tog regkry.
Elke kind is vir haar uniek en verdien persoonlike aandag. Deur die Angel Wings-inisiatief help sy saam met kollegas om leerders wat finansieel swaarkry met noodsaaklikhede, skryfbehoeftes en ʼn Kersbederf te ondersteun. Sy is ook by atletiek en netbal betrokke en wil bo alles verseker dat kinders, ongeag hul huislike omstandighede, geliefd en veilig voel.
Elzé Taylor, Laerskool Danie Malan

Vir Elzé Taylor beteken graad 1 veel meer as om klanke, syfers en leesvaardighede aan te leer. Dit is ʼn voorreg om kinders se eerste tree in hul formele skoolloopbaan te help vorm. Elke oggend maak sy doelbewus oogkontak met haar leerders sodat elkeen weet: Juffrou sien my.
Omdat kinders verskillend leer, gebruik sy praktiese onderrigmetodes en stasierotasie in kleiner groepe. As graadhoof, lid van die skoolbestuur en netbalorganiseerder dra sy verskeie verantwoordelikhede, maar die kind voor haar bly haar fokus. Sy wil ʼn veilige plek skep en ʼn fondasie bou waarop elke leerder lewenslank kan voortbou.
Frikkie Breedt, Laerskool Boerefort

Frikkie Breedt het ná 23 jaar in Korrektiewe Dienste ʼn nuwe roeping in die onderwys gevind. Hy het op 46-jarige ouderdom deur Unisa begin studeer en het sy BEd-graad in 2021 voltooi.
Sy passie is om jongmense se lewens te verander en hy geniet dit om kinders te sien glimlag. Buite die klaskamer is hy reeds tien jaar lank ʼn BBRU-skeidsregter. Hy rig ook rugby, atletiek, krieket en muurbal af en bly self aktief deur muurbal te speel en die buitelewe te geniet.
Rolien Litthauer, Curro Brackenfell Primary

Rolien Litthauer is reeds nege jaar lank ʼn juffrou by Curro en haar hart lê by graad R. Sy geniet dit om deel te wees van kinders se eerste tree in hul skoolloopbaan, hul groeiende selfvertroue en daardie klein oomblikke wanneer iets skielik sin maak.
Vir haar gaan onderrig oor meer as akademie. Sy wil ʼn sterk fondasie bou waar kinders geliefd, veilig, selfversekerd en opgewonde oor leer voel. Op die sportveld leer sy hulle ook spanwerk, deursettingsvermoë, respek en sportmanskap. Verder ontwerp sy hulpbronne vir ander onderwysers en deel dit op haar platform, Teaching Wildflowers, om mede-onderwysers te help om hul passie te behou.
Marizet Richardson, Laerskool Magalieskruin

Marizet Richardson is ʼn passievolle en kreatiewe laerskoolonderwyseres. As graad 3-graadhoof en Lewensvaardighede-vakbeplanner soek sy voortdurend na nuwe maniere om leerders te inspireer en hul volle potensiaal te ontwikkel.
Haar liefde vir die kunste kom tot uiting in haar werk as redenaars- en revue-organiseerder en in die dramatiese, lewendige manier waarop sy lesse aanbied. Sy glo dat leer pret, betekenisvol en onvergeetlik moet wees. Sy rig ook netbal, tennis en atletiek af en wil elke leerder help om sy of haar eie unieke lig te laat skyn.
Sharon Palvie Swart, Dorothea Spesiale Skool

Sharon Palvie Swart is reeds in haar 26ste jaar van onderwys. Sy beskik oor ʼn BEd-graad in Grondslagfase, ʼn N6-diploma in Educare en verskeie musiektoekennings. Haar ervaring strek oor kleuterskole, privaat en hoofstroomskole en, tans, spesiale onderwys.
Elke omgewing het haar geleer dat elke kind waardevol is en kan groei wanneer iemand in hom of haar glo. Vir Sharon gaan onderwys oor verhoudings, respek en liefde, en oor die moed om kinders groter te laat droom as wat hulle moontlik geag het. Haar geloof, gesin en passie vir mense is die dryfkrag agter alles wat sy doen.
Sharleze van der Merwe, Laerskool Dalview

Sharleze van der Merwe is ʼn ma van drie, ʼn predikantsvrou en ʼn onderwyseres wat glo dat elke mens met ʼn unieke doel geskape is. Haar geloof vorm die fondasie van haar lewe en haar roeping by die skool en in die kerk.
Sy glo dat die onderwys veel meer as handboeke, somme, toetse en punte behels. Sy wil kinders leer om in hulself te glo, ander met liefde en respek te behandel, verantwoordelikheid te neem en hul eie waarde te ontdek. Haar doel is nie net om kennis oor te dra nie, maar om waardes te plant wat leerders lank ná hul tyd in haar klaskamer sal saamdra.
Bly ingeskakel vir die aankondiging van die wenner!
Onderwysers speel ʼn belangrike rol in die vorming van ons kinders se toekoms. Daarom wil Solidariteit se Onderwysernetwerk graag diegene vereer wat as inspirasie vir ander onderwysers en hul leerders dien.
Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en word deel van ʼn netwerk wat jou ondersteun! Onderwyser, jy hoort hier!